1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7445070

Besoekers aanlyn

Ons het 91 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

‘n KONINKRYK VAN GEREGTIGHEID

BybelJes. 9:1-6 “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid.  Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” (:5&6).

Geliefdes, laat ons saam met Dawid die HERE se lof uit Psalm 7:18 besing – “Ek wil die HERE loof na sy geregtigheid en die Naam van die HERE, die Allerhoogste, psalmsing.” Die deugde wat hierin vermeld word, is dan ook die deugde waarvan ons in ons Skrifgedeelte uit Jesaja 9 lees – geregtigheid.  Ja, ons lees in Jesaja 9 dat die HERE Sy koninkryk deur reg en deur geregtigheid versterk.  Die HERE bevestig hierdie waarheid vir ons in Ps. 89:15.  “Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon;...”.  En dan word dit weereens in Ps. 97:2 vir ons onderstreep.  “Wolke en donkerheid is rondom Hom; geregtigheid en reg is die grondslag van sy troon.” Dit is dus vir ons duidelik dat geregtigheid en reg die fondament vorm waarop die koninkryk van die HERE gebou word en waardeur dit versterk word.

U wonder dalk nou wat hierdie kennis dan nou vir ons só besonders maak.  Wel, indien ons liefde vir die HERE eg is, sal ons tog wil sien dat Sy koninkryk ewig bestaan.  Ons sal tog wil sien dat Sy koninkryk versterk word.  En dit lê op ons die verantwoordelikheid om dit wat tot voordeel en versterking van God se koninkryk is ook in ons eie lewens na te streef.  Die HERE het dit vir ons in soveel woorde self kom leer.  “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6:33).  Ja, ook in Matt. 5:6 lees ons van Christus se saligspreking hieroor.  “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” 

Geliefdes, ons onderskat menigmaal die kragtige uitwerking om gewoon te doen wat reg is.  Dink maar aan die kragtige uitwerking van Christus se dood aan die vloekhout.  Dit het menslikerwys na ‘n absolute hopelose situasie en totale neerlaag op daardie stadium gelyk.  Maar omdat dit in ooreenstemming met God se reg en geregtigheid was, was dit die grootste oorwinning wat ooit in die wêreld se bestaan behaal is en ook ooit behaal sal word.  En só beskou, verstaan ons dalk ‘n bietjie beter waarom God so ‘n geweldige groot behae in geregtigheid het.  “Hy het geregtigheid en reg lief;...”.  (Ps. 33:5).     Ja, uit elke nasie is Sy welgevalle in diegene wat geregtigheid doen.  “maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.” (Hand. 10:35).  

Die Woord van die HERE onderrig ons breedvoerig in die groot welbehae wat God in geregtigheid het.  Ja, uit Psalm 45:8 word ons deur die mond van die kinders van Korag hierin onderrig.  “U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid.  Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.”  En uit Psalm 106:3 hoor ons die volgende – “Welgeluksalig is hulle wat die reg bewaar, die wat altyd geregtigheid doen.” En deur die mond van die wyse koning Salomo word hierdie waarheid ook in Spreuke 15:9 aan ons geleer.  “Die wandel van die goddelose is vir die HERE ‘n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief.” En watter mooi belofte gee die HERE nie in Jesaja 33:15&16 aan diegene wat in geregtigheid wandel nie.  “Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat gewin deur afpersinge versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie – hy sal op hoogtes woon, rotsvestings is sy burg; sy brood word hom gegee, sy water is gewis.” 

Geliefdes, in Spreuke 15 word die goddelose in direkte teenstelling geplaas met hom wat geregtigheid doen.  En hierdie vyandskap tussen geregtigheid en goddeloosheid word ook in Handelinge 13:10 gestel.  “Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?”  En uit 2 Kor. 6:14 stel die HERE dit ook vir ons duidelik dat daar tussen die ongeregtigheid en geregtigheid geen deelgenootskap is nie.  “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?” 

Geliefdes, mag ons liefde vir die HERE die begeerte om geregtigheid te soek ook daagliks laat toeneem.  Ja, mag dit wees dat ons nie alleen kennis dra van dit wat vir die HERE welbehaaglik is nie, maar ook met ywer daarna streef om dit wat Hom welgeval ook te doen.  “En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem,” (2 Kor. 9:10).

Amen. 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie