Ps. 94:1-23 “Die HERE ken die gedagtes van die mense – dat hulle nietigheid is.” (:11).
Geliefdes, hoe onbegryplik vir ons om te bedink dat daar vir die HERE absoluut niks, niks op hierdie aarde verborge is nie. Ja, ons diepste gedates is nie eers vir Hom verborge of ‘n geheim nie. God weet nie alleen wat in ons gedagtes omgaan nie, maar Hy hou ons gedagtes met belangstelling dop – Hy toets ons gedagtes! “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23&24).
Die HERE verstaan dan ook beter as enigeen hoedat verkeerde gedagtes die mens se lewe beïnvloed – en bederf! Ja, sedert die vroegste tye van die mens se bestaan hier op aarde het die mens met hierdie probleem van verkeerde gedagtes te kampe gehad. “Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.” (Gén. 6:5&6). En dit het die HERE bedroef dat die mens homself met sulke verkeerde gedagtes besig hou.
Geliefdes, ons moenie dink dat die oortredinge in ons gedagtes nie so erg is gewoon omdat ander mense dit nie kan sien of nie daarvan weet nie. Ons sien uit Génesis 6 dat die slegte versinsels van die mens se hart God bedroef. Ons lees ook in Psalm 36 waar Dawid oor die goddelose mense se oortredinge spreek. En hier noem hy verskillende oortredinge waaronder ‘n gebrek aan vrees vir God, bedrieglike woorde en ook die onreg wat hierdie mens bedink! “In die binneste van my hart sê die oortreding aangaande die goddelose: Daar is geen vrees van God voor sy oë nie. Want dit vlei hom in sy oë in verband met die uitvind en haat van sy skuld. Die woorde van sy mond is onreg en bedrog; hy laat ná om verstandig te wees, om goed te doen. Hy bedink onreg op sy bed; ...” (Ps. 36:2-5). Ons lees verder in Eségiël 11 waar God aan die profeet ‘n opdrag gee om teen mense te profeteer. En luister mooi waarvan hulle onder andere deur God beskuldig word – “Toe sê Hy vir my: Mensekind, dit is die manne wat ongeregtigheid bedink en slegte raad gee in hierdie stad,” (Eség. 11:2).
Dit is dan ook geen wonder dat die HERE vir ons uit soveel gedeeltes uit Sy Woord rondom hierdie saak onderrig nie. Ons lees in Jesaja 55 van “Die dringende uitnodiging.” Hierin nooi God die mens dringend uit om na Hom te kom. En hierin beveel die HERE die mens nie alleen om sy verkeerde gedagtes te laat staan nie, maar onderrig Hy ons ook dat Sy gedagtes geheel en al van ons nietige gedagtes verskil. “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.” (Jes. 55:7-9). Ons lees verder in Jesaja 59 waar die HERE teen hierdie oortreding waarsku en hierin sien ons ook dat die mens wat verkeerde gedagtes koester eindelik heeltemal verdwaal! “Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet; hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in hulle paaie. Daarom is die reg ver van ons en bereik die geregtigheid ons nie; ons wag op lig, maar kyk, daar is duisternis; op 'n helder skynsel, maar ons wandel in dikke donkerheid. Ons tas rond langs die muur soos blindes, en soos die wat geen oë het nie, tas ons rond; ons struikel op die middag soos in die skemeraand; ons is onder die gesondes soos dooie mense.” (Jes. 59:7, 9&10).
Geliefdes, die skerp bestraffing van Christus teenoor Petrus in Matt. 16:23 uitgespreek laat ons byna sidder. “Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.” Die wortel van jou verkeerde optrede is in jou gedagtes wat verkeerd is, Petrus! Hierdie woorde laat ‘n mens amper verslae oor hoe skerp die HERE Petrus aanspreek omdat hy die verkeerde dinge bedink het. En net so skerp spreek die woorde van die HERE uit Romeine 8 elke een van ons aan. So word dan ook die belangrikheid van die regte gedagtes vir ons onderstreep as ons met alle eerlikheid en opregtheid daarna streef om die HERE te behaag. “Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;” (Rom. 8:5-8).
Geliefdes, kom ons neem die HERE se raad uit Fil. 4:8 in hierdie verband ter harte. Maar kom ons neem ook hierdie opdrag uit die Woord van die HERE ernstig op. Dit is tog ook ‘n insetting wat Hy vir ons gee wat ons moet probeer gehoorsaam. “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”
Ek groet u vanoggend met die woorde van die HERE uit Kol. 3:2:” Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.”
Amen.