Afrikaner

DIE GAWES UIT SY HAND

Bybel1 Tim. 6:3-21

“Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle 'n skat weglê, 'n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.” (:17-19).

Geliefdes, gee tog ag op die kosbare lering uit die Woord van die HERE.  Hy leer aan ons so ‘n kosbare les rondom die hantering van die gawes wat ons uit Sy Hand ontvang.  In ons teksgedeelte handel dit hoofsaaklik oor hoe ons rykdom behoort te hanteer wanneer dit uit Sy Hand aan ons geskenk word. 

Dit kom voor asof die woorde uit 1 Tim.6 met Christus se woorde uit Markus 10 teenstrydig is.  “...maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan!  Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.”   (Mark. 10:24&25).  Dit klink dan asof dit totaal onmoontlik is vir ‘n mens wat rykdom besit om die koninkryk van God te beërwe.  En daarenteen leer ons uit 1 Tim. 6 hoedat die mens die gawe van rykdom behoort te hanteer sodat sy ewige saligheid nie in gevaar gestel word nie.  En hierdie woorde weerspreek glad nie die woorde van Christus uit Markus 10 nie.  Wanneer ons verder na Christus se woorde uit Markus 10 luister, sien ons dat die woorde uit die twee gedeeltes hierdie saak bevestig.  “En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word?  Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.” (Mark. 10:26&27).  Dit is vir God alleen moontlik om ‘n mens te red – ryk of arm!  Daar is baie arm mense wat nie gered is nie en daar is wel ryk mense wat tog gered is.  Maar daar is nie ‘n enkele mens, ryk of arm, wat sonder Christus gered word nie.    

Die waarskuwing uit Markus 10 stel hierdie saak tog vir ons duidelik.  Die mens moet baie, baie versigtig wees, omdat hy deur die gawe van rykdom maklik kan struikel.  Die mens is daartoe geneig om van sy afhanklikheid van God te vergeet.  En voorspoed en rykdom het maklik tot gevolg dat daar by die mens ‘n misplaaste vertroue ontstaan.  “...as die vermoë aangroei, sit daar die hart nie op nie!” (Ps.  62:9).  Die mens begin toenemend voel dat hy deur sy eie krag en rykdom sy eie heil kan uitwerk en sy eie lot kan bepaal.  Dit is dan juis ook teen hierdie groot gevaar, hierdie oortreding, waarteen die Woord van die HERE ons waarsku.  Die mens wat sy vertroue op enigiets anders as die HERE stel, verloën Hom en sal ten gevolge hiervan die weg van saligheid nie vind nie.  “As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue! As ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het; as ek die sonlig aangesien het wanneer dit helder skyn en die maan wat so pragtig daarheen gaan, en my hart heimlik verlei is, en ek met my hand hulle 'n kus toegewerp het — ook dit sou 'n strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het.” (Job 31:24-28).

Die voorbeelde van ryk mense soos Dawid, Job en Abraham is vir ons bevestigend, geliefdes.  Hierdie manne het rykdom as gawe van die HERE ontvang.  Maar hulle het nie hierdie gawe meer as vir God liefgehad nie.  En hulle het ook nie meer vertroue in hul rykdom as in die HERE gestel nie.  Hulle vertroue was steeds op Hom gestel en die grootste liefde in hul lewens was steeds hul liefde vir Hom.  Hulle het verstaan dat hulle rykdom ‘n gawe van die HERE is.  Hulle het deurgaans onthou dat hul krag nie in hulself of in hul rykdom is nie, maar dat hulle krag in die HERE is.  “En hy het gesê: Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte.” (Ps. 18:2).  En omdat hierdie mense hul vertroue in die HERE gestel het, het hul die krag gehad om die verleiding van die sonde wat maklik deur rykdom voorgebring word te weerstaan.  En hierdie krag in die HERE, eerder as hul eie krag of enige rykdom, is dan ook wat as beskutting van hul ewige saligheid gedien het.  

Geliefdes, ek glo dat dit vir ons duidelik is dat ‘n gawe uit God se hand nie sondermeer sonde kan wees nie.  Maar dat die wyse waarop ons as mense hierdie gawes uit God se Hand hanteer, tot sonde of tot eer en welbehae van God is.  En ek hoop dat dit vir ons elke een ewe duidelik is dat ‘n mens wat die gawe van rykdom van God ontvang met alle ywer moet werk om te verseker dat hy deurgaans van sy afhanklikheid van die HERE bewus bly.  Moenie u rykdom gebruik om u eie aansien en eer te probeer vermeerder nie.  Al die eer in hemel en op aardie kom die HERE toe – waarom sou u daarvan vir uself wil eien?  Moenie u rykdom probeer gebruik om ander mense te probeer beïndruk nie.  Die HERE beveel ons om die gawe van rykdom ook tot ander se voordeel aan te wend en nie om hulle bewondering vir ons te probeer wek nie.  Moenie u rykdom gebruik om só onafhanklik in hierdie lewe te probeer raak dat u later sou begin dink dat u selfs sonder die HERE kan klaarkom nie.

Die HERE waarsku ons nie vir geen rede teen die gevaar van rykdom vir die mens in sy sondige natuur nie.  Hy leer egter ook aan ons dat ons deur Sy krag en genade wel hierdie gawe tot Sy welbehae kan gebruik.  Ja, duidelik word aan ons die riglyn gegee om te onthou dat elke een wat in Hom bly nie die begeerlikheid van die vlees volbring nie.  “...Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;” (Gal.5:16).

Amen.