1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7095850

Besoekers aanlyn

Ons het 18 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

WAARIN Lê ONS STEUN?

Bybel2 Kron. 13:1-22 “En die kinders van Israel is in dié tyd verneder, maar die kinders van Juda het sterk geword, omdat hulle op die HERE, die God van hulle vaders, gesteun het.” (:18).

Geliefdes, voordat ons behoorlik ons oë kon uitvee is nog ‘n jaar agter die rug.  En so gaan ons ‘n nuwe kalenderjaar tegemoet.  En die koms van ‘n nuwe jaar gaan mos vir die meeste mense met baie voornemens en verwagtinge gepaard.  Ek vind dit wel in persoonlike hoedanigheid baie vreemd dat mense van mening is dat die blote verandering van die jaartal hoegenaamd ‘n invloed op hul omstandighede kan hê, maar dit daar gelaat.   

Wanneer ‘n mens in ‘n voertuig reis en besef dat jou rigting verkeerd is, sal dit nodig wees om die voertuig in ‘n ander rigting te stuur ten einde die gewenste bestemming te bereik.  Die voortsetting van jou reis op dieselfde wyse en in dieselfde rigting, maar net op ‘n ander dag, sal jou steeds by die verkeerde eindbestemming uitbring.  En so moet mense ook besef dat ‘n verandering in omstandighede deur verandering in gedrag, besluite en optrede meegebring word en nie gewoon deur verloop van tyd of die omslaan van ‘n kalender blaaitjie nie.

Dit is wel nodig en goed om met tye ons lewens in behoorlike oënskou te neem.  En om aan die einde van ‘n jaar oor ons besluite en lewe van die afgelope jaar terug te kyk, kan vir ons goed wees.  Kom ons dink sommer vandag terug oor ons lewens van die afgelope jaar en beoordeel ons eie lewens en optrede in die lig van ons teksvers van vanoggend.  Geliefdes, tot watter mate het ek en u in die afgelope jaar in ons lewens op die HERE gesteun?  Ja, hierdie opdrag wat vir ons duidelik in die woorde van Spr. 3:5 gegee word.  “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” Kan ek en u met waarheid sê dat ons in die afgelope jaar met ons hele hart op die HERE gesteun het?  Het ek en u die HERE in al ons besluite geken en in erkentenis gehou?  Of het ons op ons eie krag en insig gesteun en die HERE maar net aangeroep wanneer ons eie besluit nie die gewenste resultate opgelewer het nie?  Ons is mos só geneig om hierdie fout te maak – ons wil nie die HERE in ons besluite ken en in waarheid na Sy wil en leiding in ons besluite vra nie.  Maar ons wil die HERE net van ons besluite inlig sodat ons darem voel dat ons Hom om hulp kan vra wanneer ons eie planne dalk nie heeltemal volgens plan verloop nie.  

Geliefdes, ons lees in 2 Kron. 16 van ‘n fout van koning Asa wat duisende jare later steeds deur ons herhaal word.  Koning Asa het die HERE in sy benoudheid aangeroep toe hy deur die Kusiete bedreig is en die HERE het hom gehelp omdat hy op Hom vertrou het.  Maar hierna was koning Asa deur ‘n aanval van die koning van Israel bedreig.  En in plaas daarvan dat hy op die HERE vertrou het, het hy op sy eie krag en die krag van die koning van Aram gesteun.  En die HERE het dit deur die mond van die siener Hanáni te kenne gegee dat Hy hiermee ontevrede was.  “En in dié tyd het die siener Hanáni na Asa, die koning van Juda, gekom en aan hom gesê: Omdat u op die koning van Aram gesteun en nie op die HERE u God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak.  Was die Kusiete en die Libiërs nie ‘n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie?  En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die HERE gesteun het; want die HERE – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel,...” (2 Kron. 16:7-9).  Ons is ewe geneig om in omstandighede waardeur ons geïntimideer word maklik na die hulp van die HERE te vra.  En wanneer Hy ons help, is ons ongelukkig geneig om ‘n misplaatse idee van ons eie vermoëns te vorm en die hulp en ons afhanklikheid van die HERE te vergeet.  En kort voor lank wil ons op ons eie klaarkom en maak soos wat ons wil sonder om met ‘n volkome hart op die HERE te steun.  En hierin handel ons dwaas, soos wat koning Asa dwaas gehandel het om op sy eie vermoë en die hulp van die koning van Aram te steun eerder as op die hulp van die HERE.

Ek is seker dat ek en u met skaamte vanoggend aan oorgenoeg gevalle in die afgelope jaar in ons lewens kan dink waarin ons nie met ‘n volkome hart op die HERE gesteun het nie, geliefdes.  Ons het dalk eerder ons vertroue op ons geld, ons eie insig, vermoë, kundigheid, invloedrykheid of ons vertrouelinge geplaas.  Maar die HERE het hiering geen behae nie, geliefdes.  Onthou hoedat Sy toorn teen Sy volk in die woestyn ontvlam het omdat hulle nie op Sy hulp vertrou het nie.  “Daarom het die HERE gehoor en toornig geword, en ‘n vuur is aangesteek teen Jakob, en toorn het opgegaan teen Israel; omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie.” (Ps. 78:21&22). 

Die HERE het ‘n behae daarin dat ons met ons hele hart, met ‘n onverdeelde hart, op Hom sal vertrou!  Ja, hiervan getuig die kinders van Korag ook in Psalm 44.  “Want ek vertrou nie op my boog nie, en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie; maar U het ons verlos van ons teëstanders en ons haters beskaamd gemaak.  In God roem ons die hele dag, en u Naam sal ons loof tot in ewigheid. Sela.” (:7-9).  

Geliefdes, mag ons van hierdie dag af vir die res van ons lewens daarna streef om met ‘n volkome hart, elke dag, op die HERE, die lewende God, te vertrou.  Ek groet u vandag met die woorde uit Psalm 84:13:”HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!”  

 

AMEN

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie