2 Kron. 26:1-23
“En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Amásia gedoen het. En hy het God gedurig gesoek in die dae van Sagaría, wat onderrig gegee het in die vrees van God. En in die dae dat hy die HERE gesoek het, het God hom voorspoedig gemaak.” (:4&5).
Ons lees gedurig in die geskiedenis van die konings van Israel van daardie konings wat van God afvallig geraak het. En dan lees ons andersyds ook weer van daardie konings wat na God gesoek het. En hierdie konings se ryk was dan voorspoedig teenoor daardie konings wat van die HERE afvallig geword het en wie se koninkryke eindelik ten gronde gegaan het.
Dit is in 1 Kronieke 28:9 waar ons lees van Dawid wat ook sy troonopvolger, sy seun Salomo, vermaan om na die HERE te soek. “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ‘n volkome hart en met ‘n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.”
Geliefdes, hoe sal ons die HERE vind? Waar sal ons na Hom soek? Moet ons na die uithoeke van die aarde gaan of tot in die hemel opklim om Hom te probeer bereik? Die Woord stel dit tog duidelik aan ons wat dit beteken om na die HERE te soek. Dit is om met ‘n opregte en volkome hart na die welbehae van die HERE te soek. Dit is om te soek en in opregtheid te vra na wat daardie dinge is wat vir die HERE behaaglik is en wat daardie dinge is waarvan Hy ‘n afsku het. En daarmee saam moet ons met opregte ywer daardie dinge waarvan die HERE ‘n afksu het, vermy. En ook daardie dinge wat vir Hom aanneemlik is, najaag. Ja, om die HERE te soek beteken nie alleen om kennis van Hom op te doen nie. Dit sluit ook in dat ons onsself ywerig daarop sal toespits om in gehoorsaamheid voor Hom te leef. Ons lees in 2 Kron. 14:4 hoedat Asa die volk van God hierin bevel gee. “en aan Juda gesê om die HERE, die God van hulle vaders, te soek en om die wet en die gebod te doen.”
Ons lees in Jesaja 58 hoedat die HERE die volk skerp aanspreek oor die verkeerde wyse waarop hulle “na God soek.” Ja, Hy laat dit in hierdie gedeelte duidelik blyk dat Hy ‘n groot afsku van ‘n oppervlakkige godsdienstigheid het. Hy verwag toewyding van Sy kinders, ja ‘n opregte begeerte en wil om Hom te gehoorsaam en te dien en nie maar bloot dat ons kennis van Hom moet opdoen nie. “Wel soek hulle My dag vir dag en het ‘n behae in die kennis van my weë! Soos ‘n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ‘n behae in die toenadering tot God. Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos’n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en ‘n dag wat die HERE welgevallig is? Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdtuktes en elke juk stukkend breek?” (Jes. 58:2,5&6).
Daar is dalk baie van ons wat vandag in waarheid kan sê dat ons met ‘n opregte hart na die HERE soek. Ja, baie van ons wat soek na dit wat die HERE welgevallig is en probeer om Hom hierin te gehoorsaam. Maar ek dink dat daar net so baie van ons is wat ook soos koning Ussía in ons eie hoogmoed en eiesinnigheid struikel. Ja, dit gaan goed in hierdie voorneme van ons wanneer ons probleme en teëspoed het, maar wanneer ons voorspoed en sukses groot raak, wanneer ons soos koning Ussía ook sterk raak, wil ons al te graag self beheer van ons lewens neem. “Maar toe hy sterk geword het, was sy hart hoogmoedig, sodat hy baie verkeerd gedoen en ontrou gehandel het teen die HERE sy God;...” (2 Kron. 26:16). Ons wil dan graag op die voorgrond wees en die HERE na die agtergrond skuif om na ons eie wil, planne en begeertes te wandel eerder as wat ons in opregtheid na die wil van die HERE wil vra.
Geliefdes, die tyd waarin ons leef het talle versoekings en baie dinge wat ons harte maklik kan verlei. Ja, daar is soveel dinge waarna ons só maklik kan soek eerder as om in waarheid na God te soek. Daar is die genot van vermaak en sport, die verleiding om agter ons rykdom en eer aan te jaag as om die eer van God te soek. En daar is die oneindige vermaak van die televisie en internet wat ons tyd tot so ‘n mate in beslag neem dat dit ons geheel daarvan weerhou om na God te soek. Ja, ons is dalk só besig hiermee dat die woorde in Romeine 3 in ons dae ook kommerwekkend toepaslik is. “soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” (Rom. 3:10-12).
Ek sluit vandag af met die woorde van onse Here Jesus Christus uit Matt. 6:33 wat ons daaraan herinner om bo alles in ons lewe na God te soek. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Amen.