Joh. 3:22-36
“Hy moet meer word, maar ek minder.” (:30).
Geliefdes, wat ‘n pragtige belydenis van Johannes wat ons vanoggend kan aanhoor. En weliswaar ook ‘n belydenis wat ons baie, baie meer in die tyd waarin ons leef behoort te hoor. Ja, die humanisme wat die samelewing oorspoel, ja ongelukkig ook in baie sogenaamde kerke die oorhand kry, verkondig presies die teenoorgestelde van hierdie belydenis. God moet volgens hierdie kettery van humanisme minder word, sodat ék, die wonderlike mens, meer kan word. Ja, God word deur hierdie dwaling van Sy Goddelike troon as hoogste gesag in die mens se gedagte verwyder sodat die mens as sy eie “god” kan optree. Die enigste “plek” wat God in hierdie verwerplike dwaling gebied word, is om as ‘n dienskneg om aan die mens se eise en bevele te voldoen.
Geliefdes, dit wat ek hierbo i.t.v. humisme stel, klink dalk vir baie van u ‘n bietjie oordrewe. Ek wil dan vir u vra – hoe lyk die gemiddelde mens se gebede vandag? Luister tog mooi hierna. Ja, luister tog mooi na dit wat mense kwytraak in allerhande geestelike video’s wat gemaak en op sosiale media versprei word. Dit handel hoofsaaklik oor die swaarkry, probleme of slegte toestand van mense en wat God hieraan behoort te doen. Of dit is iets wat grens aan ‘n motiveringspraatjie wat ons net tot positiwiteit maan. Ons moenie vir een oomblik dink dat die wonderlike mens iets verkeerd doen of teen God sondig nie! Nee, die mens van ons tyd is bo sondebesef verhewe – amper asof hy ‘n “god” is wat nie kan sondig nie.
Kan u onthou wanneer laas u ‘n video ontvang het of iemand in opregtheid hoor bid het met ‘n besorgdheid oor daardie dinge wat vir God belangrik is? Wanneer laas het u iemand hoor bid oor dinge ander as die aardse voorspoed, geluk en weelde? Hoeveel maal ontvang u ‘n video op sosiale media oor teespoed wat die mensdom tref wat u laat besin oor u eie lewe voor God eerder as om net te probeer om “positief” te bly en nie enige oorweging aan die moontlikheid te skenk dat die mensdom dalk hierdie straf en slae uit God se Hand verdien omdat die mens Hom in sy daaglikse handel en wandel vertoorn nie. Ons sal hoor, nee, maar God is ‘n God van liefde en sal nooit só iets doen nie. Dit is die duiwel se werk. Sê ons hierdeur dat die Satan enige mag groter as God het? En matig ons as mens onsself wragtig aan om vir God te besluit wat Hy sal doen en nie sal doen nie?! Hy stel dit tog glashelder in Sy Woord dat Hyself ook onheil teen die sondige mens bewerk. “...Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?” (Amos 3:6).
Ek wil egter nie onophoudelik oor die dwaling en kettery van die humanisme praat nie, geliefdes. Maar ek wil u vandag vermaan dat ons as kinders van God daarteen moet waak om nie hiermee besoedel te word nie. Ons moenie hieraan gewoond raak sodat ons nie meer die veragtelikheid daarvan sal raaksien nie. Ja, ons moet dit voor oë hou om nie soos die wêreldling elke dag al meer in ons eie lewens te probeer word en God al minder in ons lewe te laat geld nie. Ons moet daareenteen elke dag daarna streef om self al minder in ons eie lewens te raak en God al groter in ons lewens te laat word. Ja, ons moet volgens die pragtige getuienis van Johannes ook elke dag in ons eie lewe al minder word sodat Hy al meer in ons lewens kan word.
Geliefdes, ons word ook deur die brief van Paulus aan die Romeine hierin onderrig. Ons leer in Rom. 6:11:”So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” Ja, in teenstelling met die humanisme wat leer dat ons ons sondige, vleeslike begeertes moet koester en aan God bevele gee om hieraan te voldoen, leer die Woord van die HERE vir ons om vir hierdie vleeslike begeertes dood te wees en na ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God te streef. Ja, hierdie bevel om ‘n lewe wat in gehoorsaamheid aan God gewy word, word ook in 2 Kor. 4:10 aan ons gegee. “Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word.”
Geliefdes, ‘n lewe vir God waarin Hy al méér word en ekself al minder, is nie iets wat ons op een dag of op ‘n bepaalde uur besluit en afhandel nie. Dit is iets wat wel ons hele lewe, ons hele lewensbeskouing, ons begeertes, ons strewes vanaf ‘n bepaalde uur vorentoe verander. Dit is iets wat ons dag na dag tot en met ons verskyning voor die Aangesig van God, moet nastreef. Ja, geliefdes, ons sal hierin struikel, want ons is nie volmaak nie. Ons is nie sondeloos nie. Ons is nie God nie. Ons sal vind dat sommige van ons vleeslike begeertes meer as een maal gekruisig word omdat dit telkens weer kop uitsteek. Maar ons moet volhard daarin om hierdie vleeslike begeertes te bestry en ons eie sondige vlees te kruisig terwyl ons daarna streef om ook in opregtheid en waarheid soos Paulus in Gal. 2:20 te mag bely. “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”
Amen.