Ps. 10:1-18 “Sy mond is vol van vloek en van bedrog en verdrukking; onder sy tong is moeite en onreg.” (:7). Geliefdes, die psalmdigter beskryf vir ons die woorde uit die mond van ‘n goddelose mens. Ja, ‘n mens wat God nie in sy hart vrees en liefhet nie se woorde getuig ook hiervan. Ja, onse Here Jesus Christus onderrig vir ons in Lukas 6:45 dat ‘n mens se woorde tot ‘n groot mate getuienis lewer van wat in daardie mens se hart aangaan. “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.
” Geliefdes, die goddelose rig met sy mond verderf en vernieling in God se Skepping hier op aarde aan. Hy gee nie om om op onverskillige wyse die harte van ander mense te laat bloei nie. “Daar is een wat onverskillig woorde uitsreek soos swaardsteke, ...” (Spr. 12:18). Koning Dawid het ook tot God geroep teenoor sulke mense onder wie hy groot ellende gely het. “Ék moet onder leeus lê, wraakgieriges, mensekinders wie se tande spiese en pyle is, en wie se tong ‘n skerp swaard is.” (Ps. 57:5). Ja, ons lees ook in Spreuke 11 van die verderf en vernieling wat deur die mond aangerig kan word. “Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf, ...” (Spr. 11:9). “Deur die seën van die opregtes kom ‘n stad op, maar deur die mond van die goddelose word dit afgebreek.” (Spr. 11:11).
Die goddelose het geen agting en respek vir God nie en daarom is daar vir hom geen kwelling oor die verderf en vernieling wat hy aan God se Skepping deur ‘n onverskillige lewe en onverskillige mond aanrig nie. Die goddelose laat sy mond los in boosheid en bedrog en dink nie daaraan dat hy God hierdie vertoorn nie. “Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond – terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp? As jy ‘n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers. Jou mond laat jy los in boodheid, en jou tong vleg bedrog. Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy.” (Ps. 50:16-20).
Geliefdes, die gelowige kind van God se woorde, net soos sy lewe, sien heeltemal anders daaruit as dié van ‘n goddelose. Die woorde van die goddelose is vol vervloeking, verderf en vernieling, maar die woorde van die kinders van God is tot genesing, verkwikking en seën. Ja, die kind van God weet om sy tong te bewaar van wat verkeerd is en sy lippe van bedrog te weerhou. “Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe. Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie.” (1 Pet. 3:9&10).
Die gelowige kind van God wat Hom in waarheid liefhet, streef daarna om tot eer van God te leef. Ja, hierdie mens streef voortudurend daarna om God in alles te gehoorsaam. Hierdie mens begeer om as ‘n getroue dienskneg van God hier op aarde te leef. Hierdie kind van God wil in vrede met God leef en betoon respek aan God. ‘n Mens wat geen respek vir ‘n ander het nie sal ook geen probleem daarmee hê om ‘n ander se eiendom of werk te vernietig nie. En dit is juis omdat ons aan God as ons liefdevolle Vader eerbied en die hoogste respek verskuldig is dat ons versigtig moet wees om nie in Sy Skepping vernieling en verderf aan te rig nie.
Ja, ook nie met ons woorde nie! Ons as mense vergeet te maklik dat ander mense ook die werk van God se Hande is. Ons vergeet dat God die mens na Sy Beeld geskape het. En ons rig al te maklik groot skade aan die werk van God se Hande aan. “Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ‘n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.” (Jak. 3:8-10).
Geliefdes, ons almal struikel dikwels in woorde. “Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.” (Jak. 3:2). Dit verander egter niks aan die werklikheid dat God van ons verwag om ag te gee op ons woorde en streng te heers oor dit wat uit ons mond uitgaan nie. Mag ek en u vanoggend opnuut uit God se Woord bewus gemaak word van die belangrikheid om op ons woorde te let. Laat ons saam met Dawid tot God bid om ons in hierdie saak by te staan. “HERE, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.” (Ps. 141:3). Ja, mag ons ook met ywer in ons eie lewens aan hierdie saak werk sodat ons ook in opregtheid tot die Here kan spreek in die woorde van Ps. 19:15:”Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”
Amen.