1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7443777

Besoekers aanlyn

Ons het 17 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

DAAR IS VIR ONS GENESING IN CHRISTUS

BybelLukas 5:17-26

“En daar het manne ‘n mens wat verlam was, op ‘n bed gebring, en hulle het probeer om hom in te bring en voor Hom neer te sit. En toe hulle vanweë die skare geen kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met die bed afsak deur die panne   tussen die mense in en voor Jesus. En toe Hy hulle geloof sien, sê Hy vir hom: Mens, jou sondes is jou vergewe.” (:18-20).

Ons lees hier van ‘n man wat vir geruime tyd deur verlamming aan bande gelê is. Hierdie verlamming sou hom natuurlik van baie dinge in die lewe weerhou. Daar sal baie dinge wees wat hy a.g.v. hierdie verlamming eenvoudig net nie kan doen nie. Hierdie man het egter van Christus gehoor en hom op Jesus beroep om van hierdie verlamming verlos te word. Hy het ‘n vaste geloofsvertroue gehad dat Jesus by vermoë is om hom te verlos – daarom dat hy en die manne wat hom na Jesus neem geen steen onaangeraak laat bly om uiteindelik tot Christus te kom nie. Dit was vir hulle nie ‘n vinnige en maklike besoek en alles was oor en verby nie. Dit het vir hulle gelyk asof hulle nie by Jesus sou kon uitkom nie.

Hulle vaste geloof in die redding wat Christus kan bied, het hulle egter met vasberandenheid laat volhard totdat hulle uiteindelik hierdie verlamde voor Christus kon neerlê. Christus eer hierdie verlamde man vir sy vaste, bewonderingswaardige geloofsvertroue in Hom en staan hom sy versoek toe. Sy geloof word deur Christus beloon. Geliefdes, hoeveel van ons word nie ook in hierdie lewe deur strikke van die satan aan bande gelê nie. Daar is dalk soveel dinge wat ons so graag wil doen om meer Godvrugtig te lewe, maar dit is asof ons deur sekere dinge gewoon verlam word om nie op te staan en dienooreenkomstig te handel nie. Dit is dalk nie ‘n fisiese verlamming nie, maar ‘n

verlamming in ons gemoed wat ons aan bande lê. U het dalk hierdie groot ideaal waardeur u ander kan of wil help, maar word deur vrees vir mislukking aan bande gelê. U word dalk aan bande gelê deur ‘n gevoel van minderwaardigheid. Word u dalk aan bande gelê deur ‘n verslawing waarvan u gewoon nie kan wegkom nie?

Geliefdes, daar is vir u en vir my ook soos vir hierdie verlamde man waarvan ons vanoggend lees nog hoop. Ja, daar is vir u en vir my ook in Christus Jesus genesing. Ons moet egter ook met so ‘n vaste geloof in Christus tot Hom nader. En wel met dieselfde vasberadenheid as hierdie verlamde man waarvan ons in Lukas 5 lees! Ja, want hierdie is ‘n probleem in ons tyd van kitsoplossings. Ons wil een maal of dalk twee maal vinnig ‘n gebed prewel waarin ons God om hulp vra en wanneer ons nie so ‘n vinnige resultaat sien nie laat ons die saak vaar. Ja, ons is soos mense wat omdraai wanneer die groot skare gesien word wat die weg na Christus verspêr in plaas daarvan om geen steen onaangeroerd te laat om uiteindelik voor Hom te verkyn nie. Luister maar na die lering van Christus in Lukas 18 wat Hy deur die gelykenis van die onregverdige regter aan ons bied. “EN Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,” (Luk. 18:1). Ja, die HERE beveel ons ook in Romeine 12:12 om in die gebed te volhard. “...volhard in die gebed.” En in Kolossense 4:2 kry ons dieselfde opdrag van die Here. “VOLHARD in die gebed en waak daarin met danksegging;”

Geliefdes, daar is vir my en vir u vandag steeds hulp, redding en genesing in Christus Jesus. Ons kan soos die verlamde man ons probleme en ons seer wonde na Christus neem in die wete dat daar vir ons in Hom vergifnis, hoop en genesing is. “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5). Geliefdes, ons moet met volharding, met opregtheid en met ‘n ongeveinsde en vaste geloof tot Hom nader. Indien hierdie dinge ontbreek, sal ons verwagting ongelukkig teleurstel. “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie – “ (Jak. 1:6&7).

Geliefdes, mag ons geloof in Christus Jesus ook soos in die lewe van die ryk man ryklik beloon word sodat God se Naam daardeur verheerlik mag word. “En verbasing het almal aangegryp, en hulle het God verheerlik en is met vrees vervul en het gesê: Ons het vandag ongelooflike dinge gesien.” (Luk. 5:26).

AMEN

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie