Afrikaner

AS GOD VANDAG NA DIE AARDE KYK

BybelGén. 6:1-22
“Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die
versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.” (:5&6).
“Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld.
Toe sien God die aarde aan, en – dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.” (:11&12).
Geliefdes, wanneer God vandag vanuit die hemel na die aarde kyk, lyk dit regtig veel beter as in die dae van Noag? Sal Hy nie ook met hartseer aanskou hoedat die mens die aarde met hul goddelose dade besmet nie? Die mens is in ons tyd opnuut besig om die aarde met hul goddelose en bose werke bedorwe te maak en vir God smart in Sy hart te veroorsaak. Ons sien oraloor dinge gebeur wat vir God aanstoot gee. Ja, dinge wat vir Hom smart veroorsaak en wat Hy verag. Ons sien homoseksuele praktyke wat boefen word asof daar geen fout mee is nie. Maar geliefdes, God verag dit. “En as ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het soos ‘n mens met ‘n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen.
 
...”(Lev. 20:13). Ons sien hoedat mense weens hul gierigheid mekaar besteel en bedrieg. “’n VALSE weegskaal is vir die HERE ‘n gruwel, maar in ‘n volle gewig het Hy behae.” (Spr. 11:1).Ons hoor hoedat mense omgaan en mekaar beskinder, beswadder en selfs onwaarhede van ander verkondig. Ja, dit is vir mense lekker om ‘n ander met hul tong te verslind en hul dink nie daaraan dat hierdie ‘n gruwel in God se oë is nie. “Jou tong beraam onheil, soos ‘n
geslypte skeermes, o werker van bedrog! Jy hou net van woorde wat verslind, o bedrieglike tong! So sal God jou dan ook vir ewig omverwerp, jou wegruk en jou uit die tent uitsleep; ja, Hy sal jou ontwortel uit die land van die lewendes. Sela.” (Ps. 52:4,6&7).
Geliefdes, leef die mens van ons tyd nie maar soos een wat dink dat God nie sy gruwel dade raaksien nie? Erger nog, leef die mens van ons tyd nie soos een wat dink dat daar geen God is voor Wie se troon ons elkeen moet verskyn nie? “Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie – dit is al sy gedagtes!” (Ps. 10:4). Ja, hierdie dwaasheid van die mens van ons tyd en ook in die tyd van Noag word deur Dawid in Ps. 14 vir ons pragtig verwoord. “...Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie. Die HERE het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie.” (:1-3).
 
Ek wil egter nie hê dat ons vandag hier moet sit en na die wêreld moet vinger wys nie, geliefdes. God het in ‘n ganse verdorwe wêreld ‘n enkelling, Noag, as ‘n regverdige en opregte man, raakgesien. Al was dit net een man, tog het God hom nie misgekyk nie. Sy oë sien waarlik alles raak. Ja, selfs diep binne in ‘n mens se hart. Ja, geliefdes, ook diep binne in my en u hart sien Hy alles raak. “...HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my
opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, HERE, U ken dit 
geheel en al.” (Ps. 139:1-4). En daarom is dit belangrik dat ons vandag ook na ons eie harte en lewens moet kyk, geliefdes. Hoe rein is my hart en my lewenswandel voor God? Hoe rein is my gedagtes voor God, geliefdes? Wanneer Hy vanuit Sy hemelse troon na die aarde kyk en my sien, geliefdes, word Sy hart ook met smart gevul? Verag ek Hom net soos die wêreld met ‘n goddelose lewenswandel of lewer my lewe tot die teendeel ‘n getuienis? Gee my lewe te kenne dat ek glo in die God van hemel en aarde en dat ek Hom liefhet en daarom probeer om Hom in gehoorsaamheid te eer? Kan Hy ook na my en u kyk geliefdes en oor ons juig met gejubel? “...Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.” (Sef. 3:17). Geliefdes, mag ons opnuut ywer om te leef op ‘n wyse wat vir God welbehaaglik is al sou dit die wêreld se veragting oor ons bring.
 
Mag die lewe van Noag ons laat besef dat God ook die regverdige raak sien in ‘n verdorwe wêreld soos wat ‘n mens ‘n lig, hoe klein ook al, altyd in die donker kaan raaksien. En mag ons daarna streef om God se hart met blydskap te
vervul wanneer Hy die aarde aansien en ons lewens aanskou. “En die HERE jou God sal die goeie aan jou oorvloedig gee in al die werk van jou hand, in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land; want die HERE sal weer oor jou ten goede bly wees soos Hy bly was oor jou vaders, as jy na die stem van die HERE jou God luister om sy gebooie en sy insettinge te hou wat in hierdie wetboek geskrywe is; as jy jou tot die HERE jou God bekeer met jou hele hart en met jou hele siel.” (Deut. 30:9&10).