Die AVP het al by herhaling op sy webblad daarna verwys dat die politieke stryd nie gaan oor regs of links, oor Demokrate of oor Republikeine, oor Nat of Sap nie, maar in wese gaan dit oor reg of verkeerd!
In die politiek waar jy as kieser, indien jy jou in 'n demokratiese stelsel bevind, die geleentheid het om leiers aan te wys, is die keuse wat jy uitoefen veel belangriker as wat meeste mense besef. Waarvoor kies jy?
Kies jy die man of vrou wat beskikbaar is, vir hoe hulle lyk of wat hulle status is of wat hulle kwytraak, of kies jy die beleid wat deur hulle verteenwoordig word?
Wat is hoegenaamd die rede waarom jy moet kies? 1 Timotheus 1-7: In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.
Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as 'n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd, waartoe ek aangestel is as 'n prediker en apostel--ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie--'n leraar van die heidene in geloof en waarheid.
"Sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid." Dit, geagte kieser, is die opperste rede waarvoor ons moet kies wanneer ons die geleentheid kry. Dit impliseer egter ook dat ek vir die waarheid sal kies en nie vir die leuen nie! Wanneer ek dan deur wie ookal mislei word om te glo dat ek tussen regs en links moet kies, hou dan in gedagte dat in Prediker 10:2: geskrywe is dat:" Die hart van die wyse is na regs en die hart van die dwaas is na links."!
Wat die afgelope week in die VSA afgeloop het is die duidelikste voorbeeld van waartoe die leuen instaat is! Dit stuit nie voor moord, korrupsie, mishandeling, verguising en drastiese ingryping deur maatreëls en outoriteit te misbruik om jou opponente op die onheiligste manier denkbaar in 'n swak lig te stel wat sy of haar lewe en selfs honderde duisende mense se lewens saam te vernietig nie! Want die vader van die leuen is die satan self!
In Suid Afrika is daar nie geskroom om 'n hele volk te probeer uitwis sodat die leuen sy doel kan bereik nie. Is dit nie tragies dat 'n mens ten spyte van jou beste pogings moet toesien hoedat jou mede volksgenote die leuen ondersteun, sommige vanweë gebrek aan insig, of kennis, of onge-ergdheid en ander moedswillig omdat dit hulle leefwyse van leuens en ongeregtigheid pas!
Hou gerus die ontplooiing van die gebeure in Amerika dop soos wat dit in die volgende dae gaan uitspeel, aangesien dit onafwendbaar 'n invloed op ons politiek sal hê en terselfdertyd dalk sommige se oë sal laat "oopgaan" om te kan sien waarmee hulle besig is!