1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7037255

Besoekers aanlyn

Ons het 42 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

VLYT IS ‘N KOSBARE SKAT

BybelSpreuke 12:1-28

“Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie, maar vlyt is ‘n kosbare skat vir ‘n mens.” (:27). Ons weet tog almal dat iets wat kosbaar is nie sommer algemeen beskikbaar is nie. Ja, ons erken dit tog in die bekende gesegde – “Goeie goed is skaars.” En hoe seldsaam is hierdie kosbare skat, vlyt, nie in ons dae nie? Dink maar hoe moeisaam die meeste mense hulle werk doen. In die meeste gevalle sal mense net genoeg doen om hul uit die moeilikheid te hou. Dit is absoluut die uitsondering waar ‘n persoon werklik met ywer, ja vlytig, hul taak verrig.

 

Die kommunistiese regime in wie se hande ons gedompel is, het met welslae daarin geslaag om ook ‘n groot hoeveelheid van ons volksgenote tot papbroeke en luiaards te verander.  

Dit is vir ‘n kommunistiese regering belangrik om so ‘n groot as moontlike mag oor die burgery te verkry. Dit is tog soveel makliker wanneer jou burgery van jou afhanklik is vir allerhande toelae en uitgifte vir hul daaglikse bestaan nie waar nie? En die boosheid van so

‘n sisteem is vir ons duidelik sigbaar daarin dat ‘n verordening wat deur God ingestel is teëgegaan word sodat hierdie mense hul eie posisie kan verstewig en hul eie ideologieë kan verwesenlik. Hulle hou God vir geen oomblik in erkentenis in hul optrede en doelstellings nie.

 

Wanneer ons kyk na die Skeppingsverhaal, sien ons dat God die mens met ‘n bepaalde doel geskape het. Hy het nie die mens geskape om leeg te lê nie. Hy het nie die mens geskape sodat die hele skepping aan hom diensbaar kan wees nie. God het die mens geskape om oor die skepping te heers. Ja, Hy het die mens geskape om die aarde te bewoon en te bewerk. “Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit

te bewerk en te bewaak.” (Gén. 2:15). Dit is ‘n verordening van God. En hy wat hierin versuim, is aan God ongehoorsaam. Wanneer ons verder na God se Woord kyk, sal ons ook in Génesis 3 op nog ‘n verordening afkom wat deur God daargestel is. En dit is die verordening dat die mens hard sal moet

werk en met moeite ‘n bestaan sal maak. “…vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.” (Gén. 3:17). “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, …” (Gén. 3:19). Hieraan sal ons niks kan verander nie geliefdes, omdat hierdie verordeninge deur God ingestel is. Ons moet ons hieraan onderwerp. Maar ons sien tog hoedat talle mense poog om hul nie hieraan te onderwerp nie. Hulle soek na allerhande slim planne om maklik en sonder moeite hul brood te eet. “Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.” (Pred. 7:29). Dit is wanneer hulle in die strik van die duiwel val om aan allerhande listige planne te dink eerder as om hul aan die ordening soos deur God bepaal te onderwerp. En dit ten spyte van God se pragtige vermaning hierteen in die woorde van

Efésiërs 4:28:”Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.”

 

Die ware kind van God wat homself volkome aan God onderwerp, besef dat God hierdie taak om hier op aarde hard te werk aan die mens opgelê het. Maar in plaas daarvan om God te probeer teëgaan, sal die kind van God daarna streef om op ‘n voor God welbehaaglike wyse te leef en te arbei. Hy sal daarna streef om op ‘n verantwoordelike en vlytige manier na daardie dinge wat God onder sy hande gestel het om te sien. Hy sal daarna streef om ‘n goeie en getroue dienskneg van sy Heer te wees. Ja, vir hierdie kind van God is werk ‘n absolute voorreg eerder as ‘n straf wat hom opgelê is.

Die Woord van God stel dit vir ons duidelik dat God nie ‘n behae het in ‘n luiaard nie.

 

Dit is tog duidelik uit die byna onverdraagsame stellings teen luiheid wat ons onder andere in 1Thes. 3:10 vind. “Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” En selfs onse Here Jesus Christus se woorde uit Matt. 25:26 getuig van God se afsku aan luiheid. “Maar sy heer antwoord en sê vir hom:Jou slegte en luie dienskneg, …”.  U sal dalk vir my wou vra waarom ons sou arbei indien alles hiervan tog net tydelik en verganklik is? Sou ons arbei en vir ons skatte hier vergader waar mot en roes eindelik sal verniel en verteer? U sien, geliefdes. Wanneer ons met die regte gesindheid werk, arbei en ywer is ons arbeid nie tevergeefs nie. Ja, wanneer ons werk en ywer met ons lede tot

beskikking gestel van God sal ons arbei vir ons skat wat onverganklik is en by Hom vir die ewigheid bewaar word. Hy is immers die Een wat aan ons elkeen bepaalde gawes geskenk het waarmee ons aan Hom diensbaar behoort te wees.

 

En wanneer Hy aan ons die gawes geskenk het en hier benede die taak opgelê het, laat ons Hom met blymoedigheid en vlyt dien daar waarin Hy ons geroep het, geliefdes! Ja, ons sal dalk veel meer baat wanneer ons nie dien met die verwagting van wat ons van Hom kan ontvang nie, maar met die gesindheid van wat ons in nederigheid en opregtheid aan Hom kan bied. Dit is met hierdie gesindheid wat ons dalk net daardie aller kosbare skat “vlyt” van Hom ontvang.

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie