Ps. 51:1-21
“Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.” (:4). Daar is ‘n Sjinese gesegde wat lui – “’n Gesonde man het baie begeertes, maar ‘n siek man het net een.” En elkeen van ons wat al op ‘n siekbed neergevel was, sal van die akkurate beskrywing kan getuig. Wanneer ‘n mens daar op ‘n siekbed lê, uitgeput en moedeloos, is jou enigste begeerte om maar net gesond te kan word.
Dit is tog ook ironies hoe maklik ‘n mens weer kan vergeet met watter groot verlange jy na gesondheid gesmag het nadat jy van ‘n siekbed herstel het. En dit is nie lank nie of hierdie een groot begeerte word weer vervang met allerhande begeertes waarvan die hart vol is.
Hierdie selfde ironie is ook in ons mense se geloofslewens te bespeur. Ons word menigmaal deur ‘n oorweldigende hartsbegeerte tot sonde gelok en nadat hierdie begeerte bevredig is, is ons gees ongesteld. Ons is siek en neergevel in ons gees en begeer om weer ons verhouding met ons Skepper te kan herstel. Dit is asof ek nooit in my lewe weer enigiets anders sal begeer as om net God se vergifnis te ontvang nie. En ons onvermoë om ons
verhouding met God te herstel laat ons net so magteloos as die onvermoë om onsself op ‘n siekbed te kan genees. Ons wil dan soos Dawid in diepe afhanklikheid na God uitroep – “Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees.” (Ps. 51:12).
Ons lees in hoofstuk 51 van die Psalms met hoeveel erns Dawid na God se vergifnis gesoek het. Ons lees van die oorweldigende en sterk verlange wat hy na God se vergifnis gehad het. Sy verhouding met God was vir hom te kosbaar om maar net met sy lewe aan te gaan en voor te gee asof hy geen oortreding begaan het nie. Hy het geweet dat hy deur sy sonde vir God teleurgestel en bedroef het. Hy het geweet dat hy deur sy sonde God oneer
aangedoen en Hom beledig het. En hy was werklik spyt en jammer hieroor! Dawid het God geken en geweet dat Hy ‘n groot afkeur van sonde het. “U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie aanskou nie - …” (Háb. 1:13). Dawid het ook geweet dat God ‘n groot welbehae in ‘n man het wat ‘n rein lewe probeer handhaaf.
“Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” (Mat. 5:8). Die leer van onse Here Jesus Christus onderstreep vir ons hierdie kosbare begeerte van Dawid – die begeerte na ‘n rein hart, ‘n rein lewe. Die Here Jesus Christus bid vir Sy dissipels dit wat Dawid van God gebid het – om gereinig te word. Ja, Hy vra dat God hulle sal heilig. “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.” (Joh. 17:17). En dan leer die Here Jesus vir Sy dissipels dat ons deur Sy Woord geheilig, ja, gereinig word. “Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.” (Joh. 15:3).
Die Woord van God is die water waarmee ons lewenskleed wat ons met sonde bevlek het weer skoon gewas word. “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.” (Eség. 36:25). Die onreinheid van ‘n mens is nie so ‘n netelige kwessie as wat menige dwaalleraars dit afmaak om te wees nie. As God met ‘n onreine ewe tevrede is as met ‘n reine, waarom tref onse Here Jesus Christus self ‘n baie, baie duidelik onderskeid tussen rein en onrein mense?
“Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie.” (Joh. 13:10). En as ‘n onreine dan in die seëning van God kan deel ewe goed as ‘n reine, maak ons God dan tot leuenaar wanneer Hy in Heb. 12:14 tot ons spreek? “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;” Hierdie waarheid wat in Matt. 5:8 ook so duidelik as in Ps. 24:3-5 onderstreep word: ”Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van sy heil.”
Geliefdes, laat ons God nie aanhang en dien vir dit wat Hy vir ons kan gee en kan doen nie, want hierdie is nie ‘n opregte liefde nie. Dit is ook nie opregte Godsdiens nie, maar afgodery! Laat ons daarna streef om God lief te hê vir wie Hy is. En laat ons daarna streef om Hom lief te hê met ‘n opregte en rein hart en sodoende welbehaaglik voor Hom leef. “Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde,vrede, saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep.” (2 Tim. 2:22).
Mag ons begeerte na ‘n rein hart, na ‘n God-vererende lewe wat Hom behaag sterker as enige ander begeerte in ons lewe word!
Amen.