1 Petrus 4:1-11
“Namate elkeen ’n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God. As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.”
U het seker al die bekende woorde gehoor – “Niks in die lewe is verniet nie.” Geliefdes, hierdie stelling is onwaar. Die kosbaarste dinge in hierdie lewe is verniet. Maar verniet beteken nie noodwendig goedkoop nie. Ek dink byvoorbeeld aan die vergifnis wat ‘n ware gelowige van God ontvang wanneer ons opregte berou oor ons oortredinge het. Daar is geen bedrag geld wat ons vir God hiervoor kan aanbied nie. Ons verkry hierdie versoening gratis, maar die prys wat Christus hiervoor moes betaal was nie goedkoop nie – dit het Hom Sy lewe gekos.
Ek wil u vra om te dink aan al die genadegawes wat u van God ontvang. Hoeveel moes u betaal om die gawe van lewe te ontvang - was dit nie gratis nie? Hoeveel moet u jaarliks aan God betaal vir u gesondheid en lewenskrag wat Hy daagliks aan u skenk? Hoeveel betaal ons God daagliks vir Sy genade? Al hierdie kosbare dinge, en soveel meer ontvang ons daagliks, onverdiend en gratis van God. Die probleem is dat die meeste mense van ons tyd die genade van God wat gratis is ook goedkoop maak. God se genade word as verskoning gebruik en dus na regte misbruik as verskoning vir die losbandige en selfsugtige lewens wat soveel mense deesdae handhaaf. En dit ten spyte van die waarskuwing in God se Woord om nie Sy genade goedkoop te maak nie. “WAT sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?” (Rom. 6:1).
God vra van ons waardering vir die gawes wat ons gratis van Hom ontvang het. Ons toon ons waardering aan God nie in terme van geld nie, maar in terme van liefde en gehoorsaamheid. ‘n Ware gelowige wat opregte waardering het vir die gawes van God sal na ‘n lewe streef waarin hy/sy die gawes wat hulle van God ontvang het aanwend om Hom daarmee te dien. Ons hoef nie almal sendelinge, predikante en bedienaars van die Woord te wees ten einde aan God diensbaar te wees nie. Ons het elke een sy eie genadegawes van God ontvang en ons behoort Hom in liefde hiermee te dien. “Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.” (1 Kor. 12:4-6). En bewys ons nie ons liefde teenoor God deur ons optrede teenoor ons naaste nie – teenoor ander kinders van God nie? “Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Matt. 25:40).
Ek wonder of u ook vanoggend saam met my bekommerd is oor ons geslag se slegte en ontroue diensknegte wat versuim om goeie bedienaars van God te wees? Ek praat van mense wat besig is om in eensaamheid in hul selfsug te vergaan. Hul arbei dag en nag om in hul familie die aansienlikste en rykste te wees. Maar terselfdertyd is hul so besig om hul eie aansien te vergroot of te handhaaf dat hul nie eers hul geliefdes se nood kan raaksien nie. Sou God hieroor verheug wees? Sou Hy só ‘n mens prys omdat hy die aansienlikste in sy familie geword het – die grootste huis, luuksste motor, mooiste klere het? Inteendeel geliefdes – só ‘n persoon wat groot is in sy eie oë, en selfs in mense se oë, geniet in God se oë weinig aansien. “Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.” (1 Sam. 16:7).
Die mens van ons tyd is so behep daarmee om te bereken “wat in dit is vir my” dat hy weinig vreugde en bevrediging uit hierdie lewe put. Ironies genoeg probeer die meeste wêreldlinge dan hierdie leë lewens van hulle ontvlug. Hulle vind uitkoms in allerhande sinlose en oppervlakkige genot en vermaak wat deesdae in oorvloed beskikbaar is. En langs hierdie weg verbeur die mens ook die mees kosbare skat wat hy in sy lewe hier op aarde kon vind – die genadegawe van sy lewe in Christus Jesus.
Geliefdes ek wil u vanoggend maan om ook die vraag in eerlikheid te beantwoord – Is u vandag ‘n goeie dienaar van God? Is u voortdurend daarmee besig om die gawes wat Hy aan u gegee het, insluitend die gawe van u lewe, aan te wend in diensbaarheid aan Hom? Of is u besig om maar doelloos deur hierdie lewe te beweeg? Moenie dieselfde fout as soveel wêreldlinge maak om te dink dat dit ‘n sware las is om aan God diensbaar te wees nie. “want my juk is sag en my las is lig.” (Matt. 11:30). Die is nie ‘n sware las om God te dien nie, maar ‘n ongekende voorreg. ‘n Voorreg wat ons deur genade ontvang, gratis. Moenie ‘n berekeningsfout maak om dit goedkoop te ag en te verbeur nie!