Afrikaner

DIE DOOD VAN SY GUNSGENOTE

BybelPs. 116:1-19

“Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van sy gunsgenote.” (:15).

Dit val ons amper vreemd op dat dit blyk asof die HERE ‘n welgevalle het in die dood van hulle wat Hom liefhet. Hoe kan so iets van ‘n liefdevolle God waar wees? Dit is nie omdat God behae het in die dood van ‘n mens nie. “Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Eség. 33:11). God het wel ‘n welbehae daarin dat ‘n mens sy sondige natuur afsterwe om vir die geregtigheid te lewe – dit is kosbaar in Sy oë!

Daar is, was en sal nooit ‘n mensekind wees wat in volmaaktheid gebore word nie, behalwe die mens Christus Jesus. “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” (Ps. 51:7). Die mens is in hierdie vervalle, sondige staat vasgevang en gebonde en in onvermoë om God lief te hê en in nederige ootmoed te dien. Dit is in hierdie staat waarin die mens sy lede tot diensbaarheid van ongeregtigheid stel. Dit is in hierdie staat wat die mens in hebsugtigheid, liefdeloosheid, jaloersheid, trotsheid en vreesagtigheid leef – ‘n boom wat geen vrugte dra nie. Die toekoms van so ‘n mens voor God sien nie goed daaruit nie. Sy einde is ‘n ewige dood, ewige verderf en verbranding. “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” (Matt. 7:19).

‘n Slegte boom sonder vrugte word uitgekap en in die vuur gegooi. Maar die Here leer vir ons verder dat goeie vrugte nie vanself in ‘n verdorwe mens voortgebring word nie. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.” (Joh. 12:24). As dit nie sterf nie bly dit alleen, so op sy eie, in sy selfsugtigheid en eiesinnigheid. Dit bly so alleen, in sy eensaamheid, sonder gemeenskap met sy Skepper. En daarom dat die dood van ‘n koringkorrel, die dood van een van die mensekinders, in God se oë kosbaar is. Die dood van ‘n sondige mens wat nie meer alleen wil bly nie, maar saam met God wil leef. Die dood van ‘n mens wat vir hom of haar die lewe sal beteken. Dit is kosbaar in God se oë – ‘n mens wat sterf sodat hy/sy in God lewe kan vind en, in Hom gewortel, vrug kan dra! Hierdie gestorwe mens bly nie meer alleen nie, maar hy leef saam met God. Hy het gemeenskap met God! “…Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh. 15:5).

Dit is kosbaar in God se oë wanneer ‘n mens verkies om nie meer in eensaamheid sy eie sondige begeertes in die vlees te dien nie, maar om saam met Christus Jesus aan God diensbaar te wees. “Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe,” (Rom. 6:5,6&8). Dit is kosbaar in God se oë om te sien dat ‘n mensekind ‘n dienskneg van geregtigheid word eerder as ‘n dienskneg van die sonde. “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.” (1 Kor. 6:13).

Dit is kosbaar in God se oë om die dood van die mensekind te sien omdat Hy weet dat hierdie dood die begin is van die mensekind se lewe saam met God. Dit is kosbaar in God se oë om te sien dat ‘n mensekind sy vertroue stel op Sy geliefde Seun, Jesus Christus, om hom/haar met God te versoen. Dit is kosbaar in God se oë om te sien hoedat ‘n mens sy vertroue op Jesus Christus stel om geregverdig te word. Dit is kosbaar in God se oë om te sien dat ‘n mens vir die wêreld dood gaan om vir Hom te leef. “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” (Rom. 6:11).

Die dood van Sy gunsgenote is in God se oë kosbaar – nie omdat Hy in die dood behae het nie, maar juis omdat Hy behae het daarin dat hulle die lewe vind! “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.”(1 Joh. 4:9).