Jak. 3:1-12
“Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie. ‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?” (:10&12).
Ons almal is bekend met die woorde van Jesus Christus uit Matt. 7 wat dit stel dat ‘n mens wat waarlik tot geloof in God gekom het se dade, sy optrede, van hierdie saligmakende geloof sal getuig. Hy spreek Homself uit teen die valse profete wat voorgee om gelowig te wees terwyl hul dade van ongelowigheid spreek! “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.” (Matt. 7:15). Ons vergeet myns insiens heeltemal te maklik dat dieselfde reël vir die woorde van gelowiges geld. Ons doen dalk baie moeite in ons strewe om vrug te dra deur ons optrede en dade wat by die bekering pas. Maar ons vergeet dalk ewe maklik om met dieselfde ywer woorde voort te bring wat by ons bekering pas. As ons dade die beeld van Christus in ons moet weerspieël, is ons woorde nie ook aan dieselfde standaard onderworpe nie?
Jakobus het self geweet hoe moeilik dit is om nie in woorde te struikel nie. Hy stel dit selfs dat ‘n man wat sy tong kan beheer sy hele liggaam in toom kan hou. “…As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.” (Jak. 3:2). Alhoewel die tong so ‘n klein lid van die liggaam is, is dit uiters kragtig. Dit is uiters moeilik om te beheer. Daar is ook ‘n ongewone groot krag in hierdie klein lid van die liggaam. Dit is enersyds ‘n groot krag tot onderrigting, opbouing van ander, genesing en vertroosting asook tot eer en lof van God. Dit is ongelukkig andersyds ook ‘n kragtige lid wat kan laster, afbreek, smaad, beskimp, beskinder en wonde en seer aan ander toebring en sodoende God diep kan bedroef.
Jakobus was glad nie onbewus van hoe moeilik dit vir ‘n mens is om nie in woorde te struikel nie. Hy was ook nie onbewus van hoe belangrik dit vir God is dat ‘n mens baie hard hieraan moet werk en hierop behoort te fokus nie. Die woorde uit Jakobus 1:26 onderstreep vir ons die belangrikheid hiervan in die lewe van ‘n gelowige. “As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.” En dit sluit aan by Jesus se woorde uit Matt. 5 waar Hy leer van die verantwoording wat ‘n mens sal moet doen a.g.v. oortredinge deur sy mond. “…en elkeen wat vir sy broeders sê: Raka! Moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.” (Matt. 5:22).
Ons is vinnig om die inheemse bevolkings te bespot en te smaad oor hulle vermoë om goed te plunder, te breek en te vernietig. Wanneer hulle nie hul sin kry nie is dit ‘n kwessie van tyd voordat iets aan die brand gesteek en tot niks gemaak word – heeltemal vernietig en deur vuur verteer. Ek kan egter nie help om te wonder hoeveel dinge in ons beskaafde volkshuishouding al oor die afgelope paar dekades tot as verbrand is deur die vuur van ons woorde nie. Hoeveel mooi ondernemings van mense is deur ander se ondeurdagte woorde tot as verbrand. “Net so is die tong ook ‘n klein lid en beroem hom op groot dinge – kyk hoe ‘n groot hoop hout steek ‘n klein vuurtjie aan die brand.” (Jak. 3:6). “’n Deugniet grawe ‘n kuil van onheil, en op sy lippe is soos ‘n brandende vuur.” (Spr. 16:27). Hoeveel ywer, opoffering en inspanning is al deur ander se onverskillige woorde totaal uitgeblus. En dan wil ons uiteindelik huil omdat daar vir ons niks in ons volkshuishouding oorgebly het nie. Ons wil AL die skuld van ALLES wat vernietig is op ander lê, maar is ons HEELTEMAL onskuldig in hierdie saak?
‘n Fontein kan nie vars en bitter water uit dieselfde oog laat vloei nie. “’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?” (Jak. 3:11). En net so sal daar nie uit ‘n man met ‘n rein en suiwer gees onrein woorde uit sy binneste vloei nie. Eweneens sal daar nie uit ‘n man met ‘n onrein en besoedelde gees rein en verkwikkende woorde uit sy binneste vloei nie. “Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak.” (Matt. 15:18). “Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.” (Matt. 12:34).
Ek en u het as gelowiges vanoggend genoeg stof tot nadenke. Ek glo dat nie een van ons wat hierdie boodskap aanhoor al ‘n volmaakte man is wat in staat is om sy tong in toom te hou nie. Kom ons spits onsself daarop toe voor die Aangesig van God om nie verder ons tong aan te wend tot vertering en verwoesting nie. Maar kom ons gebruik dit eerder om behoorlike offers van eer aan dank aan Hom toe te bring. “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” (Heb. 13:15).