Gén. 24:1-67
“Die HERE, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee – Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar ‘n vrou gaan haal.” (:7).
“En die man het haar stilswyend betrag om te weet of die HERE sy weg voorspoedig gemaak het of nie.” (:21).
Daar is vir ons veel te leer uit Abraham se benadering tot hierdie belangrike saak – die keuse van ‘n lewensmaat vir sy seun, Isak. Abraham stuur sy mees betroubare dienskneg met die opdrag om ‘n vrou vir sy seun te gaan haal. Hy verbied hierdie dienskneg uitdruklik dat hy vir sy seun geen vrou moet neem uit die dogters van die Kanaäniete nie. Terwyl die wet van God aan Moses eers baie later gegee is, is Abraham reeds getrou in hierdie saak voor God deurdat hy die gebod eerbiedig. Abraham met ‘n opregte hart en in diepe ootmoed met God gewandel en daarom het hy geweet wat in God se hart is. Ons lees in Deut. 7:3 van hierdie gebod. “Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie – jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie;”. Abraham se optrede getuig daarvan dat dit vir Hom belangrik was om God ook in hierdie belangrike saak te ken. Dit getuig dat dit vir hom belangrik was om ook in hierdie saak God se wil na te streef.
Ek wonder hoeveel mense wat hulself as gelowiges beskou, benader nog hierdie saak (die keuse van ‘n lewensmaat) met ‘n ootmoedige ingesteldheid. Die milieu waarin ons leef, word gekenmerk aan selfsug, ydelheid en oppervlakkigheid. Die keuse van ‘n lewensmaat word vir baie mense beïnvloed deur die ander persoon se finansiële welstand, aansien in die samelewing, uiterlike voorkoms en dan ook hoe goed daardie persoon inpas by die (menigmaal selfsugtige) persepsie wat ek vir myself skep hoe die persoon sal lyk wat vir my ‘n goeie lewensmaat sal wees. Die oppervlakkigheid van baie belangrike sake gee daartoe aanleiding dat ook verhoudings tussen mense aan diepte ontbreek. Dit word mos amper as ‘n skande of belaglik beskou wanneer ‘n persoon enkellopend is terwyl twee mense wat mekaar vir net ‘n paar weke ken en dan alreeds só intiem verkeer as getroudes en kwansuis “lief is vir mekaar” weer heeltemal normaal geword het.
Abraham stuur sy dienskneg met selfversekering op weg om vir Isak ‘n vrou te gaan haal. Hy verseker hom dat die HERE voor Hom sal uit trek en sy weg voorspoedig sal maak. Abraham stuur hierdie dienskneg amper weg om net “’n geskenk” te gaan haal wat alreeds berei is. Het Abraham iets uit God se hart geweet waarvan ons nie daar lees nie? Die wonderlikheid van Rebekka se familie wat bereid is om haar sonder slag of skoot af te staan, laat ons selfs meer wonder oor Abraham se selfversekerdheid hieroor. “Toe antwoord Laban en Bétuel en sê: Van die HERE kom die saak; ons kan jou daar geen kwaad of goed van spreek nie.” (:50).
Ons word verder in hierdie saak ook uit Spreuke onderrig. Ons leer uit Spreuke 19:14 die volgende: “Huis en goed is ‘n erfenis van die vaders, maar ‘n verstandige vrou is van die HERE.” Ons ouers kan vir ons stoflike besittings nalaat wat hulle met harde werk deur hul lewens bymekaargemaak het. En ons ontvang dit aan die einde van hul lewe as ‘n geskenk uit hulle hande. Maar ‘n verstandige vrou is ‘n geskenk wat ‘n man uit God se hand ontvang. “Wie ‘n vrou gevind het, het iets goeds gevind en ‘n welgevalle van die HERE verkry.” (Spr. 18:22).
Ons moenie as gelowiges dink dat so ‘n belangrike saak maar net deur die “noodlot” bepaal word nie. Ons moet ook nie die HERE se hulp inroep net daar waar ons verleë is terwyl ons hierdie saak in ons eie hande probeer neem nie. Ons benadering is mos om ons eie lewensmaat te soek en uit te kies en die HERE se aandeel in die saak sal wees dat ek van Hom sal vra om die verhouding asseblief te laat uitwerk – of dit Hom nou behaag of nie is nie van belang nie. Daarenteen is die regte manier vir ‘n gelowige dat ons op die HERE sal wag en Hom sal bid om aan ons die regte maat, wat Hy self vir ons as geskenk berei het, dan ook op die regte tyd aan ons te gee.
Wanneer ons dan weet dat elke goeie gif en gawe uit God se Hand kom, moet ons nie die gawe van ‘n lewensmaat hierby uitsluit nie. “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, ...” (Jak. 1:17). En ‘n man wat weet dat sy lewensmaat ‘n geskenk uit die Hand van Sy Vader is, sal waardering daarvoor hê. Hy sal hierdie geskenk koester en sy vrou liefhê omdat God dit van hom eis. “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het” (Efés. 5:25). ‘n Man wat hierin gehoorsaam is, sal deur sy optrede aan ons Vader sy dankbaarheid vir hierdie kosbare geskenk bewys.