Lukas 24:1-12
“Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was: Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan. En hulle het sy woorde onthou.” (:6-8).
Ek neem u graag ‘n entjie terug na die tyd voor Jesus se kruisiging toe Hy nog in Galiléa was. “En terwyl hulle in Galiléa rondgaan, het Jesus vir hulle gesê: Die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense; en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy opstaan. En hulle het baie bedroef geword.” (Matt. 17:22&23). Dit is duidelik dat die dissipels wel gehoor het wat Jesus met hulle gespreek het aangesien sy woorde hulle bedroef gemaak het.
Ons kan ons onsself nou afvra waarom hulle dan na Hom in die graf gaan soek het terwyl hulle moes geweet het dat Hy uit die dood sou opstaan? Hulle was oppad na die graf om Sy gestorwe liggaam te behandel asof hulle die finaliteit van sy dood aanvaar het. Was die traumatiese gebeure rondom Jesus se dood vir hulle só oorweldigend dat nie een van die dissipels Jesus se woorde kon onthou nie of het hulle doodeenvoudig Sy woorde so vinnig vergeet? Dit was nie alleen diegene wat Sy liggaam as vermis aangetref het wat in verleentheid en verwondering daar by die graf gestaan het nie, maar ook die dissipels aan wie die boodskap gestuur is dat Hy opgestaan het, het dit nie geglo nie! “En hul woorde het vir hulle na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie.” (:11).
Die regte ding vir Jesus se dissipels sou natuurlik wees om daardie dag met opgewondenheid op te staan in die wete en verwagting dat Jesus mos uit die dood opgestaan het. Hulle sou weer die geleentheid kry om Hom te sien! En so is dit vir ons in retrospek altyd makliker om te oordeel as vir diegene wat hulself midde die situasie bevind terwyl ons onsself vandag steeds aan dieselfde afwykende gedrag skuldig maak – al is dit dan net in ander omstandighede.
Ons is maklik om die vinger na die volk Israel uit te steek wat keer op keer na God geroep en gesoek het in hul tye van benoudheid en swaarkry net om in tye van voorspoed Hom die rug te keer terwyl onsself vandag nog aan hierdie tipe gedrag skuldig raak. Ons kan net so maklik vra hoedat die dissipels dan nie kon glo of kon weet wat besig was om te gebeur nie – Jesus het dit dan vooraf aan hulle bekend gemaak? En waarom bevind ons as gelowiges onsself vandag ook menigmaal in situasies wat vir ons oorweldigend blyk te wees? Ons dink byvoorbeeld daaraan hoe maklik ons na die mensdom rondom ons kan kyk en die ongeregtigheid, liefdeloosheid, bedrog, leuens, sedeloosheid en ander dergelike optrede aansien en wonder hoedat ‘n God van geregtigheid hierdie dinge so laat voortduur. Ons wonder dan maklik of Hy werklik omgee oor dit wat hier benede aangaan en of ons ywer om Hom te volg en die smal weg van geregtigheid te volg nie maar tevergeefs is nie?
Net soos met Jesus se dissipels het Hy lank gelede ook al vir ons gesê dat hierdie dinge sal gebeur sodat ons nie hierdeur oorweldig moet word nie. “Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;” (2 Tim. 3:2-4).
Gelowiges moenie by aanskoue van hierdie dinge vir een oomblik onkant gevang word en deur die duiwel laat glo word dat God nie by magte is om hierdie ongeregtigheid te oorwin nie. Hy het selfs die dood oorwin en daar is geen mag of krag te sterk vir Hom nie. Maar trou aan Sy Woord sal Hy selfs hierdie verkeerde dinge toelaat (maar nooit regverdig of daarmee versoen nie) sodat Sy ewige Raadsplan uiteindelik soos ‘n perfekte legkaart inmekaar sal pas. Dink maar daaraan hoedat Jesus by magte was om uit Sy kruisdood en gevangenskap vry te kom, maar ter wille van die Raad van God die Vader het Hy dit nie gedoen nie. “Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?” (Matt. 26:53&54). Dit wat op daardie stadium na ‘n neerlaag gelyk het, is weereens met verloop van tyd as ‘n oorwinning bewys toe selfs die dood Jesus nie gevange kon hou nie.
‘n Mens wonder tog steeds waarom ‘n God van geregtigheid hierdie ongeregtige dinge toelaat. Ek bedoel, Hy het dan die mag gehad om uit die dood op te staan en het ongetwyfeld die mag om hierdie ongeregtigheid uit te roei. En dit is dan ook wat eendag sal gebeur, maar eers op daardie dag soos lank tevore al deur God bepaal is wanneer Hy weer op die wolke sal kom om Sy eiendom na Hom te neem en met die wêreld van ongeregtigheid af te reken. Dit moet ons ook gedurigdeur onthou, want Hy het dit ook al lank vooruit vir ons gesê! “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Joh. 14:3).
Terwyl ons egter wag op ons ewige erfenis deur Hom vir ons berei, is ons verantwoordelikheid om deurgaans te luister na dit wat Hy ons deur Sy Woord leer. Ons moet met aanwendig van alle ywer ons lewens aan Hom toewy, ons van die wêreld afsonder om wel in die wêreld te wees, maar nie van hierdie wêreld nie sodat ons liefde nie ook deur die ongeregtigheid in hierdie wêreld sal verkoel nie. “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” (Matt. 24:12). Luister en onthou! Hy het ook vir ons gesê dat elkeen wat volhard tot die einde toe sal gered word en sal saam met Hom die oorwinning smaak. “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matt. 24:13). “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is.” (Open. 2:7).