1 2 3c

Totale besoekerstal

Inhoud Trefslae : 9429969

Besoekers aanlyn

Ons het 7332 gaste aanlyn

  

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

 

Teken aan



____________________ GENL HERTZOG EN EK

HOE EK GENL. HERTZOG LEER KEN HET

Hier het ‘n dag of wat gelede op ons webwerf ‘n artikel van Koos Venter verskyn onder die opskrif:  ONS SOEK WEER 'N BARRY HERTZOG. In hierdie baie interessante geskrif oor die destydse premier van die Unie van Suid-Afrika, word Hertzog se volhardende stryd en pogings om die Afrikanerdom polities, finansieel en moreel te ondersteun, op te hef, te lei en te verdedig, pragtig beskryf, sodat elke leser hiervan die Generaal sal vergewe dat hy gedurende die laaste ses jaar van sy veelbewoë ampstermyn, die Engelse bevolking van die land meer ter wille was as sy eie mense.

 Ek het toe die hoofstuk wat ek oor generaal Hertzog geskrywe het in my boek, Die Bittereinders op die Pad van Suid-Afrika, (BOEKBESPREKING: DIE BITTEREINDERS) weer gelees om vas te stel hoe ék daardie tydperk in die Generaal se bediening vertolk het.  Ek het hom laat erken dat hy ‘n fout begaan het en dat die kritiek van Afrikanerkant geregverdig was.

 Maar ek wil graag hiermee vertel wat ek deur persoonlike kontak met generaal Hertzog beleef het.  Ek het as jong onderwyser my eerste ervaring opgedoen in die skooltjie op Waterval, generaal Hertzog se plaas, langs die Wilgerrivier, ongeveer 60 km noord-oos van Bronkhorstspruit.  Dit was destyds ‘n tweemanskooltjie, waar ek in die assistentspos in Januarie 1939 aangestel is.  Die hoofpos is gevul deur Bennie Botha (nie familie nie).  Die ongeveer 40 leerlinge van die skool was hoofsaaklik afkomstig uit die bywonershuisies op die groot plaas Waterval, wat aan generaal Hertzog behoort het.  Die plaas is bestuur deur sy seun Charles en dié se vrou Belmont.  Ek en Bennie het by Charles-hulle loseer.  Die skooltjie se twee klaskamers was so ongeveer 50 tree van hulle huis af.  Ongeveer 200 tree verder, was generaal Hertzog se huis, omring deur ‘n plaat soetdoringboompies. Hier het hy en tant Mynie blykbaar “rustig”gewoon wanneer die Parlement nie in sitting was en hy nie in  Kaapstad moes wees nie.

 Generaal Hertzog het baie daarvan gehou om op die plaas rond te stap. Wanneer hy hom in die namiddag vir so ‘n wandeltoggie klaarmaak, het hy geklee in ‘n wit hemp, wit broek en ‘n wit strooihoed op die kop, sy ligte kierie geneem en sommer ‘n paar kilometer in die oop veld gaan stap.  Wanneer hy in die paadjie bokant Charles se huis verbykom en hy gewaar vir my en Bennie daar doenig, het hy ons saamgenooi.

 Ons het hom dikwels vergesel.  Die kere wat dit gebeur het, was ons altwee met groot bewondering vir hierdie groot man vervul, want so ver as wat ons twee weerskante van hom gestap het, het hy met ons gesels oor diepsinnige filosofiese strominge en aangeleenthede wat vir my soms moeilik was om te volg.

 Een Sondagmiddag was ons weer saam met hom op so ‘n wandeltog, waar Charles self ook by was.  Ons het langs die Wilgerrivier gestap, deur die oop veld terug en toe by Charles se huis op die stoep gaan sit, waar Belmont ons dorstige kele met ‘n koffietjie sou laaf.  Toe merk ons dat daar op generaal Hertzog se wit broek honderde klein bosluisies loop.  Hy het seker op ons wandeltog in ‘n graspol getrap waar hulle pas uitgebroei het.  Charles het ‘n “dodenbossie”-spuit  met ‘n gifmengsel gaan haal en  ék was bevoorreg om die Eersteminister se broek skoon te spuit.  (Later jare het ek altyd teenoor my vriende hieroor gespog!)

 Toe ek in Januarie 1939 op Waterval  kom, was ek onthuts om te ontdek dat ek op die Eersteminister se plaas beland het, want in 1933 het ek as jong seun nie “gesmelt” nie, maar my geskaar by dr Malan en sy Gesuiwerde Nasionale Party.  Ek moes toe maar nege maande lank my mond hou as Charles-hulle smalend van “die ou gesuiwerdes” praat,  maar toe die Oorlog in September 1939 uitbreek, het alles verander en kon ek weer lekker politiek gesels en saam met die Hertzogge teen Jan Smuts uitvaar.

 Een môre vroeg kom generaal Hertzog daar aan met twee pikkewyneiers in die hand en sê hy wil met my en Ben praat.  Toe ons tevoorskyn kom, gee hy vir ons elkeen een van die eiers wat hy uit die Kaap gebring het na die vorige parlementsitting.  Hy sê hy het klaar met Kleinbooi, Belmont se kok, gereël om dit vir ons op die regte manier gaar te maak.  Ons moet dit sommer nou vir hom in die kombuis gaan gee, dan kry ons dit nog aanstonds vir ontbyt.  So gemaak, maar nog ek, nog Ben kon die voorbereide pikkewyn-produk inkry. Maar ons het dit nie vir generaal Hertzog gesê nie.  Gelukkig het hy ons nie weer daarna gevra nie.

 Gedurende 1939 het die internasionale volkereverhoudinge so versleg dat die onvermydelike  Tweede Wêreldoorlog aan die begin van September uitgebreek het.  Die Unieparlement sou sit sodat generaal Hertzog sy neutraliteitsmosie om Suid-Afrika buite die Europese stryd te hou, kon deurvoer.

 Laat die middag, voordat Charles die volgende dag sy pa na Pretoria sou neem om met die bloutrein na Kaapstad te reis vir die parlementsitting, sien ek hulle tussen die doringboompies met die paadjie afstap na die Generaal se huis.  Hulle was ernstig in gesprek.  Ek hoor Charles sê;  “Vader, ek sê vir vader, generaal Smuts gaan ons verneuk!”  “Nee Charles, ek ken vir generaal Smuts.  Hy sal by my staan.”  Maar Charles wou nie kopgee nie en so ver as wat hulle stap, hoor ek net hoe hy generaal Smuts wantrou en hoe sy pa hom bly verseker dat generaal Smuts hom sal ondersteun, maar toe hy ‘n paar dae later die parlement versoek om te besluit dat ons in die komende Europese stryd neutraal sou bly, het Smuts hom teengestaan en gewen.  Dit was verraad, want generaal Hertzog was in besit van ‘n dokument waarin Smuts belowe het om hom te ondersteun.

 

Nadat die Generaal en dr Malan se segetog by Monumentkoppie plaasgevind het en hy weer op Waterval terug was, het ek vir Charles gevra wat hy vir sy pa gesê het na Smuts se verraad, of hy hom verwyt het dat hy hom nie wou glo nie. Hy sê toe vir my, nee hy kon dit nie oor sy hart kry nie, want dit was baie duidelik ‘n swaar slag op die gemoed van die ou Generaal.

 Die poskantoor “Gousberg” was in Charles se huis geleë en telefonies verbind met Swartlaagte, waarvandaan Gousberg se telegramme versend is.  ‘n Dag ná die dramatiese verwikkelinge is Chales en sy gesin êrens heen.  My ou maat en hoof, Bennie, is saam met hulle, sodat ek die aand alleen tuis was.  Toe begin die telefoon lui en ek moes verskeie telegramme wat gekwoteer word, ontvang en neerskryf.  Hulle was almal in Engels en almal aan generaal Hertzog gerig en elkeen was bereken om met lae vuilheid hom nog slegter te sê as die ander.  Skielik het die Engelse in Suid-Afrika, wie se regte hy al die jare van sy bewind gehandhaaf het, hom as hul vyand ontdek en begin slegmaak.

 Charles het die telegramme die volgende oggend aan die Generaal besorg.  Ons skool was pas aan die gang dié môre, toe ek ‘n klop aan my klaskamer se deur hoor.  Daar staan die liewe generaal Hertzog en hy bedank my nederig en van harte vir al die telegramme wat ek die vorige aand oor hom ontvang het!  Hy was ‘n groot gees!  As ek hý was, sou ek gesê het:  “Man, jy moes die blik..... goed in die asblik gesmyt het!”

 Die gemoedere het daarna gaandeweg bedaar.  Generaal Hertzog het, nadat die onderhandelings oor die Herenigde Nasionale Party nie wou vlot nie, hom hier in sy huis op Waterval saam met sy ou vroutjie teruggetrek.  Hy het met belangstelling die verloop van die Oorlog in Europa op ‘n kaart gevolg  en saam met ons gejuig – in sy geval, nie hardop nie – wanneer die Duitse stasie te Zeesen aankondig dat daar weer ‘n Britse skip gesink is.

 Vroeg in 1940 het ons agtergekom dat Smuts se spioenasienetwerk ook op Waterval bedrywig was.  Ons het ontdek dat hy een van Charles se bywoners op die plaas gebruik om nuus oor generaal Hertzog te verskaf.  Het Smuts dan gedink generaal Hertzog gaan ‘n staatsgreep uitvoer?  Ai  toggie!

 Ons het wel opgemerk dat sy vorige minister van verdediging, advokaat Oswald Piro, kort-kort hier op Waterval aangery kom met ‘n ou bakkie waarop hy ‘n paar bloekompale gelaai het om Smuts se spioene te mislei, maar verder as dit het dit nie gekom nie.

 Dinge het in 1940 op Waterval redelik normaal verloop.  Generaal Hertzog se ander kinders het hom gereeld kom besoek.  Barry Hertzog, sy jongste seun, het gereeld saam met sy vrou kom besoek aflê vanaf sy plaas te Balmoral, waar destyds die kort telefoonpaaltjie langs die teerpad gestaan het.  Sy oudste seun, dr Albert Hertzog en sy vrou Kate, het hulle liewe pa op Waterval ook nie verwaarloos nie en dikwels op ‘n Sondagmiddag die 66 myl hier na Waterval toe gery om te kuier.  Toe het ek hierdie vriendelike man ook leer ken, veral daardie dag toe ek en Charles buite sy waenhuis besig was om my ou tjorrie wat nie wou vat nie, aan die brand te stoot en dr Albert daar aangestap gekom het om ons hand te gee.

 Later het ek dr Albert leer ken as die wonderlike persoon wat hy was, toe ek in 1969 as hoof van Eloffsdalskool my skoolsaal tot beskikking van die HNP gestel het om die heel eerste kongres van sy bestaan te hou.  Ek het dr Albert se nederige, hartlike vriendelikheid altyd hoog waardeer.

 Intussen het ek hier op die plaas vir generaal Hertzog se kleinkinders skoolgehou.  Daar was klein Barry, die oudste, dan Jannie en klein Charles, die kinders van Charles en Belmont.

 My ou klassie het gedurende die twee jaar wat ek op Waterval was (1939 en 1940), gewissel van 16 tot 24 leerlinge, almal van graad 1 tot standerd 2.  Ben het skoolgehou vir standerds 3, 4, 5 en 6.

 As ek vandag so terugkyk op my lewensloop, is ek dankbaar dat ek ‘n aandeel daarin kom hê om iets goeds te doen aan generaal Hertzog en sy nageslag, want toe ek in 1961 dosent in opvoedkunde by Pretoriase Onderwyskollege was, was een van my studente die seun van Barry Hertzog van Balmoral.  Ek kon dus ‘n bydrae lewer om van ‘n paar van generaal Hertzog se nageslag, goeie Afrikaners te maak.

 'n Klompie jare later kondig die radio aan dat generaal Hertzog op 21 November 1942, op 76-jarige ouderdom heengegaan het.  Sy vrou,  tannie Mynie, is ‘n paar maande vroeër, op 4 April 1942 oorlede.

Toe het ek weer besef hoeveel waardering, bewondering en liefde ek gekoester het vir hierdie voormalige staatshoof van ons land.  Al het hy van 1933 tot 1939 so half en half in ‘n Engelse kookpot “gesmelt”, was hy nooit ontrou aan die Afrikanervolk nie.

 

Dr  J P Botha

 s1

 d1

 sw1

 v1