1 2 3c

Totale besoekerstal

Inhoud Trefslae : 9403083

Besoekers aanlyn

Ons het 276 gaste aanlyn

  

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

 

Teken aan



____________________ OORSPRONG VD HERE SE NAAM

Oorsprong van die NAAM van die HERE

Ons het vir dr JP Botha gevra om vir ons die oorsprong van die benaminge van die Here uiteen te sit:

Kom ons kyk eerste na die naam Here, wat met ‘n hoofletter begin en verder uit kleinletters bestaan.  Dit is die vertaling van die Hebreeuse woord  Adonai ,  wat  “heer, meneer of besitter” beteken.  Ons gebruik hierdie benaming in die Bybel vir God, maar ook vir mense:  “Aan die weleerwaarde heer, so en so.”  As ons dit gebruik as die Naam van God,  erken ons daarmee dat Hy die Maker, Skepper van alle dinge is en dat Hy daaroor beskik. Die woord druk dus sy eiendomsreg en sy beskikkingsmag daaroor uit.

Die naam  HERE, wat net met hoofletters geskryf word, is die Afrikaanse weergawe van  Jahwe, die wesensnaam van die enige ware God, die wesensandere ten opsigte van alle ander wesens.  Geen ander sogenaamde god of watter ander wese ook al, kan met hierdie naam aangedui word nie.

In Exodus 3:14 gee die HERE aan Moses ‘n verklaring van die naam Jahwe: “EK IS WAT EK IS.” Moses moes vir Israel sê:  “ EK IS het hom na hulle gestuur.  Die naam is afgelei van die Hebreeuse werkwoord, “om te wees”.  Dit druk die ewige, onveranderlike wese en bestaan van God uit.  Die HERE  wil hier vir Moses en Israel aantoon dat Hy, wat Hom aan hulle openbaar, dieselfde God is wat vir Abraham, Isak en Jacob geroep en gelei het.  Wat Hy vir hulle was, is Hy ook nog steeds vir Israel.

Die Jode het die naam Jahwe nooit uitgespreek nie, uit vrees dat hulle per ongeluk die HERE se Naam kon laster.  Later het hulle, waar die naam in die Ou Testament voorkom, die vokale van  Adonai daarby gevoeg en dit so uitgespreek.  So het die naam Jehova ontstaan, met die konsonante van een naam, saam met die vokale van ‘n ander een.

As ons die HERE se Naam met vier hoofletters skryf, dan aanbid ons Hom as die waaragtige, ewige, onveranderlike, genadige en liefdevolle God, wie se Naam ons onbevrees op ons lippe neem, om Hom te dank vir sondevergiffenis en ewige redding deur sy geliefde Seun, ons Heer en Heiland, Jesus Christus, ons Verlosser en Saligmaker.  Loof God die HERE tot in ewigheid,  AMEN  !

 

J P Botha

 s1

 d1

 sw1

 v1