___________________ HOE ONS VOOROUERS GELEEF HET (9)
Hierdie keer gaan ons hulle Kakebeenwaentjie ‘n bietjie van naderby bekyk.
Die kakebeenwaentjie se vorm en houtwerk
Hy was die algemeen bekende rytuig oor die vlaktes, bulte en berge van Transvaal en is al amper aan die vergetelheid prysgegee, al het ons voorouers daar jare en jare lank mee klaargekom. Dis wonderlik om te dink dat hulle so ‘n wa sonder die hulp van vakmanne kon vervaardig.
Waarom het hy so ‘n snaakse naam gedra?
Op die oog af het sy wiele net soos dié van ons bokwaens gelyk, maar die busse was anders. Ons ou bokwaens se wiele het deurlopende busse gehad, terwyl die kakebeenwaentjie se wielbusse uit twee dele bestaan het. Daarby het sy wiele nie metaal-aste gehad nie, maar aste wat van die sterkste en taaiste hout gemaak was. Verder was daar aan die wiele se skene en lunste ook verskille met dié van die latere bokwaens.
Die agterstel en voorstel van die wa het amper gelyk soos dié van ons nuwe waens, maar alles was ‘n bietjie growwer gemaak en nie so mooi met lyntjies en blommetjies beskilder nie.
Die wa se lengte was twaalf tot vyftien voet. Die twee sykante van die wa is die “leer” genoem. Die vorm van die wa se leer het baie ooreengekom met die vorm van ‘n bees se onderkaak. Daarom is dit ‘n kakebeenwa genoem. Voor was die leer twee voet hoog en het orals ewe breed deurgeloop tot ongeveer die derde skei van agter. Hiervandaan het die leer met ‘n boog na agter opgeloop tot ongeveer drie voet hoogte. Die twee geboë latte wat weerskante aan die sye opgeloop het, is “leerbome” genoem. Om die leerbome so mooi gebuig te kry het die boere hulle in kookwater verwarm tot jy hulle kon buig soos jy wil. Die leer is verder gemaak met geelhoutplanke, met harde stinkhout-leerbome onder en bo.
Spoelstra praat ook nog van leerskeie wat in die leerbome gekap was met tappe en wat die “leermannetjies”genoem is en ook van “houtronge” wat in die skamels vasgesit is. Dit word ‘n bietjie moeilik om ‘n duidelike idee hiervan te vorm. Ek hoop u kan wel; ek kon nie.
Die tent op die waentjie
Hulle het hierdie soort wa altyd met ‘n tent gebruik en hom self opgesit. Hulle het latte wat met kramme weerskante aan die leerbome geheg is in pare bo na mekaar toe gebuig en met riempies vasgemaak om boë te vorm. Elke wa het vyf boë gekry en die boë is verbind deur ribbetjies wat uit spaansriet gesny is en kunstig met riempies aan die boë vasgemaak is. Hulle het die tent voltooi deur dit oor te trek met materiaal wat hulle in rolle gekoop het.
Die voorkis het altyd voor op die wa gestaan. Dit was die bergplek vir ‘n groot klomp van die nodigste goedjies, maar terselfdertyd was dit ook die sitplek van die drywer. Hy het daar met sy lang sweep gesit om die tien groot vet osse te dryf. Hulle het gewoonlik tien ingespan. Die drywer kon met die lang, dun voorslag van sy sweep, van die wakis af selfs die voorosse bykom. Die sweep is uit ‘n riem van ‘n beesvel gesny. Die eerste paar span daarvan was maar dun en dan word hy ‘n paar span verder ‘n bietjie dikker en loop later dun uit tot op die punt. Hulle het die dik deel die “pens” van die sweep genoem. Feitlik die hele sweep, buiten die voorslag-deel is toegevleg met gebreide bokvelriempies. Dit het lank geneem om dit te doen, want die toegevlegte deel moes drie faam en drie span lank wees. (Jammer, ek kan nie vir u sê hoe lank ‘n “faam” en ‘n “span” was nie. Spoelstra het aanvaar dat ons dit sommer net moet weet).
Die draagkrag van die waentjie
Sy maksimum vrag is vasgestel op min of meer twaalf sakke graan. Veertien mud mielies is gereken as ‘n uitermate swaar vrag agter tien osse. Die kakebeenwa het swaarder getrek as ons nuwe bokwaens, want sy houtaste het meer wrywing veroorsaak as ysteraste.
Die remskoene
Met die afry van ‘n steil afdraand moes daar iets wees wat die wa kon rem. By elke wa het jy dan ‘n “remskoen” gekry. Dit was ‘n blok hout van sowat agtien duim lank, nege duim breed en van ses tot agt duim dik. Die blok is ‘n bietjie uitgehol, sodat die band van die wiel daarin pas. Die blok word só aan die buikplank van die wa vasgemaak, dat indien hy voor die wa se wiel neergesit word, klim die wiel op hom en sleep dan verder saam. So is die wa gerem totdat die remblok weer verwyder word. Soms het hulle sulke kwaai steiltes afgery, dat hulle ‘n remskoen by albei agterwiele moes gebruik. As die pad baie kwaai afdraand was, dat die remskoene alleen nie genoeg was om die wa te hou nie, het hulle ‘n swaar tak of ‘n jong boom agter die wa laat sleep om nog sterker te kan rem. So het hulle oor berge gekom, waar ons nog bang sou wees om af te ry.
‘n Lastige ding was dat die waentjie maar min laaiplek gehad het. As ‘n gesin trek, moes alles saamgaan en die tent was gou vol met kooigoed, klere en kos. Dan het hulle houte tussen die agter- en voorwiele onder die buik van die wa vasgebind. Daarop is ‘n hoenderhok, gelooide velle, leeste vir skoene en enige ander ding opgepak. Dit het die gelaaide waentjie baie breër gemaak, maar daar was gelukkig nog nie hekke waar hy teen sou vashaak nie.
Die ligterhout en die voetjie om die wa te smeer
Hulle het nog nie domkragte gehad nie. Die voetjie was ‘n blok hout wat hulle onder die wa-as ingewerk het, sodat die wiel los van die grond af was. Hulle het hom met ‘n paal, wat hulle die ligterhout genoem het, opgehefboom om bo-op die voetjie te rus. So kon die wiele uitgehaal word om gesmeer te word.. Hulle het nie ghries gehad nie en het skoonteer (Stockholm-teer) gemeng met harde vet gebruik.
As ‘n man nalatig was met die smeer van die aste, het die houtas onder die ry aan die brand geraak, maar ‘n paar emmers water was genoeg om dit weer af te koel. Daarna moes die as weer gesmeer word. As ‘n as langs die pad breek, het die boer dit net daar langs die pad gelas en later by die huis met ‘n nuwe vervang. Die oumense was gewoond daaraan om hulself te help, ook langs en in die wapad.
J P Botha











