1 2 3c

Totale besoekerstal

Inhoud Trefslae : 9439234

Besoekers aanlyn

Ons het 1208 gaste aanlyn

  

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

 

Teken aan



____________________ HOE ONS VOOROUERS GELEEF HET (8)

Ons kyk nou na die huise waarin hulle gewoon het:

Die Hartbeeshuisie

Die wa is die eerste woning op die nuwe plek.

As die boer sy plaas van die regering ontvang het, kon hy dadelik daarop gaan woon.  Hy trek die eensame streek waar die plaas lê, in met die kakebeenwaentjie waarop al sy besittings, buiten die lewendige goedjies, gelaai is.  Voorlopig moet hy en sy gesin in die wa woon.

Die oprigting van ‘n blyplek

Eindelik het hulle op die plaas aangekom.  Die hele plaas is vir hulle nog onbekend en hulle moet vasstel waar die geskikste bouplek sal wees.  Hulle soek ‘n plek waar dit lyk of die water nie te diep sal wees nie of waar die water maklik uit die rivier of uit ‘n fontein gelei kan word.  Die boer bou dan daar ‘n heel eenvoudige woning, wat die ou mense ‘n “hartbeeshuisie” genoem het.  Dit het die boer niks gekos nie, behalwe sy eie werk  en is in enkele dae voltooi.  Hy het alles na sy sin gedoen.  Indien dit later blyk dat ‘n veel beter aanleg op ‘n ander plek gemaak kan word, hoef die boer nie jammer te wees vir die huis om te versit nie, want hy het nie ‘n klomp geld daaraan bestee nie.

 

Hoe ‘n hartbeeshuisie opgerig is

Heel eerste het hulle die mure afgetree en op elke hoek ‘n merk aangebring. By elke merk is ‘n gat gegrawe en  ‘n stewige paal daar ingeplant.  Dit was die vier hoekpale van die huis.   Die mure se geraamte is gevorm deur nog stewige pale wat elke vier voet van mekaar ingeplant is en verder  opgevul is met  dunner paaltjies of  latte, wat egter ook stewig genoeg moes wees om bo in die nok van een muur na die ander gebuig te word en aan ‘n horisontale paal met rieme vasgewoel te word.  Daarna het hulle ook met rieme deklatte  rondom die mure  aangebring,  waaraan die dekgoed geheg word.  Dit was dus ‘n huisie wat nie eintlik mure gekry het nie, maar dat muur en dak feitlik dieselfde was.

 

Na die vasbind van die latte en die nok, was die geraamte van die huis klaar, gemaak van die bome wat die boer self op sy eie grond gekap het en rieme wat hy self van wildsvelle gesny het.

 

Die hoogte van die huis was afhanklik van die lengte van die pale wat hulle kon bekom.  Hulle het graag buigsame wilgerhout gebruik, maar ook vaarlandswilger en was selfs tevrede met doringhoutpale.  Om die hout bo by die nok na mekaar toe te kan buig, moes hulle gewoonlik groenhout kap. Dit het dikwels gebeur dat van die pale  weer begin groei het en weer groot bome geword het.

 

Om die pale bo na mekaar te kan buig, moes de muur van onderaf ‘n bietjie skuins kom, maar dit was moeilik om ‘n deur in so ‘n hellende muur te maak.  Daarom het hulle die deur so in ‘n tuitjie-vorm gemaak, met twee regop pale wat as kosyn gedien het.

 

Vir die dek van die huisie het hulle gras of riet gebruik.  Dit was moeilik om die latei bokant die tuitjie-deur mooi dig te kry.  Vir ‘n venster het hulle ‘n vierkantige stukkie muur nie gedek nie en dit as venster gebruik  Die deur was  ‘n grasdakdeur, want hulle het meesal nie planke gehad om ‘n deur van te maak nie.

 

Die bou van die huisie het nie maande geduur nie.  Die familie het selde langer as ‘n paar dae in die wa of in ‘n tent gestaan.  Om die huisie winddig te kry het hulle hom aan die binnekant onderlangs  nog ongeveer drie voet hoog uitgepleister.  Om hulle pleisterwerk hard te maak, het hulle ‘n mengsel van klei en beesmis gebruik.

 

Wanneer ‘n groot gesin genoodsaak was om ‘n “groot” hartbeeshuis te maak, het hulle selfs middelmure van pale en latte gemaak en dit gedek, net so hoog dat mens nie daaroor kon kyk nie.

Die vloer het hulle ingesit van die hardste grond wat hulle kon kry.

 

Die opsit van die kookhuis

By elke hartbeeshuisie was daar ‘n kookhuis waar hulle vuur in kon maak.  Dit was ‘n soort rondawel, tien tot twaalf voet in deursnee.  Hulle het mooi reguit pale in ‘n kring ingeplant  en mooi gelyk afgesaag, sowat op viervoet lengte.  Twee van die pale is deurwydte van mekaar geplant en die ander vier of vyf voet van mekaar af.  Op die pale het kappe gekom, almal ewe lank, wat bo in die nok bymekaar gekom het, maar nie in ‘n bondel nie. Hulle word bo aan ‘n houthoepel geheg, sodat wanneer die mure en dak tot bo gedek is, daar ‘n oop skoorsteen bo in die nok is. Om die kookhuis te kan dek, het hulle weer latte horisontaal al om die paalmure vasgemaak.

 

By albei huise het hulle die deure voorgehang met rieme,want ysterhingsels en skarniere het hulle nie besit nie.

 

Hulle het in die kookhuis reg in die middel van die vloer, weg van die grasmure af, vuur gemaak.  Die potte met pote moes maar op die grond staan en hulle het gewoonlik op ‘n selfvervaardigde driehoek hulle ketels gekook.

 

By die dek van die twee huise was twee persone tegelykertyd nodig, een binne en een buite. Wanneer daar nie ‘n seun beskikbaar was om die boer te help nie, moes sy vrou of ‘n groot dogter dit maar doen.

 

Die hartbeeshuisie was in die somer baie lekkerder en koeler as die huise wat sinkdakke het en in die winter was dit lekker warm.

 

Die wild het gepla by die huise

Op die voorposte was die wild so volop dat die honde op die werwe baie keer moes veg met hartbeeste of wildebeeste.  Die verbouereerde diere het skuiling gesoek teen die kante van die huise, met die agterlyf teen die muur en die horings vorentoe om  te verdedig.

 

Die honde van twee ou mense was eenkeer agter ‘n hartbees aan.  Die ou man het ‘n bietjie gaan rus omdat hy sleg gevoel het en die ou vrou het met die geskuurde kookpotte juis by die deur ingekom om die potte in die een hoek van die huis neer te sit tot die volgende môre.  Die wilde dier raak toe so in die nood vir die honde dat hy die huis instorm na die hoek waar die potte staan.  Die ounooi skrik groot en klim met ‘n stoel teen die middelmuurtjie op om die ou man te roep. Hy storm met die geweer uit en skiet die hartbees.  Die dier val bo-op die potte en bly lê met twee van die potte aan stukke gebreek!

 

Daar is meer sulke verhale van diere wat die hartbeeshuisies besoek het.  Omdat dit veral hartbeeste was, wonder ek of die huisies nie na hierdie diere vernoem is nie.

 

Die ou mense was in die huis gasvry, gelukkig en tevrede

Hulle het hul meubeltjies mooi daarin gerangskik en alles skoon en sindelik gehou.  Stoele, tafels, rusbanke, wakiste en katels was eiehandige boeremaaksels.  Daar was gasvryheid in die huisies. ‘n Besoeker het nie lank gesit voordat hy ‘n  "dronkie" koffie ontvang het nie, geskink in ‘n kommetjie, want pierings was onbekend.

 

Dit is dan die verhaal van die ou hartbeeshuisie, sy toebehoorsels en van sy inwoners.

 

 

 

 s1

 d1

 sw1

 v1