1 2 3c

Totale besoekerstal

Inhoud Trefslae : 9436278

Besoekers aanlyn

Ons het 212 gaste aanlyn

  

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

 

Teken aan



____________________ HOE ONS VOOROUERS GELEEF HET (7)

Ons gaan weer ‘n bietjie in die verlede blaai en gaan kyk  Hoe die kind geleer het.

Dis verbasend hoe goed ons voorgeslag kon lees en skryf, as ons daaraan dink dat daar geen skole was nie.  Die Voortrekkermense en die eerste geslag na hulle, moes self die jeug leer lees en skryf, so goed as wat hulle kon.  Gedurende die trek uit die Kaapkolonie na Natal en Transvaal was daar by verskillende laers ‘n skoolmeester.  Wanneer die trek op een of ander plek moes oorstaan om die osse te laat rus, is eerste vir ‘n plekkie gesorg waar meester die kinders kon leer.   As jy nie kon lees nie, was dit feitlik onmoontlik om belydenis van geloof af te lê en die mense wou nie soos heidene groot word sonder om lidmaat van die kerk te wees nie.

So lank as wat die Trek geduur het, was daar altyd ‘n mooi klompie kinders bymekaar en het die ouers vir ‘n meester gesorg.  Nadat die Trekkers in Transvaal en die Vrystaat op hulle plase gaan woon het, moes elke huisgesin self vir die onderwys van sy kinders sorg.

 

Die onderwyser

Soms was die meester ‘n vrygemaakte slaaf wat leer lees en skryf het en by die boere bly woon het.  ‘n Meester was skaars en die gesinne het ver uitmekaar gewoon.  Van hierdie meesters wat rondgegaan het om die kinders te leer, kon sommige self nouliks lees of skryf, maar hulle is vir ‘n salaris gehuur wat afhanklik was van die aantal kinders in sy klas.  In Transvaaal was die prys vir een kind tien sjielings per maand, maar dan het meester geen losiesgeld betaal nie.

Tussen die jare 1850 tot ongeveer 1855 was daar vanaf Heidelberg tot Potchefstroom net vier meesters te vinde. Hulle was die blinde Marthinus Pretorius, Jan Spruit, W McDonald en Christiaan Homan.  Die blinde een se skoolwerk het gevolglik net bestaan uit vertel van Bybelse geskiedenis, die Bybelboeke voorsê, die vrae aanhoor en sing.  Van lees of skryf het maar min by hom tereggekom.

Baie boere het op sig ‘n “meester” gehuur en dan ontdek dat die persoon ‘n span jongosse beter kon leer as vir kinders.  Hy het beter met die platriem of kweperlat geslaan as om te weet hoe hy die kinders iets aan die verstand moes bring.  Hy het hom net laat huur as meester, omdat hy te lui was om te werk  Baie van hulle wou net ‘n paar goedjies bymekaarmaak om later ‘n eie boerderytjie te kan begin.  Dit was moontlik wanneer hy by ouers beland het wat nie kontandgeld gehad het nie, maar hom dan betaal het met skape, beeste of ander produkte.

Daar was nog geen staatstoesig oor die onderwys nie, sodat daar baie rondlopers rondgegaan het om die eerste  onderwys aan die kinders te gee  Daarom was baie van die ou mense bang om die godsdiensonderrig aan die gehuurde  skoolmeesters op te dra en het hulle liewer self daarvoor gesorg.  Bedags het hulle werk nie toegelaat om ‘n paar uur daaraan te bestee nie en het hulle in die aande vir hulle skoolgehou.

 

1e Trap van onderwys

Na die vee saans versorg, die krale mooi toe en die ryperde in die stal was, het die skool begin. Die pa of ma het dan gesukkel om die kinders die letters van die alfabet te leer. Hulle was nie tevrede voordat die kind dit van A tot Z  en  - let wel -  van Z tot A kon opsê nie.

 

2e Trap van onderwys

Dit het bestaan uit speloefeninge uit die ABC-boekie, woordjies met net een lettergreep, meesal woordjies wat uit net twee letters bestaan.  As die kind die ABC-boekie kon lees, kry hy ‘n moeiliker een:  “De Trap der Jeugd,” wat verdeel was in stukkies volgens die aantal lettergrepe wat die kind moes ken.  Die seuns het dit veld toe geneem en daar aanmekaar geleer en saans kom opsê.  Aan die enkele kinders wat weens gebrek aan die nodige verstandelike vermoëns die nodige woordjies nie kon baasraak nie, is soms deur onkundige ouers onregverdig liggaamstraf  toegedien, met die gevolg dat die arme bloedjies dit gehaat het en analfabete gebly het.  Die kinders wat sagter behandel is met die leer van hulle lesse, het lief geword vir lees en was later die welbelese en goedontwikkelde ou landsvaders.

In die huisgesin is ook elke aand huisgodsdiens gehou. Almal luister hoe die pa ‘n hoofstuk uit die Bybel lees. Daarna moes die kinders van klein tot groot vir hom kom vertel wat hulle onthou van wat hy gelees het. As die jongstetjie maar net één woordjie onthou het, is die pa tevrede.  Daarna word die hele hoofstuk weer behandel en verduidelik.  Daarom het ons oumense die Bybel goed geken en was hulle in hul gebede vertroud met die “tale Kanaäns”.

 

Die derde trap

Nadat die kind die Trap der Jeugd goed geken het, moes hy die Bybel saans as leesboek gebruik

Smôrens moes Borstius se vraeboekie saamgaan veld toe, om daarvan elke dag ‘n “pandjie” of ‘n kolom of ‘n halwe bladsy te leer.  Saans moes uit Hellenbroek vrae beantwoord word en later die Kort Begrip-vrae.  So moes hulle leer tot hulle aangeneem is.

 

Die 4e Trap

Die kinders moes ook leer skryf en reken.  Dit het maar swaar gegaan, want die ouers self het maar swak geskryf en het nie geweet hoe hulle dit vir die kinders moes leer nie.  Die skrywe het toe maar eintlik net daaruit bestaan om die letters volgens voorbeelde te leer skryf .  So het elkeen geleer om ‘n eenvoudige briefie te skryf en sy eie naam te teken.  Wat reken betref het die kinders die syfers leer skryf en eenvoudige sommetjies gemaak, maar in hoofrekene het hulle gewoonlik uitgeblink.

 

Die 5e trap

Die ou mense het meer aandag aan sang gegee as aan lees en skryf.  Hulle het die moeilikste wysies van die psalms en gesange ewe lekker gesing en het vir die kinders die ut, re, me of tonik-solfa volgens die b-mol en b-duur-skaal leer sing, om met die huisgodsdiens te kan saamsing.  Dikwels het die pa ‘n kind aangesê om by die huisgodsdiens ‘n vers wat gesing moes word, in te sit.  Seuns moes die psalmboek saamneem veld toe en agter die skape of beeste op eie houtjie leer om die wysie reg te sing.  Die ouers het nie graag vir hulle kinders ‘n meester aanvaar wat nie goed kon sing nie.  Die oues het vir baie psalms en gesange mooi liederewysies geken, wat later verlore geraak het omdat dit nooit neergeskryf is nie.

 

Die eindeksamen

As die kind volgens die ouers oud genoeg en slim genoeg is, het hulle hom aanneming toe gestuur.

Hulle het gedink hy moes daarna op sy eie bene staan en hy het gedink hulle sal hom nou as volwasse beskou en dat hy aan ‘n huwelik kan dink.  Maar die predikant wou altyd hê dat jy goed moet kan lees, dat jy die Bybelse geskiedenis goed moet kan vertel en die vraeboekie uit jou kop kan opsê, voor hy jou wil aanneem.  Die predikant het altyd die Bybel as leesboek gebruik en jy moet in staat wees om ‘n gegewe hoofstuk vinnig op te soek.  Dit het van die een na die ander uiterste gegaan en dan weer na die middelste Bybelboeke.  Intussen was dit weer lees, vertel en vrae opsê.  Die arme kinders het soms van angs gebewe as hulle aan die beurt kom.  Elkeen wat deurgekom het, se vreugde was groot.

‘n Enkele keer het dit gebeur dat ‘n jongman nie voor sy huwelik belydenis van geloof kon aflê nie.  Indien hy dan later as pa ‘n kind wil laat doop, weier die predikant om die kind te doop tensy ‘n ouderling instaan vir die Christelike opvoeding van die kind  en as getuie gedurende die doopplegtigheid saam voor die preekstoel staan.  As die pa belowe om binne ses maande belydenis af te lê, is hy toegelaat om op die bekende vrae met die doop te antwoord.  Gedurende die ses maande wat dan op die doop van sy eerste kind volg, het hy dan die Bybel en die vraeboekie ywerig bestudeer!

Hierdie streng houding van die kerk het verseker dat ons mense nie in die geloof veragter het nie en nie analfabete geword het nie.  Deur aan die eise wat gestel is te voldoen, was die jongmense later in hul eie huise in staat om in die huisgodsdiens voor te gaan en later die kleinkinders te leer lees.

 

 s1

 d1

 sw1

 v1