TEKENS VAN DIE LAASTE DAE
Op verskeie plekke in die Bybel word ons gewaarsku teen die dinge wat gedurende die laaste dae van die aardse bestaan sal plaasvind. Gedurende die afgelope tye en veral teenswoordig, steek daar soveel tekens kop uit van die dinge waarteen die Skrif ons gewaasku het, dat, as ons daarna kyk, ons onteenseglik besef dat ons reeds al ver in die laaste dae gevorder het.
In 1 Timoteus verklaar die Gees van God dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang.
Deur die geveinsdheid van leraars, wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, loop mense rond wat verkondig dat mense nie moet trou nie en dat hulle sekere voedselsoorte nie moet eet nie. In 1 Timoteus 6 word Timoteus weer gewaarsku teen mense wat iets anders leer as wat die Skrif aan ons openbaar, want hulle is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd, waaruit net afguns, twis, lasteringe en bose agterdog ontstaan.Ook in 2 Petrus word die gelowiges gewaarsku teen valse leraars onder die volk, wat verderflike ketterye heimlik sal invoer en die Here verloën. Baie sal hulle verderflikhede navolg en om hulle ontwil, sal die weg van die waarheid gelaster word en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit die gelowiges trek. Die Here sal hierdie onregverdiges bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word, veral dié wat die vuile begeerlikheid agternaloop en die heerskappy verag. Hulle is vermetel en aanmatigend en skroom nie om die heerlike wesens te belaster nie. Hulle sal soos redelose diere gevang en vernietig word en in hulle verdorwenheid ten gronde gaan, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie. Hulle is waterlose fonteine, miswolke, voortgedrywe deur ‘n stormwind, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word.
Onder hulle sorteer diegene wat vandag ewe vriendelik te vertelle het dat daar geen God is nie, dat Christus nie geleef het nie, dat Hy nie uit ‘n maagd gebore is nie, dat die Bybel ‘n boek met ‘n klomp fabels is, dat alle godsdienste tot die saligheid in God lei, dat God te liefdevol is om sondaars te straf, dat daar nie ‘n hel is nie en nog ‘n hele boel onsin waarmee die Satan hulle indoktrineer.
Ek het onlangs in ‘n geskrif insae gehad waarin beweer word dat daar geen Drie-enige Godheid bestaan nie, Christus word daarin net die “eersgeborene” genoem. Die opstellers en belyers van hierdie stuk se God is die “Heilige Gees YÂHVÂH”. Hulle bely darem eerlik dat hulle nie Christene is nie.
Die Woord van die Here sê in die laaste dae sal ons sulke dinge teëkom. Ek wonder hoe lank dit nog gaan wees voordat ons liewe Here Jesus weer op die wolke gaan kom? Sal dit nie ‘n wonderlike dag wees nie!!!
J P Botha











