____________________ HOE ONS VOOROUERS GELEEF HET (5)
Die Vierperdewa
Die rytuig om te gaan trou
Die liedjie, “Daar kom die wa, die vierperdewa, hy het nie naam nie, sy naam moet hy nog kry”, wat ons vandag nog by volkspeletjies sing, se Vierperdewa was ‘n soort spaaider (“spider”) waarmee die jongmense vanmelewe dorp toe gery het om te gaan trou.
Die hofmakery was heel anders as vandag.: ‘n Jongkêrel wat by ‘n sekere dogter wou gaan kuier, het eers vir sy pa en ma gevra wat hulle van haar dink. As hy ‘n bietjie skrikkerig vir sy pa was, het hy vir sy ma gevra om met sy pa te gaan gesels. As die dogter heeltemal teen die sin van sy ouers was, het hy later maar ‘n ander keuse gedoen en weer die storie herhaal. Indien sy ouers toestem, kry hy sy beste pak klere gereed, saal die fluksste perd op en ry. Kom hy by die nooi se woonplek, vra hulle of hy wil afsaal. Die perd kom op stal en die seun word binnegenooi. Die huisgesin weet goed waarom hy daar is en aan hulle houding kan hy agterkom of hy wekom is of nie.
Die hofmakery met die jong nooi
Die kêrel moet die nooi se ouers vooraf inlig waarom hy daar is. As hulle teen sy besoek gekant is, kan hy maar getroos weer sy perdjie vat en huis toe ry, maar as hulle niks teen hom het nie, dan kan hy die dogter gaan vra. As sy merk dat haar ouers met hom tevrede is, dan weet sy ook dat sy familie haar ouers se respek wegdra. As die twee nou by mekaar begin kuier, dan weet hulle hul kan op albei se ouers se volle toestemming reken.
Na die kêrel se eerste kuier, besluit hulle wanneer hy weer sal kom. Nie te lank daarna nie, ken die perd al die pad na die kuierplek. Hy weet goed waar die stal is, waar hy die beste voer gaan kry en hy weet ook dat elke kuier nie baie lank duur nie, want die jongkêrel was op sy goeie naam gesteld en het nie van die kuierplek ‘n lêplek gemaak nie, maar gewoonlik het hulle met die derde opsitslag al oor die verlowing gepraat.. As hulle verloof raak, het hulle dit nie publiek gemaak nie.
Die trouplanne
Die troudatum is gewoonlik ook sommer gou bepaal. Op ‘n goeie môre nadat die jongmense die aand ‘n bietjie gesels het, kom die jongkêrel met ‘n knop van angs in die keel na die ouers van die nooi om hulle voornemens bekend te maak. Hy het amper nie geslaap nie, soos hy heelnag gedink en prakseer het wat hy vanmôre vir haar ouers gaan sê, maar uiteindelik kry hy dit uit dat hulle dogter en hy besluit het om te gaan trou en dat hy hoop dat dit nie teen hulle sin sal wees nie. Natuurlik is daar dan geen beswaar nie en hulle begin met voorbereidings vir die troue. Na die bekendmaking en die opplak van die gebooie, verloop so naastenby vier weke. Al was die dorp ver, was daar geen ander plek waar die huweliksband geknoop kon word nie.
Die perde mooi versorg
Vier mense het gewoonlik saamgery, die bruid, die bruidegom, die strooimeisie en die strooijonker. Vir hierdie swaar vrag is nie ‘n kar gebruik nie, maar die vierperdewa, ‘n lekker rytuig op vier wiele, met lekker sagte vere en genoeg plek vir vier mense, amper soos ‘n groot “spider”, maar eenvoudiger afgewerk.
Dit het mooi gelyk as die vier blesse met wit voete so in die tuie klim as hulle wegtrek.
Die predikant of landdros se tyd om die mense te trou, was gewoonlik om tienuur die môre. Hulle het dan al die vorige aand tot naby die dorp gery en by bekendes geslaap, waarvandaan hulle die
volgende môre verfris, en opgetof by die huweliksbevestiger aangekom het, Nadat die huweliksband gelê is, het hier en daar ‘n bekende hulle kom gelukwens. Dan laat vat hulle maar gou-gou weer huis toe. Op die heenreis is die vier perde ‘n bietjie gespaar, maar op die terugreis moes hulle weet dat dit ‘n eer is vir ‘n perd om die vierperdewa te trek. Waar hulle dit kon reël, het hulle na elke 12 myl se ry, van mense langs die pad weer vier vars perde gekry om weer te kon voortspoed.
Die reis huis toe
Dit was vir jou iets om te sien, te aanskou en te beleef! Die vier vars perde loop of daar geen wa agter hulle is nie. Op vier of ses myl van die huis kom vriende op perde hulle tegemoet en dis ‘n gejuig en ‘n gehoera-skreeuery sonder end.. ‘n Ruiter met ‘n vlag aan ‘n sweepstok ry vooruit. Die ander ruiters is nou voor, dan langs, dan agter die wa. Die vier diere voor die wa steek aan by die ander perde en wil net hardloop. Vir die laaste trek is ook nog vir vier van die mooiste, ratsste en sterkste perde gesorg. Die drywer kry swaar om hulle te beheer en hou vir al wat hy werd is. Lang ente ver moet hy maar die briek vastrap en soms draaie in die veld gooi om die perde ‘n bietje te laat bedaar.
As die wa vir die mense by die huis in gesig kom, begin die een helfte te sing: “Daar kom die wa, die vierperdewa!” terwyl die ander helfte hulle met loskruitsarsies verwelkom. ‘n Paar minute lank sing en skiet dit deurmekaar en dan maak die wa sy laaste draai en hou voor die deur stil. Dadelik is alles stil. Die mense word uit die wa gehelp en na binne geneem, waar hulle op ‘n mooi versierde plek gaan sit. Almal teenwoordig word gehaal om hulle geluk te wens.. Die strooimeisie lei al die mans na binne en die strooijonker bring al die vroue om die egpaar geluk te wens.
Die gelukwense
Gelukkig is elkeen se wense nie lank nie, maar nogtans is die moeë paartjie bly as dit verby is. Daarna kry die egpaartjie die eerste kans om te gaan sit en iets te eet en te drink. Almal word onthaal op koek en koffie, eiegemaakte bier of lemoenstroop en soms ook op wyn. Van kos en drinkgoed s daar ‘n oorvloed.
Plesier
Na die eet en drink kom die speletjies, maar kort-kort hoor jy die bekende refrein van “Daar kom die wa!” Hulle dink ne daaraan dat die wa al by die huis staan nie. Die plesier hou aan tot laat in die nag. Die bruidspaar glip nie weg nie, maar doen mee tot die laaste.
Die plesier eindig eers in die vroeë oggendure en dan kom die “vierperdewa” uiteindelik tot rus, totdat ‘n volgende paartjie hom nodig kry.











