____________________ HOE ONS VOOROUERS GELEEF HET (3)
In hierdie interessante rubriek het ons al gekyk hoe hulle hul plase uitgemeet het en hoe hulle koeëls gegiet en gewere gelaai het.. Nou gaan ons kyk na die pragtige BUURSKAP wat hulle in daardie tyd onderling gehandhaaf het..
Die hoeveelheid hekke.
As ons bevoorreg kon wees om saam met hulle in die pad te ry, sou ons steen en been gekla het oor die baie hekke wat ons moet oop- en toemaak.
Amper elke plaas is opgesny in klein stukkies, afsonderlik toegemaak met draad. Waar die pad oor die lyne van ‘n stukkie grond gaan, is ‘n hek. Soms is die stukkies so klein dat ‘n swart klonkie wat saamgevat word vir die hekke, maar van die een hek na die ander kan loop in plaas van elke keer op en af te klim. Al die hekke maak dat die perde, beeste en skape nie so maklik wegraak nie, maar vir die reisiger is dit baie lastig.
Die outydse verhouding van bure
Die oumense het in hulle jong dae nie draad geken nie en ‘n man het ook nie omgegee dat ‘n buurman se vee op sy plaas loop nie. Die veld was vry vir elkeen. Dit het ook sy skadukant gehad want die vee het dikwels op soek geraak. As die wagter nie mooi opgelet het nie, het hulle ‘n verkeerde koers ingeslaan, en by die buurman s’n uitgekom. Buurman het dan gemaak of dit sy eie is en hulle mooi versorg totdat sy buurman hulle weer kon laat haal. Bure was goedgesind teenoor mekaar en het mekaar gehelp.
Vee in die veld in gevaar
Die vee wat ‘n nag in die veld sou uitbly, was altyd in gevaar om verskeur te word, want die ongediertes was oral volop. Vee wat uit die hande geraak het, kon dus alleen veilig wees as dit deur die man wat dit raakgeloop het, by sy eie in die kraal toegemaak is vir die nag. Die eienaar het dan na sy diere gaan soek, maar die veld was oop en dit het maklik gebeur dat hy drie uur te perd of nog verder in ‘n verkeerde rigting gery het, soms ‘n week of langer gesoek het en nog niks gehoor het van die verlore goed nie.
Ou boeregewoonte
Dit was daarom ‘n vaste gewoonte dat elke man wat vreemde diere raakgeloop het, aan elkeen wat hy by kom, vertel hoeveel diere hy gekry het, wat hulle kleur en hulle oormerk is en dan vra om dit rond te vertel. Al het dit op hierdie wyse soms lank geneem, het elke man uiteindelik weer sy vee teruggekry in ‘n ewe goeie toestand as of hy dit self opgepas het, want elke môre met sonop moes al die veel uit al die krale uit wees.
Die veewagter en wilde diere
Die wagter het dan al sy eerste maaltyd agter die skape geniet en dra ‘n bladsak saam met kos vir die tyd wat hy in die veld sou bly. Die vee moes vroeg veld toe en die wagter moes die hele dag by hulle bly. Hy kon nie waag om die diere ‘n paar uur te laat staan en by die huis te gaan eet nie, want die wilde diere was soms só astrant dat hulle in die helder ligdag skape verskeur het. Ongediertes wat in die dag baie gepla het, was veral hiënas, wildehonde en jakkalse. Die wildehonde het in klompies gejag , hol tussen die klomp beeste of skape deur sonder om te bly staan maar ruk en skeur van elke dier wat hulle bykom, ‘n stuk vleis af en beseer die diere so ernstig dat die eienaar verplg is om die diere keel af te sny. Elke wagter was daarom gewapen met ‘n roer en die eienaar het die swartes wat as veewagters in die veld moes bly, geleer om te skiet. Al het die wagter dan nie die ondier raak geskiet nie, het die lawaai wat hy gemaak het, hom darem laat skrik en op die vlug geja.
Vee in diekrale
Elke aand moes al die vee in die krale kom en die wagter moes sorg dat hy voor sononder by die huis is, want die baas wil alles deurkyk en tel om te weet of daar goed weg is.. As die wagter ‘n bantoe of hottentot was, dan het dit soms gebeur dat hy nie al die diere gebring het wat hy in die môre saamgevat het nie en dan moes hy kom verslag gee, wat ook maar moeilik was. As die wagter een van die seuns van die boer was, was daar maar selde iets verkeerd, want hy kon van elke dier verslag gee. As daar vee van een of ander buurman opgevang en saamgebring is dan het die seun baie keer geweet wie die eienaar was, want hy het goed geweet van watter kant af die vee gekom het. En so het die boer geweet wie se vee het by hom uitgekom. Hy het die volgende môre laat opsaal om vir die eienaar van sy vee te gaan vertel. In die nag moes alles in veiligheid gebring word in die kraal, wat van klei of klipmutre gemaak was.
Op die nuwe plaas
As ‘n boer op ‘n nuwe plek aangekom het, moes hy maar gou ‘n kraal van doringtakke maak, waardeur ongediertes nie kon kom nie. As daar nie doringbome was nie, het hy sy vee by ‘n buurman laat bly totdat hy ‘n plan kon maak. Bure was lief vir mekaar en het mekaar gehelp en gesteun. Kain se verweer dat hy nie sy broer se oppasser was nie, was nie op die Voortrekkerfamlies van toepassing nie.
Besoekers op die plaas
Die ou Voortrekkermense was bly om kuiermense te kry. As hulle in die verte ‘n wa sien aankom, word hy dopgehou. Draai hy met die pad af huis toe, dan roep die kinders “Ma, die wa kom hiernatoe!”
As die wa op die werf stilhou, staan die baas van die huis in die deur.Die baas van die wa en die huisbaas stap nou heel kalm na mekaar toe om halfpad tussen die wa en die huis by mekaar te kom.
Hier groet hulle mekaar en vra die bewoner van die huis aan die ander of hy nie wil uitspan nie.. As hy ja sê, word vir hom gewys waar die beste veld vir die osse is, waar hulle water vir die diere kan kry en waarvoor die wagter moes oppas.
Die bewoner van die huis laat help uitspan deur sy seuns of bediendes, of help self en dan gaan die twee mans huis toe. Indien by die wa ook vroumense is, word hulle na binne genooi en die vrou van die huis gaan na buite om die vrou van die wa te ontmoet. Die ontmoeting, die versoek om binne te kom , die wys van die veld en water , is volgens min of meer vasgestelde reëls gedoen, maar as die eerste ontvangs verby is, moet die kuiermense, al was hulle nog vreemdelinge wat mekaar nou vir die eerste keer in hulle lewe sien, behandel word soos mense wat aan die huis behoort het. Alles wat by en in die huis is, wat kos of drinke betref, was vry om te gebruik. Die mense wat van die wa afgeklim het, moes die huis beskou as hulle s’n met alles wat daarin is. Hulle mag niks meer gebruik van die goedjies wat op die wa is nie. As hulle probeer om van die wa se goedjies te vat of by te sit, dan is dit as ‘n belediging opgeneem deur die bewoners van die huis. As die besoekers in die vrugtetyd aankom, hoef hulle nie na vrugte te vra nie, maar moes net aanstap bome toe om te eet soveel as wat hulle wou
Indien die mense met die wa dieselfde dag nog verder moes gaan, word hulle na ‘n paar uur met die inspan gehelp en verkwik en verfris het hulle dan die reis hervat. As daar kans was om langer te bly, moes hulle die hele dag eet en drink by die huis, die aandgodsdiens ook bywoon, maar met slaaptyd na hul eie wa gaan. Hulle het op die wa in die tent op hul eie bed geslaap. As die mense by die wa trekmense is wat graag die osse ‘n paar dae wou laat rus, dan het hulle bly oorstaan so lank as wat hulle wou, maar het dan weer in hulle eie onderhoud voorsien. Maar wat die mense kortgekom het, kon hulle maar by die huis gaan haal en mag nooit na die prys vra nie. Waar die huis se mense kon help, het hulle dit gedoen sonder om ooit vergoeding daarvoor aan te neem.
Die afskeidneem was soms maar swaar, want as die wa wegry, het dit soms maande geduur voordat daar weer ‘n ander opgedaag het.
Die ontmoeting wat halfpad tussen die wa en die huis plaasvind by die aankoms van kuermense, was in een opsig ‘n soort beleefdheidsvorm, maar in ‘n ander opsig noodsaaklik, omdat elke boer gewoonlik ‘n vreeslike kwaai hond aangehou het. Die hond kon ‘n reisiger bedreig as hy huis toe gekom het. Die boer moes die hond altyd mooi oppas as ‘n vreemde aangekom het en hy kon tog sonder ‘n kwaai hond nie klaarkom nie want die ongediertes het in die nag die huis besoek. Maar nadat die boer nie meer sulke kwaai honde nodig gehad het nie, het die ou groetgewoonte voortgeduur en by baie ou boermense is die gewoonte nog in gebruik. Die boer en sy vrou sal nog albei na buite gaan as kuiermense aankom. Hulle sal nie binne bly om die mense te laat aanklop nie. Hulle sal nog groet voor die mense by die deur is. As dit gebeur dat iemand onverwags kom, sal baie verontskuldigings gemaak word indien hy moes klop voordat hy gesien word.
As ons op die dorpe kom waar daar nog baie afstammelinge van die ou Voortrekkers is, dan is dit amper onbegryplik dat ‘n mens by hulle huise moet klop en klop en aanhou klop en as die deur nie oopgemaak word nie, moet dink dat die huis verlate is, totdat daar eindelik na ‘n lang wag ‘n bediende miskien die deur kom oopmaak om te sê dat die baas of nooi netnou sal kom. In die lewe van die mense onder mekaar het soveel verandering gekom dat ons kan uitroep: “O tempora, o mores!” (“O tye, o sedes!”) Dit skyn soms in ons tyd of die kenmerke van die hoogste beskawing die grofste vorm van onbeleefdheid is. Of is dit nie onbeleef om ‘n mens na hy geklop het lank te laat wag nie?











