VOORTREKKER-PIONIERS (4)
Die buitelandse handel misluk
Soos reeds vermeld, was een van die vernaamste oogmerke wat die Boere hulle met die verhuising na Ohrigstad gestel het die opbou van gesonde en gereëlde betrekkinge met die buiteland oor die Portugese hawe, Delagoabaai. Die vrye weg naar see, sodat hulle sonder enige belemmering met die nie-Britse wêreld, insonderheid hulle où stamland Nederland, handels- en ander betrekkinge kon aanknoop, was hulle hoofdoel. Om dit te bereik, moes hulle egter 'n goeie handelsweg na die baai vind en dit was juis die knoop: Die streek wat hulle van die baai geskei het, was besmet met malaria en tsetsevlieë en was bowendien bewoon deur vyandiggesinde naturellestamme wat vir hulle 'n voortdurende bedreiging gevorm het. Vir die Boere het die daarstelling van 'n gereëlde verbinding met die buiteland dus in die eerste plek beteken die ontdekking van 'n veilige en gesonde weg na die Portugese hawe, Lourenco Marques. Daaraan het hulle hul dan ook van die staanspoor af gewy.
Na aanvanklike teleurstellings het hulle, soos reeds aangetoon is, berig gekry van die Portugees, Joao Albasini, dat hy van 'n maklike en vliegvrye pad na die baai weet wat loop deur die gebied van Manukozi en toe met groot geesdrif begin om voorbereidings te tref om met Albasini as gids gedurende die winter van 1847 'n tog na die baai te onderneem.
Helaas, die tweedrag wat daar te Ohrigstad tussen die Potgieter-party en die volksraad geheers het, het op dié stadium reeds sulke afmetings aangeneem dat daar van 'n eendragtige optrede geen sprake meer was nie. Inteendeel, toe die volksraad uitermate dankbaar vir die aangebode hulp van Albasini besluit om sy diens met 'n erf te Ohrigstad te beloon, het hy dadelik te doen gekry met hewige weerstand van 'n aantal ondersteuners van Potgieter wat teen dié voorbarige besluit geprotesteer het omdat hulle nie kon insien waarom 'n erf aan die Portugees gegee moes word nie.
Hieraan het die volksraad hom nie gesteur nie en voortgegaan om voorbereiding vir die ekspedisie te tref. Aangesien hulle ernstig gevrees het vir moeilikhede met die opperhoof Manukozi en vir die moontlikheid dat hulle in dié geval hulle die onmin van die Portugese goewerneur op die hals sou haal, het hulle aan laasgenoemde kennis van hul voorneme gegee en in afwagting van sy goedkeuring 'n aansienlike kommando georganiseer, om die tog te onderneem. Hierdie kommando is grotendeels saamgestel uit burgers van Potchefstroom en Magaliesberg. Uit hierdie geweste alleen is 240 manskappe verwag.
Intussen het hulle dit ook raadsaam geag om Potgieter en sy mense wat natuurlik niks met die volksraad se ekspedisie te doen wou hê nie te waarsku om nie 'n soortgelyke ekspedisie te onderneem nie, aangesien die Portugese goewerneur gesteurd mag voel indien daar moeilikheid met Manukozi sou ontstaan.
Onderwyl hulle besig was met voorbereidings vir die voorgenome tog het die volksraad op 16 Maart 1847 'n brief van Smellekamp ontvang, gedateer Lissabon, 9 September 1846, waarin hy meedeel dat hy by die Portugese gaan hulp soek het aangesien die Nederlandse regering bang was om op die grondgebied van 'n ander moondheid in te meng. Hy hoop om binne ses maande persoonlik in Delagoabaai te verskyn, miskien nog vergesel van Hollandse predikante en onderwysers wat in elk geval binnekort gestuur sou kon word.
Só dankbaar was die volksraad om dié nuus te ontvang dat daar besluit is om vir Smellekamp te Ohrigstad 'n huis te bou aan 'n straat wat dan Smellekampstraat genoem sou word.
Aangevuur deur die verwagting om Smellekamp te ontmoet en ook deur 'n gerug wat Albasini versprei het as sou Delagoabaai deur Makkasana en 'n klomp Zoeloes bedreig word, het die kommissie op 12 Julie 1847 na die baai afgereis, enersyds met die oog op die handel maar ook om militêre bystand aan die Portugese goewerneur te gaan verleen. Die tog is onderneem sonder die mense uit Wes-Transvaal wat helaas nooit opgedaag het nie aangesien gerugte hulle bereik het dat daar strawwe koors te Ohrigstad geheers het en dat die Ohrigstadters ook nie van plan was om vir hulle te wag nie, daar hulle baie haastig was om te vertrek, ten einde Smellekamp wat hulle in die baai verwag het te ontmoet.
Die kommissie wat voor die einde van 1847 weer te Ohrigstad terug was, was egter 'n volslae mislukking. 'n Vliegvrye pad is nie ontdek nie. Inteendeel, die pad wat die kommissie hierdie slag gevolg het, was nog meer met tsetsevlieë besmet as enige ander. Dit het hulle egter toegeskryf aan hulle gidse, volk van die inboorlingkaptein Saradie, wat hulle dan heimlik kwaadgesind sou gewees het en hulle derhalwe moedswillig deur 'n tsetsevliegstreek gelei het.. Die Portugese goewerneur, De Zilveira, se agterdag is ook nie deur die aangebode hulp teen sy vyande uit die weg geruim nie en om alles te kroon was daar van die Hollander Smellekamp van wie soveel verwag was geen spoor nie.
As verskoning waarom hy nie sy beloftes kon nakom nie het Smellekamp aangevoer dat sy vorige ekspedisie 'n groot geldelike verlies was en dat die mense gevolglik gehuiwer het om 'n nuwe onderneming op tou te sit. Voorts het die onbestendige binnelandse toestand van Portugal sy onderhandelings met die Portugese regering belemmer. Hy en sy vriende was egter besig om sy voorgenome reis te bespoedig en as alles goed gaan, sou hy gedurende Maart 1848 te Delagoabaai aankom. Die Boere moes dus solank hulle ivoor, wol en velle gereed hou.
Hierdie berigte het skynbaar volkome vergoed vir hierdie en die vorige mislukte ekspedisies na die baai en die volksraad wat nog steeds die grootste verwagtings van Smellekamp gekoester het, het derhalwe met 'n blye gemoed 'n boukommissie benoem om met die bou van die huis vir Smellekamp op Ohrigstad voort te gaan, uit waardering voor zyn onvermoeide pogingen, jaren agter een aangewend ter verkryging hunner begeerte.
Smellekamp het ook nie stil gesit nie. Die ontbinding van die Hollandse handelsmaatskappy wat in 1842 deur Ohrig, Kooy en Swart opgerig is, ten gevolge van die groot geldelike verlies wat die vorige ekspedisies na die Voortrekkers opgelewer het, het sy ondernemingsgees en optimisme nie gedemp nie. Met onvermoeide ywer het hy voortgearbei om mense in Europa vir die handel met die Boere geïnteresseerd te kry en het dit werklik reg gekry dat in Desember 1846 'n nuwe onderneming, te wete die Hollandse Handel en Redery Maatskappy, gesteun deur manne soos professor Lauts, A Hoogendyk en J Pynappel, in die lewe geroep is met die doel om die begeerde betrekkinge met die Boere aan te knoop.
Hierdie maatsksppy kon egter nie al vroeg in 1847 'n skip na Suid-Afrika uitstuur soos Smellekamp gemeen het toe hy sy optimistiese brief aan die volksraad gerig het nie. Die nodige aandeelhouers moes nog eers gewerf en ander voorbereidende maatreëls getref word voordat daar aan die uitstuur van vragte gedink kon word en dit het baie tyd in beslag geneem, veel meer as wat Smellekamp vermoed het toe hy optimisties gedroom het om teen Maart 1847 in Delagoabaai te wees. Trouens, dit was reeds Februarie 1848 toe die eerste handelsvaartuig van die nuwe maatskappy,die Animo, met sy vrag bestem vir die Boere die Hollandse kus verlaat en na Lissabon geseil het, waar die nodige reëlings getref sou word vir die skip om sy verdere suidwaartse reis onder Portugese vlag voort te sit. Dit was nie bedoel as 'n handelstog nie, het die bestuur van die maatskappy in 'n brief aan die volksraad verduidelik, maar as 'n ekspedisie om ter plaatse ondersoek te kom instel wat daar te handel is. Hulle sou dan ook graag inligting van die volksraad wou ontvang aangaande sake wat vir die voorgenome handel van belang was, soos byvoorbeeld die grootte, die aard en gesteldheid van die grondgebied, die bevolking, die produkte wat die Boere te koop kon aanbied en die artikels wat deur hulle benodig word.
Intussen het die volksraad, in weerwil van die mislukking van die ekspedisie van 1847, die hoop om 'n vliegvrye pad na Delagoabaai te vind nie laat vaar nie en onderwyl die Animo onderweg na die suide was, planne beraam om weer 'n ekspedisie na die kus te stuur om met behulp van Joas se volk 'n veilige pad na die baai te soek. Hulle was van plan om tot by Inhambane deur te dring, om ook die handelsmoontlikhede aldaar te ondersoek.
Die kommissie wat onder andere ook Jacobus Burger, Dawid Joubert en Carolus Trigardt ingesluit het, het aan die begin van Julie 1848 op hulle reis vertrek en was so gelukkig om in Delagoabaai aan te kom op dieselfde tydstip waarop die Animo, van wie se koms hulle natuurlik geen kennis gedra het nie, aldaar anker gewerp het. Hulle kon dus eindelik persoonlik met Smellekamp in aanraking kom.
Van handel was daar egter geen sprake nie. Smellekamp kon blykbaar in Lissabon nie daarin slaag om die Animo onder Portugese vlag te laat vaar nie en die Portugese owerheid te Delagoabaai het geweier om Smellekamp toe te laat om onder Hollandse vlag met die emigrante handel te drywe en die handelsartkels op die Animo kon dus nie aan wal gebring word nie. Al wat Smellekamp inderdaad aan die kommissie kon oorbring, was die bo-aangehaalde brief van die bestuur van die Hollandse Handel en Redery Maatskappy, waarop hy 'n onmiddellike aantwoord versoek het en die versekering van 'n suksesvolle handel in die toekoms, want ondanks die houding van die plaaslike Portugese owerhede was hy nog gladnie pessimisties nie en het hy die kommissie hand en mond belowe dat hy binne 15 maande onder Portugese vlag terug sou kom met 'n nuwe handelsvrag.
Voorts het hy 'n onderwyser vir hulle aan wal gesit, 'n sekere HT Bührmann, wat later 'n groot rol in Transvaal sou speel...Daarna het hy Kaap toe geseil waar hy 'n klein deeltjie van sy vrag verhandel het en het toe met die res teruggevaar Holland toe waar hy twee dae voor oujaarsdag aangekom het. Hy het die antwoord van die volksraad op die handelsmaatskappy se brief van Januarie 1848 aan die bestuur oorhandig. Dit het besonderhede bevat aangaande die produkte wat die Voortrekkergebied kon uitvoer en van hul eie behoeftes, waarvan volgens hulle brief dié aan 'n predikant en goeie onderwysers inderdaad die dringendste was. Origens het dit verwyte bevat, aan die adres van die oú maatskappy gerig, as sou dié inderdaad daarvoor verantwoordelik wees dat hulle die trek na Ohrigstad aangepak het.
Die klaaglike mislukking waarop die ekspedisie uitgeloop het, het aan die maatskappy 'n uitklophou besorg en Smellekamp se versekerings aan Pynappel dat daar wel 'n suksesvolle handel met die Boere-emigrante tot stand gebring kon word, kon dit nie weer van die skok laat herstel nie. In April 1849 is dit ontbind en het nog 'n goedbedoelde poging vanuit Holland om die Voortrekkers te help in die sand verloop, tot groot misnoeë van Smellekamp aan wie die mislukking van die onderneming gewyt is.
Gelukkig maar het die Ohrigstadters, wie se poging om na Inhambane deur te dring ook misluk het, niks hiervan geweet nie. Hulle het dus, voortbouend op die beloftes van Smellekamp, onversaagd voortgegaan om sover dit in hulle vermoë was die struikelblokke wat die handel belemmer het uit die weg te ruim. Hulle het intussen reeds minstens twee geskikte roetes na die baai ontdek, blykbaar redelik vry van vlieë en het hulle nou daarop toegelê om ter bespoediging en vergemakliking van die handelsverkeer 'n behoorlike pad na die baai te maak. Hierdie gebaande weg wat 'n ruime afstand deur Umswaas se grondgebied sou loop, sou onder toesig van Jan de Beer en Willem Neethling tegelykertyd aan albei kante van die bergreeks aangepak word en 'n groot deel van die koste daaraan verbonde sou uit vrywillige bydraes gedek word, by name die voedsel soos mielies, koring, slagvee en gereedskap soos koevoete, pikke, ensovoorts wat vir die werkers nodig was en nou gekollekteer is.
Reeds vroeg in September 1849 kon Jan de Beer aan die volksraad rapporteer dat die pad, sover dit oor die gebied van die republiek gegaan het, voltooi was en dat Umswaas ook die gedeelte wat deur sy gebied geloop het in orde gebring het. Die enigste stuk wat nog gemaak moes word, was dié in die Portugese gebied en daaraan was swartes reeds besig in opdrag van die Portugese goewerneur wat onderneem het om vir die weg van die Portugese grens af tot by Delagoabaai te sorg.
Intussen het die raad ook nie nagelaat om met die oog op die buitelandse handel die samewerking en welwillendheid van die Portugese owerhede te verkry nie. Hulle was vasberade om teen elke prys 'n herhaling van wat met Smellekamp se vorige besoek aan die baai gebeur het te voorkom en gevolglik het daar vroeg in 1850 weer 'n kommissie bestaande uit Andries Spies, Cornelis Potgieter, Philip Coetzer, Hendrik Bührmann en Carolus Trigardt, wat as tolk sou optree, na die baai vertrek om met die Portugese goewerneur, JC de Andrade, te gaan onderhandel.. Dit sou geskied met die oog op beter vriendskaps- en handels- betrekkinge en ook om die oosgrens van die republiek nader aan die baai te probeer verskuif.
De Andrade was oënskynlik vriendskaplik genoeg. Hy het selfs, sowat 'n maand nadat hy met die kommissie 'n voorlopige ooreenkoms aangegaan het soos deur hulle begeer is, persoonlik na Ohrigstad gekom waar hy verskillende mooi beloftes aan die volksraad gedoen het. Hy sou onder andere kanonne aan die Boere verskaf, hulle toelaat om vryelik ammunisie in die baai te koop, hulle teen naturelle beskerm, hulle toelaat om op Portugese gebied te kom jag en die Lebombogebergte as grenslyn tussen die Portugese en Transvaal erken; maar hoe vriendskapllk hy ook al gelyk het, sy base in Lissabon was geensins van plan om aan sy beloftes gevolg te gee en sy ooreenkoms met die Boere te bekragtig nie.
Die Trekkers het egter geglo dat alle moeilikhede nou uit die weg geruim was en het reikhalsend uitgesien na die volgende besoek van hul Hollandse vriend, JA Smellekamp, wat getrou aan sy belofte om onder Portugese vlag terug te kom reeds vroeg in 1849 al weer besig was om persone in Holland se belangstelling in 'n nuwe ekspedisie na Suid-Afrika op te wek. Die heer J Pynappel en professor Lauts het weer eens hierin belang gestel.
Teen April 1850 het sy planne alreeds sóver gevorder dat daar in Amsterdam 'n prospektus, onderteken deur die broers Heemskerk, JCJ Knegt en M Weimar ten Cate gesirkuleer het vir eene op te rigten Reedery en ten doel hebbende het daarstellen eener Handels- en Zedelyke gemeenschap tussen Holland en die Boere in Ohrigstad. Gedurende Julie van dieselfde jaar het Smellekamp in Lissabon met die Portugese owerheid in verband met die ekspedisie gaan onderhandel, maar sy planne wou nie na wense vlot nie. Hy kon eers geen Portugese skip bekom nie en die reis moes weer uitgestel word.
Na enige maande is Smellekamp se ywer egter met sukses bekroon en kon voorbereidings getref word vir die reis na die suide met die Portugese skip Vasco da Gama. Daar sou drie onderwysers, die here Poen, Van der Linden en Spruyt met die ekspedisie na die Boere saamgaan en benewens handelsware sou daar ook 'n aantal boeke saamgeneem word.
Die Vasco da Gama het in Desember 1850 uit Texel vertrek en in Julie 1851 in Delagoabaai aangekom. Dit was egter net te laat vir die Boere wat, oorywerig om die goed gezouten huiden, ivoor en schapenwol en ander handelsartikels deur Smellekamp aangevra, bymekaar te maak en alles vir die handel gereed te maak, intussen al weer besluit het om gedurende Mei 1851 'n kommissie na die baai te stuur om die pad weer 'n slag in orde te bring. Hulle het verwag dat Smellekamp teen April, of op sy laaste teen Julie in die baai sou aankom en het dan ook besluit om hom te laat weet dat hy hulle onmiddellik van sy aankoms moes verwittig deur middel van twee rapporte wat oor twee verskillende roetes gestuur moes word..
Die kommissie, bestaande uit 29 man met 11 waens, het op 15 Mei 1851 na die baai afgereis. Hulle sending het egter slegs 'n ryke oes aan teleurstelling opgelewer. In die eerste plek kon hulle nie daarin slaag om 'n behoorlike terugvrag vir die skip bymekaar te maak nie omdat die olifantjag misluk het en toe hulle in die baai aankom, het hulle osse die een na die ander begin vrek aan 'n onverwachten en heevigen ziekten, met die gevolg dat hulle verplig was om op 25 Julie, nadat hulle ongeveer 100 trekosse verloor het, afgesien van een van die lede van die geselskap wat langs die pad gesterf het, huiswaarts te keer, vyf dae voor Smellekamp se aankoms in die baai! Hulle het gekla dat die water in die baai vir die osse ongesond was om te drink en dat die pad vanaf die Lebombo na die see met volop tsetsevlieë besmet was.
Op hulle terugreis moes hulle nog boënop die veyandigen gezindheid en handelwyze verduur van Umswaas wat geweier het om hulle in hul nood aan trekosse te help. Afgesien van die giftige vlieë was dit dus ook nog gevaarlik vir 'n klein reisgeselskap om deur Umswaas se landstreek te trek.
Die kommissie was dus 'n volslae mislukking. Ten spyte van die ontberings en gevoelige verliese wat die geselskap gely het, het hulle van Smellekamp niks gewaar nie en dus niks nader gekom aan die verwesenliking van die vurig gekoesterde ideaal van 'n gereëlde verbinding met Holland nie.
Vir Smellekamp wat op 30 Julie in Delagoabaai geland het, was dit 'n bittere teleurstelling om te verneem dat die kommissie vertrek het. Hy het die volksraad dan ook onverwyld per brief van sy aankoms verwittig. In die brief sê hy dat hy 'n skeepsvrag goedere het, in ruil vir ivoor, wol, gezouten of goed gedroogde huiden en vellen, ossen en renoster hoorns. Die raad, wat die brief in Augustus 1851 ontvang het, het egter nie kans gesien om onmiddellik weer 'n kommissie baai toe te stuur nie omdat hulle op hierdie tydstip baie besig was met kommandering en ander oorlogsmaatreëls om die dreigende oproerigheid van die swart stamme in die omgewing die hoof te bied.
Smellekamp se teenwoordigheid in die Portugese hawe het die ingesetenes van Lydenburg nogtans met nuwe moed besiel en die oú vertroue wat die Trekkers in hom gehad het weer lewendig laat opvlam, omdat zyne tegenswoordigheid onder ons van al te grote aanbelang is. Toe omstandighede dit dan ook toelaat, het daar aan die begin van September1851 'n kommissie onder leiding van Bührmann, C Potgieter, WF Joubert, GJ Joubert en JJ Burger na die baai afgereis om Smellekamp te gaan ontmoet en om handel te dryf. Hulle was egter te laat vir die Hollander wat op 30 Augustus aan die volksraad geskywe het dat hy na Mosambiek vertrek om aldaar met die hoër outoriteite in verbinding te kom met die oog op die bestendiging van die handel en dat hy eers weer teen Desember na Delagoabaai sou terugkeer.
Die kommissie wat op 27 September 1851 in die baai aangekom het, het darem 'n kwart van die skeepsvrag onder sorg van Smellekamp se agent daar aangetref en kon dus wel sake doen. Tot hulle teleurstelling het hul eie produkte egter veel minder opgelewer as wat hulle verwag het. Wel het die horings en ivoor redelike pryse behaal maar die velle en ander produkte was baie swak op prys. Die pryse van die handelsartikels wat Smellekamp meegebring het, was daarenteen buitensporig hoog, volgens Stuart feitlik deurgaans hoër as wat die Boere aan deurtrekkende handelaars uit Natal moes betaal terwyl minder waarde aan die goedere van die Trekkers toegeken is as wat hulle gewoond was om van dié plaaslike handelaars te ontvang. Daarom is die kommissie tot die slotsom gedwing dat den handel met ons op zoodanigen voet was ingerigt dat dezelven onmooglyk eenen goeden uitkomst kan opleveren.
Die Boere het dan ook, sover ons kon vasstel, in Desember 1851 nie weer 'n kommissie na die baai gestuur om Smellekamp te gaan ontmoet wanneer hy van Mosambiek af sou terugkeer nie; gelukkig ook maar, want Smellekamp het eers in Februarie 1852 in Delagoabaai aangekom sonder dat hy iets van belang in Mosambiek uitgerig het. Al wat die ekspedisie hom blykbaar geleer het, was, soos hy dit in 'n brief aan die volksraad uitgedruk het, dat die Portugese geene andere zaken voorstaan dan die hen, in hun particulier, geld in de zak kunnen brengen.
Die Portugese goewerneur van Mosambiek het geweier om 'n vorige belofte van hom na te kom, naamlik om die vestiging van 'n handelskantoor aldaar en ook by die ander Portugese hawens toe te staan en het so 'n ongunstige houding ingeneem dat Smellekamp al weer planne begin beraam het om die Boere vanaf Kaapstad of Port Natal te bereik. Die lede van die Hollandse handelsmaatskappy het egter, met wrewel teenoor Smellekamp vervul, besluit om die redery te ointbind omdat die ekspedisie met die Vasco da Gama, soos trouens alle vorige pogings, miluk het. Daarmee het dan ook aan Smellekamp se awenture 'n einde gekom. Hy het nou besluit om na Transvaal te verhuis met die voorneme om hom hier as handelsagent te kom vestig, ten einde ook de zedelyke belangen dier vrienden bevorderlyk te wezen......voor zoo verre myne geskiktheid daartoe strekt.
Soos reeds aangetoon is, het Smellekamp die Portugese daarvan beskuldig dat hulle onwillig sou wees om die handel met die Boere in die binneland te bevorder. Nieteenstaande 'n vriendskapsverdrag in 1850 met die Portugese owerheid in Delagoabaai gesluit, het die Boere self ook tot die ontnugtering gekom dat die Portugese in die baai hulle feitlik vyandiggesind was en dat die Boere se teenwoordigheid in Lourenco Marques skaars meer geduld word. Hulle het die Engelse van konkelry in hierdie verband verdink omdat hulle redeneer het dat die Kaapse owerheid graag die alleenhandel met die Boere in die binneland wou bly behou.
Waarom die Portugese owerheid dié houding ingeneem het, is nie heeltemal duidelik nie. Die gedagte bestaan dat hy die Groot Trek as 'n bedreiging vir sy koloniale ryk vanaf Lourenco Marques tot by Quelimane beskou het en dit daarom selfs oorweeg het om in militêre samewerking met die Engelse teen die Trekkers op te tree.
Hoe dit ook al sy, die handelsvoordele wat die Boere in die binneland aan die Portugese hawe kon besorg, is nie deur Lourenco Marques benut nie. Vreemde skepe kon by Mosambiek anker werp maar is feitlik nooit by die ander ondergeskikte hawens aan die Afrikaanse ooskus toegelaat nie en Portugal self het gedurende hierdie tydperk maar selde 'n skip na Delagoabaai gestuur. Die destydse onbestendige binnelandse toestand van Portugal het daartoe bygedra dat die Portugese owerheid weinig of geen belangstelling vir die handelsmoontlikhede met die Boere gekoester het nie omdat Portugal op hierdie stadium in 'n toestand van uiterste swakheid op die suid-ooskus van Afrika verkeer het.
Afgesien van hierdie struikelblokke het die Portugese handels- regulasies die uitstuur van handelsvaartuie alleen oor Lissabon moontlik gemaak, sodat dit die reëlings van Hollandse handelsmaatskappye aansienlik bemoeilik het.
Engeland was bewus van die Portugese se magteloosheid om Delagoabaai, de schoonste haven van geheel de Afrikaanche kust, deur suksesvolle handel te laat opbloei en het begeer om hierdie hawe self te besit. Omdat die Britse regering gevrees het vir die moontlikheid dat die Boere se handel met die buiteland oor Delagoabaai hierdie hawe se opbloei sou bevorder, tot skade van die handel oor Kaapstad, is die toestand noukeurig dopgehou.
Die Kaapse owerheid het deur middel van majoor Smith en luitenant-goewerneur Pine gedurig verklarings van reisigers uit die Trekkergebiede aangaande die handelstoestand met Delagoabaai afgeneem en inligting hieroor aan die Britse owerheid gestuur.
Toe kaptein Van der Meyden van die Animo in 1848 in Kaapstad aankom, is hy noukeurig ondervra oor watter ware hy alles in Delagoabaai aan wal gesit het, veral wat die hoeveelheid buskruit betref en of hy doeanebelasting daarop betaal het.
Die Britse owerheid het selfs in Holland inligting ingewin en daarop aangedring dat die uitvoer van wapens en ammunisie na die Trekkergebiede uit Nederlandse hawens verbied moes word. Hieraan is uitvoering gegee en volledige vraglyste van die Hollandse skepe wat na Delagoabaai sou seil, is aan die Britse gesante oorhandig nog voordat hierdie skepe die Hollandse hawens verlaat het. Daar is selfs volledige inligting oor die swaar verliese wat die Hollandse handelsmaatskappye tydens hulle togte na Lourenco Marques gely het aan die Britse owerheid verskaf.
In 1848 het Britse handelsmaatskappye alreeds op groter handelsgeriewe te Delagoabaai aangedring, maar hulle het spoedig bemerk dat Britse handelsbelange nie 'n ernstige bedreiging deur die Trekkers se handelsverkeer met die Portugese kusgebied hoef te vrees nie.
Holland het gedurende hierdie periode 'n politiek van versoening en vriendskap met sterker moondhede soos Engeland gevolg en nie geaarsel om te verklaar dat hy glad nie Smellekamp se doen en late goedkeur nie. Omdat die Hollandse regering dus geen ondersteuning aan die pogings van die private handelsmaatskappye gegee het nie en dit boonop nog teengewerk het, was sulke ekpedisies van meet af aan tot mislukking gedoem, veral daar die gebied waar die Boere gevestig was geen ryke handelsveld gebied het nie en het die maatskappye wat die Brazilië, die Animo en die Vasco da Gama uitgestuur het sulke gevoelige verliese gely dat daar nie kans gesien is om met die ondernemings voort te gaan nie. Selfs 'n optimis soos Smellekamp moes uiteindelik moed verloor.
Een van die faktore wat daartoe bygedra het om laasgenoemde se pogings te laat misluk was die feit dat die skepe en die Boere-ekspedisies na die baai nooit op dieselfde tydstip in die hawe aangekom het nie. Gevolglik het dit die afhandeling van handelstransaksies aansienlik vertraag en so tot die geldelike verlies van die maatskappye bygedra.
Die lang afstand vanaf Ohrigstad en Lydenburg na Delagoabaai, die moeilikhede om 'n goeie pad oor hierdie afstand te maak, soos die gebrek aan werksvolk, gereedskap en geld om die nodige arbeidskragte te huur, sodat benodighede selfs gekollekteer moes word, het in ruime mate tot die mislukking bygedra.
Soos reeds aangetoon is, was 'n groot gedeelte van hierdie roete met tsetsevlieë besmet, sodat elke tog na die baai gewoonlik met 'n gevoelige verlies aan trekosse gepaard gegaan het. Die gedeelte van die pad tussen die Lebombo en die see was die ergste met hierdie dodelike insekte besmet, sodat 'n gedagte in 1851 gekoester is om 'n pakhuis op te rig op die uiterste gesonde plaats, daar alle toevoer on(t)vangen en uitvoer afgelevert kan worden, en daar een ieder sonder verlies van osse komen kan. Goedere moes dan gedurende die nag met muile van die baai na die pakhuis gebring word.
Afgesien van die giftige vlieë was die beskikbare drinkwater by die baai vir die vee nie gesond nie en was dit een van die oorsake waarom die ekspedisie van 1851 soveel trekosse in Lourenco Marques verloor het.
In hierdie laeveldstreek het die gevaar van malaria enige handelstog gedurende die somermaande geheel-en-al onmoontlik gemaak, afgesien van die moontlikheid om deur vyandige inboorlingstamme aangeval te word.
Toevallige hindernisse soos strawwe droogtes was soms die oorsaak dat daar langs die pad in den afstand van twee dagreizens geen gras of bruikbaar water te vinden was nie en die trekosse van maerte gevrek het.
Die gebrek aan kontantgeld en geskikte handelsartikels het eweneens tot die mislukking van die handel bygedra, sodat die Trekkergemeenskap uiteindelik totale verarming in die gesig gestaar het. Die brief wat die volksraad op 1 Oktober 1851 aan die maatskappy van Heemskerk, Knegt en Weimar ten Cate geskrywe het, gee 'n baie duidelike beeld van die wanhopige toestand waarin die Boere op hierdie stadium na die herhaalde handelsmislukkings verkeer het:
De meesten onzer zwerven van het jaar 1835 tot 37 af in Afrika om; al onzen bezittingen door het moorden en plunderen der kaffernatiën byna geheel of gedeeltelyk verlooren hebbende, en door de godloozen handelwyzen van het Engelschen Gouvernement gedurig verjaagd; en in de bittersten onzekerheid gehouden wordende, hebben wy alles verteerd, de geldmiddelen zyn uitgeput, en het eenigste waarvan wy leven is het hoornvee,en eenigen landbouw om in de levensbehoeften van onzen huisgezinnen te voorzien. Den handel word byna uitsluitend gevoerd met den Kolonie Kaap de Goede Hoop, de gewoonen betaling geschied met slagtvee, 't welk den plaats van het geld vervangen heeft, ook wel met ivoor, maar door den bitteren armoede onder ons, is het selfs den welgesteldsten onder ons onmooglyk om zulks op te leggen en zoo te bewaren.
Aan die goewerneur van Mosambiek het die volksraad geskrywe: Bystand of hulp is ons noch nooit beweezen, hoezeer wy denzelven ook behoeven. De Handel is niets verbeterd. Wy hebben gebrek aan alles. Kruid en lood is niet te bekoomen, zoo ook allen anderen artikelen, zeer tot ons naadeel.
Deur die droogte, inboorlingplunderings en die tsetsevlieg is hulle enigste betaalmiddel, die veestapel, met ongeveer 'n vyfde gedeelte uitgedun, sodat hulle ekonomies 'n donker toekoms tegemoet gesien het. Hulle het tog nog gehoop dat indien die handel met Holland oor Delagoabaai tot sy reg kon kom, daar baie gesinne nog veel nader aan die baai sou trek om die moeilikhede deur die groot afstand veroorsaak, uit te skakel. Hulle was ook seker dat indien die handelstoestand rooskleuriger was, daar nog 'n paar honderd huisgesinne uit die Kaapkolonie by hul geledere sou kom aansluit, maar de onzekerheid waarin wy verkeeren schrikt hun als noch af.
Belangstellende vriende in Holland kon dus nie daarin slaag om 'n gereelde handelsverbinding met die Boere in Transvaal te bewerkstellig nie, alhoewel professor Lauts nog tog 1854 onversaagd aangehou het om vir die belange van die Boere te pleit. Laasgenoemde se noodkreet aan hul vriende in Holland, Doet toch in den Naam des Heeren wat UW.Ed kan, en laat ons niet aan ons lot over; laat den Engelschen toch niet juigen over onzen ellenden! het gaandeweg verstom namate hulle moed verloor het en in 1853 het ds Van der Hoff aan Lauts geskrywe dat over Delagoabaai met Transvaal te handelen beschouwd men hier algemeen als dwaasheid.
Die hoë verwagtings wat Andries Hendrik Potgieter en die volksraadsparty ten opsigte van die handel met Delagoabaai gekoester het en wat die vernaamste beweegrede vir die stigting van die nedersetting te Ohrigstad in 1845 was, het gevolglik heeltemal teleurgestel sodat die nedersetting geensins aan sy beoogde doelstellings beantwoord het nie. Daarom het die mislukking van die handel met die buiteland in die hand gewerk dat Ohrigstad 'n ontvolkingsproses moes deurmaak en dat die swaartepunt van die republiek weer eens na die weste teruggeplaas is.











