IAAF- EN ANC-VRIENDSKAP VERSUUR
Hoe het die wiel nie gedraai nie!
Daar was ‘n tyd toe die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) saam met de Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) een van die kommunistiese ANC se groot bondgenote was teen Suid-Afrika se Afrikaner-regering.
Suid-Afrikaanse atlete is soos melaatses behandel en verbied om aan die Olimpiese Spele en internasionale atletiekbyeenkomste deel te neem.
Nou is die IAAF deel van die nuwe geslag melaatses. Mnr. Lamine Diack, voorsitter van die IAAF, het sy besoek aan Suid-Afrika afgelas nadat die kommunistiese regime in ons land gesê het hy is onwelkom hier.
Diack sou die naweek met ANC-kommissar vir sport Makhenkesi Stofile praat oor die Caster Semenya-saak.
Luidens koerantberigte het Diack inderhaas van plan verander en skielik besluit om eerder ’n uitnodiging van Rusland se president te aanvaar om die naweek ’n ekonomiese sportberaad in Kazan by te woon.
Mnr. Nick Davies, woordvoerder van die IAAF, wou hom nie uitlaat oor die feit dat die skielike verandering in Diack se reisplanne dalk is omdat sekere ANC-lede daarop aandring dat Diack nie in die land welkom is voordat hy en die IAAF nie vir Semenya, in die nuus oor ‘n geslagomstredenheid, om verskoning gevra het nie.
Davies sê Diack is steeds bereid om na Suid-Afrika te reis om met Stofile en die bestuur van Atletiek Suid-Afrika (ASA) te beraadslag.
‘n Koerant skryf: Die volgende groot krisis in die Semenya-sage gaan waarskynlik wees oor wat geword het van die uitslae van die geslagstoetse wat op 7 Augustus in Pretoria uitgevoer is.
Davies sê die uitslae van die geslagstoetse wat gedurende die Wêreldbyeenkoms in Berlyn op Semenya gedoen is, is feitlik klaar ontleed.
“Ons het ’n mediese paneel wat uit agt deskundiges – vier van die IAAF se mediese komitee en vier ander – saamgestel om die uitslae van die toetse weer ’n slag na te gaan.
“Ons hoop om die uitslae van die Berlyn-toetse te kan vergelyk met die Pretoria-toetse.
“Dit is een van die redes waarom Diack met Suid-Afrika se minister van sport wil vergader. Ons hoop dat die minister sal instem dat die uitslae van die Pretoria-toetse aan ons deskundiges beskikbaar gestel sal word.
“Dit sal nie vir die IAAF ’n probleem wees as die minister en ASA daarop aandring om self ’n paar deskundiges aan te stel om die uitslae saam met ons paneel van deskundiges na te gaan nie.
“Eers nadat ons die uitslae van albei toetse nagegaan het, sal ons met Semenya oor haar toekoms wil gesels.”
Mnr. Chris Britz, vise-voorsitter van ASA, het gister gesê ASA het nie ’n idee waar die uitslae van die toetse is wat in Pretoria op Semenya gedoen is nie. Volgens hom het ASA nooit opdrag gegee dat Semenya getoets moes word nie. Dr. Harold Adams het volgens hom in opdrag van die IAAF gereël dat die toetse in Pretoria op Semenya uitgevoer word. Dit is algemeen bekend dat Molatelo Malehopo, uitvoerende hoof van ASA, en Leonard Chuene, voorsitter van ASA, bewus was van Adams se reëlings om Semenya voor die Wêreldbyeenkoms in Berlyn in Pretoria te laat toets.
‘n Koerant skryf hy het betroubaar verneem wie op die oomblik in besit van die uitslae van die toetse is wat in Pretoria uitgevoer is. Dié persoon hou vol dat hy nooit sal toelaat dat die uitslae openbaar gemaak word nie omdat hy dit só aan Semenya belowe het.
Ondertussen het daar ‘n versoek op die webwerf Runners Guide verskyn dat padatlete aanstaande week deelneem aan ‘n sogenaamde stille protes by die wegspringpunt van die Sowetan-marathon.
Dié optrede is gerig teen die bestuur van Atletiek Suid-Afrika (ASA).
Die webwerf vra alle deelnemers om vir sowat twee minute by die wegspringpunt van die wedloop stil te staan nadat die skoot gevuur is.
Dit sal glo hulle toewyding aan sogenaamde “atletiek oeboentoe” uitbeeld.
“Ons wil die atlete van Suid-Afrika sien hardloop sonder enige rassisme, diskriminasie en politieke inmenging. Ons beveel alle atlete, ondersteuners, borge en rolspelers aan om deel te neem,” word op die webwerf aangevoer.











