Media

HEMELVAART 14 MEI 2015

JUBEL, AFRIKANER!

Hábakuk 3:17-19

“Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.  Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes.  Vir die musiekleier op snaarinstrumente.”

Ons as kinders van God Drie-enig het die verantwoordelikheid om ons ondernemings teenoor Hom na te kom en daardeur vir die wêreld rondom ons ‘n boodskap uit te dra.

Ek kan aan min geleenthede dink wat meer geleë sal wees om tydens Hemelvaart hierdie jaar (14 Mei 2015) aan ons ondernemings gehoor te gee en na te streef om aan die wêreld ‘n kragtige boodskap uit te dra.

Onder ‘n kommunistiese en heidense regime is talle vakansiedae van belang vir ons volk verbloem en afgewater, maar een van die belangrikste dae op ons Christelike kalender word heeltemal mee weggedoen en verswyg.  Ons MAG NOOIT aandadig wees hieraan nie, want dan staan ons skuldig aan dieselfde aanklag as diegene wat ontken dat Jesus Christus uit die dood opgestaan het.

Ons is deur Sy Hand aan die suidpunt van Afrika geplant om vir Hom te skyn soos ligte in ‘n donker wêreld en ons het hierdie opdrag grootliks agterweë gelaat.  Hierdie is die perfekte geleentheid waar ons tot Hom kan nader om Hom te eer, te aanbid en te loof.

Ons beoog om DV op hierdie dag ‘n erediens te hou wat opgevolg sal word deur ‘n geleentheid van jubel- en lofsang tot eer van ons God,  ‘n dag waarin ons God nie wil smeek of ons lot voor Hom wil bekla nie, maar ‘n dag waar ons in vrolikheid Hom wil loof en prys vir Wie Hy is en vir die geskenk van ons verlossing en Sy oorwinning oor die bose wat niemand van ons kan wegneem nie!

Ons wil elke gelowige Afrikaner  in Jesus Christus uitnooi om saam met ons in hierdie dag te kom deel.  Dit word aangebied vry van verbintenis aan enige kerkverband en politieke partye met die enigste Hoeksteen die een Wie se eer nagestreef word hierdeur, Jesus Christus.

Ons kan Hom eer deur vir ‘n wyle ons onderlinge kleinighede te laat staan om sodoende dalk net een dag uitsluitlik aan Hom te wy tot Sy eer. U word almal opgeroep om waar moontlik, hierdie geleentheid by te woon, en indien dit geografies nie vir u moontlik is nie, dan self die geleentheid te gebruik om van hierdie dag 'n spesiale dag tot eer van God te maak. Ons bring soveel tyd voor die televisie deur en ry honderde kilometers na sportgeleenthede, alles dinge wat ons tyd en geld in beslag neem. Ons behoort ook hierdie dag in ons Christelike kalender in die geheue te  hou en dit te verseël tot 'n permanente en blywende instelling vir ons opkomende geslagte.

Die program is soos volg:

PROGRAM – HEMELVAARTDAG, DV 14 MEI 2015

10:00 – Erediens

10:30 – Sang Item(s)

11:00 – Lofsangdiens

12:00 – Ete (GRATIS)

Navrae: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.">Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Plek:  Plaas Townsland, Viljoenskroon