1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
6410108

Besoekers aanlyn

Ons het 7 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Media

IS ONS NOG CHRISTELIK-NASIONAAL?

Ons het in die verlede dikwels gepraat van ons Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing. Vandag word die begrip nie meer baie gehoor nie. Wanneer ons egter terugkyk in ons geskiedenis is die Afrikaner se bestaan inderdaad uniek deurdat dit van die begin af ‘n Christelik-”nasionale” oorsprong gehad het. Dit was ‘n Protestantse (Christen) Blanke, naamlik Jan van Riebeeck wat in Suid-Afrika aangekom het. Hy sit voet aan wal met ‘n gebed en een van die eerste dinge wat hy doen is om ‘n laning wilde amandelbome aan te plant ten einde die gemeenskap waarvan hy deel is, af te grens van vreemdelinge. Dit was ‘n kenmerk van die Afrikaner deur sy geskiedenis - hy bid en hy trek grense. Dit was die hart en siel van sy Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing.

‘n Lewens- en wêreldbeskouing is iets anders en iets meer as ‘n wetenskap, soos die bekende teoloog prof Ben Engelbrecht dit so treffend verwoord het. Wetenskaplik kan dinge op ‘n afstand geken word sonder dat die wetenskaplike persoonlik daarby betrokke is en met sy bestaan daarvoor of daarteen kant kies. In ‘n lewens- en wêreldbeskouing lê daar oneindig meer as wat ‘n mens van buite af aangeleer het.  Dit is iets waarmee jy saam opgegroei het, waaraan jy geheg geraak het en wat jy met toegeneentheid bejeën omdat dit deel van jou lewensuitkyk en -patroon geword het. Dit kan nie altyd op wetenskaplike en logiese verklaar word nie, omdat dit spreek van ‘n volksgees en ‘n volkswil wat baie dieper strek as die verstandelike.

 

‘n Lewens- en wêreldbeskouing is iets wat met die hart aangevoel word. Gewoonlik beweer die kritici van ‘n lewens- en wêreldbeskouing dat dit niks anders is as ‘n onwetenskaplike vooroordeel nie. Daarteenoor moet geantwoord word dat die menslike lewe ‘n wyer en dieper dimensie het as die blote verstandelike en logiese. Elke mens, ook die kritici, lewe primêr uit hierdie voorwetenskaplike gronde van die hart. Daarbenewens is beginsels, soos Richard Weaver al aangedui het, niks anders nie as vooroordeel en hierdie vooroordeel juis iets wat jou help om te onderskei tussen onder andere reg en verkeerd en mooi en lelik in die lewe.

 

Elke lewens- en wêreldbeskouing is opgebou uit sekere grondbeginsels en tog is dit meer as die totaal van die elemente waaruit dit opgebou is. So het Jaap Marais al daarna verwys dat ‘n volk meer is as die somtotaal van sy lede, aangesien, soos prof HG van der Westhuizen dan ook daarna verwys het, daar ‘n volksgees vaardig raak in daardie volk. Daardie volksgees verhef die volk tot dade waartoe die lede daarvan in hulle individuele hoedanigheid nooit in staat sou wees nie. Alleen die gesamentlike wil en daad kan dit doen. So sal ‘n gewone huis byvoorbeeld net as ‘n konstruksie (‘n leë dop) deur ‘n buitestaander aangesien word, maar is dit vir ‘n kind in daardie huis ‘n ouerhuis met die kwaliteit van teerheid en innige verbondenheid wat daarmee saamgaan. En daardie gesin is die bousteen van die volk.

 

Christelik-nasionaal is gevolglik ‘n lewens- en wêreldbeskouing wat die volgende kenmerke bevat:

*           ‘n gelowige Christen;

*           wat tot die Afrikanervolk behoort; en

*           wat aktief streef om die nasionale, godsdienstige, politieke en kulturele erfenis en strewes van die Afrikaner in Suid-Afrika te bewaar, te handhaaf en uit te bou tot eer van God.  

 

In die begrip Christelik-nasionaal is daar ‘n orde en onlosmaaklike verband. Die orde is naamlik dat “Christelik” eerste staan. Die verband is dat hierdie Christelike geloof as hoogste waarde die hele nasionale denke, lewe en strewe van die volk moet deursuur. Ons Calvinistiese Protestantse geloof het twee groot grondbeginsels naamlik in die eerste plek dat God se Woord erken word as die enigste maatstaf vir ons Christelike leer en lewe. Die Christelike geloof dien as meetsnoer vir ons nasionale lewe. Die tweede groot grondbeginsel van die Calvinistiese Protestantse geloof is dat geen geskape werklikheid verafgod mag word nie. Dit beteken prakties dat in ons verband nóg ons nasieskap, nóg ons nasionale strewe, as hoogste waarde gestel of verafgod mag word. Dit gaan om die nasionale strewe wat onlosmaaklik verbonde is aan die Christelike karakter.

 

Met hierdie nasionale strewe groei ‘n mens op, behoort jy daarvan in jou ouerhuis en skool te leer, word jy geheg daaraan en kry jy ‘n liefde teenoor jou eie mense, taal, land, gebruike, strewes, en tradisies. Sonder om ander te minag voel die Afrikaner dat sy eie vir hom die beste en die mooiste is en voel hy tuis in sy eie land en onder sy eie mense. Die Christelik-nasionale strewe van die Afrikaner vind byvoorbeeld neerslag in ‘n vergadering waar met Skriflesing en gebed geopen word. In die Die Stem van Suid-Afrika kom die nasionale volkswil en -strewe in drie strofes voor en word in die vierde strofe daarvan die nasionale volkswil afhanklik gestel aan die wil en die almag van God - dus, die Woord van God is in die eerste en die laaste plek die hoofsaak waarom dit gaan.

 

Wat het daarvan geword? Hoe bejammerenswaardig is ‘n “Afrikaanse skool” wat die Christelik-nasionale karakter van die Afrikaner verloën! Wat Nelson Mandela, die Kommunis en terroris, met goedkeuring in toesprake aanhaal. Wat van die volkseie niks wil weet nie, maar dink dat hulle Christelike plig begin en eindig met opening deur Skriflesing en gebed.

 

Die Christelik-nasionale karakter kan die Afrikaner is deur die vyand ‘n geweldige knou toegedien, maar word nou deur die Afrikaner self vertrap. Dit net omdat Afrikaner ouers nie bereid is om die eise van Afrikanerskap te wil aanvaar nie. Die Here het ‘n land aan ons gegee en ‘n erfenis om te bewaar vir die nageslag. Om Christelik-nasionaal te wees bind jou tot hierdie roeping. As jy dan nie meer Christelik-nasionaal wil wees nie, wat is jy dan? Ja, dit mag swaar wees om te sluk, maar dan het jy in jou kleinverraad jou rug op jou volk gekeer!

 

Ons het met bose magte te doen wat ons volk sy nasionaliteit en sy Christelikheid wil ontneem. Hulle het sekere volksgenote gekraak om reeds weg te hardloop van hulle Afrikanerskap. Vir diegene wat trou bly aan hulle volk, sy ideale en sy verwagtings is daar die vertroosting dat Christus sy kerk en hierdie volk in stand sal hou te midde van helse woede en die kleinverraad van ouers wat nie meer bereid is om vir hulle eie voorgeslag voor en by hulle kinders in die bresse te tree nie.

 

Jy kan jou losmaak van jou eie volk en “ikone” en “afgode” soos Nelson Mandela omhels om “in” te wees daar waar dit vir die huidige “saak” maak. Maar moet jou dan nie verwonder as ander volke nie oor hulle voete val om jou by hulle in te neem nie. Meer nog, jy sal wel eendag rekenskap moet gee van die feit dat toe dit “saak” gemaak het, jy jou vir jou volk se lewensbeskouing geskaam het.

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie