Media

IS DIE DA ‘N ALTERNATIEF?

Die DA voorspel dat hulle baie goed gaan doen in die komende munisipale verkiesings - veral in Pretoria. In die Wes-Kaap het die DA die Kleurling, Patricia de Lille aangewys as burgemeesterskandidaat vir Kaapstad en behoort hulle daar weer die pyp te rook. Baie Blankes dink dit is ‘n goeie idee om vir die DA te stem. Maar is dit? 

Die DA is ‘n liberale party wat die Grondwet met sy menseregte ondersteun. Dus, enige god kan maar aanbid word, aborsie en homoseksualisme is in orde, grondonteiening word aangemoedig en natuurlik ook regstellende aksie. Soos die ANC bely die DA ook die onreg van apartheid (die verlede) en moet dit reggestel word. Die DA wil niks van ras weet nie en verwerp die idee van ‘n eie land vir die Afrikaner.

 Die DA wil alles vir almal wees en verskil nie met die ANC oor basiese waardes nie, maar slegs oor die wyse waarop die ANC die land bestuur. Soos die ANC glo die DA in ‘n “nie-rassige” samelewing. Daarom het Zille geen probleem om saam met Zuma te dans nie.

Ongeveer 20 jaar gelede het sowat 80% van die Afrikanerdom die liberalisme verwerp. Vir baie redes. Een daarvan was die liberaliste se omhelsing van die humanisme wat God Drie-enig verwerp en die mens in die plek van God stel. Dit was ‘n baie belangrike rede. Daarby die liberalis se opvatting oor rassegelykstelling en die verwerping van die Afrikaner se aanspraak op sy eie land. Laasgenoemde was vir volksgenote ook ‘n baie belangrike rede. Dit was trouens ononderhandelbaar vir die Afrikaner-nasionalis. Die DA (en sy voorgangers die Progge) is dus uit beginsel verwerp.

 

Wat het dan verander? Wel, die DA staan steeds by hierdie liberale uitgangspunte. Hulle het dus nie verander nie. Wat verander het is dat mense vanuit omstandighede die saak begin benader het, eerder as vanuit beginsel. Talle Afrikaners is besig om hulle beginselbasis prys te gee deur hulle deur omstandighede te laat voorskryf. Wat help dit om vas te kyk in kort termyn voordele soos skoon water, maar ons identiteit as volk verdwyn? Wat help dit om beter administrasie in ‘n stadsraad te kry, maar ons bly uitgelewer aan ‘n grondwet wat ons werksgeleenthede ontneem en ons grond onteien? Wat ons as volk vernietig? Maar bowe-al, wat help dit ons kies vir ‘n “beter lewe” (ja vir more en oormôre), maar ons versaak ons geloof in die Drie-enige God (die ewige lewe)?

Dit mag dramaties klink, maar dit is die harde feite rondom ‘n stem vir die DA. Die Afrikaner versaak sy God en sy roeping deur vir die DA te stem. As ons nie meer bereid is om vir ons beginsels te staan nie, is die DA ‘n goeie korttermyn keuse. Maar moenie sê ons het nie gewaarsku oor die langtermyn nadele van die DA nie. Die DA kan nooit vir die beginselvaste Afrikaner-nasionalis ‘n opsie wees nie. Nie more. Ook nie oormôre nie. Nooit nie!