Media

DIE AVP SÊ, DAGVAAR DIE REGIME VIR VERLIES AAN INKOMSTE!

altDie staking van Numsa-lede is besig om onberekenbare skade in die yster en staalbedryf in die Oosrand aan te rig. Behalwe vir die verlies aan inkomste omdat besighede en hulle werkers met geweld intimideer word sodat hulle deure nou-al vir meer as ‘n week gesluit is, is daar op verskeie plekke deur die omheinings van ondernemings deurgebreek, die persele se kantore binnegedring en administratiewe toerusting soos rekenaars en algemene administratiewe toerusting ter waarde van honderde duisende rande verwoes.

In die industriële gebied Apex in Benoni het ‘n eienaar aan die polisie wat staan en toekyk het terwyl sy toerusting vernietig word gevra of hulle dan net gaan staan en toekyk hoedat sy eiendom en toerusting beskadig word. Die antwoord wat hy van die polisie gekry het was of hy wil hê dat hulle die stakers moet terugroep sodat hulle meer skade kan aanrig!

Hierdie toetsloop van gewelddadige stakings met ‘n polisiemag wat lamgele is deur die Marikana debakel sodat hulle nou net passief toekyk, het die potensiaal vir wydverspreide geweld onder die dekmantel van stakings. Die regime is kennelik nie by magte om besighede teen die stakers te beskerm nie en faal in hulle verantwoordelikheid om sakelui te beskerm.

Vir die verlies aan inkomste wat op hierdie wyse gely word, behoort elke onderneming wat daardeur geraak word die regime te dagvaar. Die bedrae wat ter sake is kan etlike miljoene rand beloop. Dit is onaanvaarbaar dat stakers sonder perk ‘n land se nywerhede gewelddadig tot stilstand kan bring terwyl die regime bloot sit en toekyk.