DIE EKONOMIESE ONDERGROND VAN AFSONDERLIKE ONTWIKKELING (Dr. P.E.van der Dussen)
Departementshoof Ekonomie en Ekonomiese Geskiedenis 1973-1976
Dekaan Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe 1975-1976 Universiteit van Fort Hare, ALICE, Kaapprovinsie
Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-Aangeleenthede
Tweejaarlikse Kongres: Johannesburg 29 September-1 Oktober 1976
1. INLEIDING
Die beleid van afsonderlike ontwikkeling bereik vanjaar 'n besondere mylpaal wanneer Transkei op 26 Oktober 'n onafhanklike republiek word. Deur dié gebeurtenis sal dit wat uit 'n vae gedagte geleidelik duideliker vorm aange-neem het, 'n voldonge feit wees wat nie weggeredeneer kan word nie. Tien jaar na die dood van dr H F Verwoerd kry die visie van hierdie staatsman gestalte en dit is gepas dat sy naam hieromtrent nie verswyg word nie. Met groot ywer en krag het hy na hierdie mikpunt toe gewerk, stap vir stap die weg aangetoon en voorberei, sonder om 'n enkele oomblik die einddoel uit die oog te verloor. Dit is 'n voorreg om die vrugte van sy arbeid te sien verwe-senlik. Hoedanig afsonderlike ontwikkeling uit talle oorde bekritiseer word, dit het werklikheid geword.
Die bereiking van staatkundige onafhanklikheid is een van baie stappe van Transkei en ander ontluikende Bantoestate in Suid-Afrika, miskien die mins ingewikkelde. Dit behels formele sake soos 'n grondwet en instellings eie daaraan, 'n vlag en 'n volkslied, en 'n ooreenkoms tot erkenning. Daar is naas die staatkundige kant egter sake soos die volk en maatskappy wat beslag moet kry, en die ekonomiese selfverwesenliking van die nuwe staat.
Staatkundige onafhanklikheid en ekonomiese selfstandigheid is onskeibaar. Hulle is egter nie eenders nie. Teenoor die betreklike organisatoriese enkel-voudigheid van die staatkunde staan die organiese ingewikkeldheid van die ekonomie. Dit is die ooglopendste faset maar ook die moeilikste om te ontrafel, wat moontlik verklaar waarom die ekonomiese raison d'etré van afsonderlike ontwikkeling nie baie verder as die denkpot gekom het nie. Terwyl daar wel aan ekonomiese afsonderlike ontwikkeling gewerk is, is dit sonder meer aanvaar sonder om werklik op die sinvolheid daarvan in te gaan. Dit is onmoontlik om in die bestek van hierdie voordrag dié onder-werp sterk te ontwikkel en slegs enkele riglyneword aangedui.
Die betekenis van afsonderlike ontwikkeling word hier hoofsaaklik vanuit die ekonomiese oogpunt behandel. Die praktiese uitvoering van die beleid, die eie aard van desentraliseringsbeleid in Suid-Afrika en die uitvoerbaarheid van ekonomiese afsonderlike ontwikkeling word kortliks toegelig.
2. OMSKRYWING EN AFBAKENING
Die omskrywing en afbakening van 'n onderwerp is altyd noodsaaklik, en daar is sekerlik noodsaak om duidelikheid oor die begrip afsonderlike ontwikkeling te kry. Deur veelvuldige gebruik het dit 'n cliché-agtige uitdrukking geword wat sonder nadenke gebruik word. Sodoende word dit terwille van afwisse-ling soms met ander begrippe sinoniem gestel terwyl daar geen of weinig oor-eenkoms in betekenis bestaan nie. So laat veelvolkigheid die ontwikkelings-oogpunt skade ly. Veelvolkige ontwikkeling is 'n holistiese begrip deurdat dit 'n eenheidsekonomie in Suid-Afrika veronderstel. Interafhanklikheid lê nader omdat die voorvoegsel inter afsonderlike eenhede impliseer. Die woord in geheel veronderstel egter dat Suid-Afrika in sy huidige staatkundige vorm ook in die toekoms een geheel sal bly.
Die werklikheid het die beklemtoning van die eenheidsgedagte agterhaal. Transkei kan nie meer ongedaan gemaak word nie en die proses wat hy aan die gang gesit het, gaan met ander Tuislande voort. Die huidige verloop het met die onafhanklikheid van die ou Britse gebiede Botswana, Lesotho en Swaziland begin. Die verhouding tussen die BLS-lande en die RSA het oor die afgelope jare gemakliker geword en die staatkundige skeiding van weë het sy neerslag op die ekonomiese vlak gehad, Daar is geen rede waarom dieselfde nie met Transkei en sy navolgers sal gebeur nie.
Ten spyte van die sterk aangewesenheid van die BLS-lande op die RSA, erken hy hulle as afsonderlike entiteite, staatkundig, ekonomies en andersins. Daar is baie lewensfasette wat afsonderlik van mekaar bestaan, maar die onder-linge samehang moet nie uit die oog verloor word nie. In hierdie lig word gestel dat die aanvaarding en erkenning van staatkundige afsonderlikheid na ander lewensterreine sal deurwerk, ook die ekonomie. Afsonderlike ontwikkeling is nie teennatuurlik nie en is die enigste weg waarlangs volle erkenning aan die natuurlike neiging tot selfverwesenliking by alle volke in die plaaslike raamwerk en omstandighede kan geskied.
Afsonderlikheid beteken nie afsondering nie. Voorheen is die staatkundige opset in Europa as toekomsmodel vir Suid-Afrika gebruik: Duidelike lands-grense, én duidelike identifisering van volke met hulle eie lande, maar nie in afsondering van mekaar nie. Tot die helfte van die sestigerjare was daar 'n sterk beweging om 'n Verenigde State van Europa tot stand te bring as een politiek-staatkundige moondheid. Dit het destyds nie haalbaar geblyk te wees nie. Inteendeel was daar toenemende afskeineigings wat tot selfs die hegte Britse Verenigde Koninkryk begin kraak het. Binne die Europese Ekonomiese Gemeenskap dwing die werklikheid van verswakte ekonomiese omstandig-hede die lidlande tot toenemende selfstandige of afsonderlike optrede om hulle eie belange te beskerm. In alle gevalle is die optrede steeds binne die raamwerk van die heersende omstandighede en nie in afsondering nie.[1] Dat die afsonderlik-ontwikkelende state in Suid-Afrika onderlinge belange het en sal hê, staan vas, en ook dat hierdie onderlinge belange die raamwerk vorm waarbinne hulle sal kan optree. In hierdie sin bestaan daar interafhanklikheid, maar dan tussen afsonderlike eenhede en nie tussen segmente van een een-heid nie. Interafhanklikheid volg op afsonderlike ontwikkeling, maar kan dit nie vervang nie.
Naas die afsonderlikheidselement vereis die ontwikkelingsfaset aandag, bepaaldelik ekonomiese ontwikkeling. Ontwikkeling beteken vooruitgang. Ekonomiese vooruitgang het op die uitbreiding van 'n land of 'n volk se totale produksie betrekking. Die produksie van of in 'n land het betrekking op alles wat binne die grense van daardie land geproduseer word, terwyl die produk-sie van 'n volk die som van die produksie is wat deur alle lede van die volk opgelewer word, ongeag plek. Omdat mense oor grense beweeg sal daar altyd 'n verskil tussen die twee groothede wees, maar normaalweg nie groot nie. Die produksie van of in 'n land oor 'n gegewe tydperk word die binnelandse produk van daardie land genoem As die produksie wat deur produksiefaktore uit ander lande in die betrokke land opgelewer word, afge-trek en die verdienste van burgers van hierdie land in die buiteland bygetel word, word die totale verdienste van die volk van die land verkry. Dit word die volksinkomste (VI) genoem en is die totale inkomste wat die volk van die land uit hoofde van die aanwending van die produksiefaktore wat hulle besit, verdien, waarookal in die wêreld. Dit is belangrik om op die beklem-toning van verdienste te let, in dié sin dat inkomste nie uit die lug val nie, maar die opbrengs van produksiefaktoraanwending is. Inkomste word slegs deur arbeid, menslike bedrywigheid, verwerf. Geld is op sigself waardeloos maar ontleen waarde daaraan dat hy 'n algemene ruilmiddel en waarde-bepaler van produksie is. Daarom word vereis dat salaris- en loonsverhoging met verhoogde produktiwiteit gepaard moet gaan. Die volksinkomste kan net meer word as die volk meer produseer. doeltreffender en harder werk.
Wat beteken dit om te werk? Die mens is die enigste lewende, selfstandige produksiefaktor; kapitaal en die grond en bodem is leweloos. Werk beteken dat die mens deur verstandelike en fisiese inspanning die middele wat tot sy beskikking is, aanwend ter verkryging van sy daaglikse behoeftes en tot bloei van die aarde. Hoe beter die mens werk, hoe groter sal die bloei wees. Hieruit volg etlike belangrike sake.
l Eerstens word 'n land se ekonomiese lewensvatbaarheid nie deur sy grootte of die aanwesigheid van natuurlik hulpbronne of die gehalte van sy bodem bepaal nie; die enigste bepalende faktor is die volk van daardie land, en of daardie volk dit wat tot sy beskikking staan, tot die uiterste wil benut.
l Tweedens vloei hieruit voort dat geen volk of land of staat die reg het om ander vir sy armoede en tekorte verantwoordelik te hou nie. Die onder-ontwikkelde lande moet ophou om op die ontwikkelde lande te skree en te eis dat laasgenoemdes hulle rykdom moet uitdeel. Die armes is nie arm omdat die ryk lande welvarend is nie, maar ten spyte daarvan. Die rykes kan immers net uit hulle rykdom aan die armes hulp verleen. 'n Bietjie beskeidenheid, 'n bietjie selfondersoek, 'n bietjie die hand aan die ploeg (deur die ryk land geskenk!) slaan sal nie onvanpas wees vir die leiers van die onderontwikkelde volke nie.[2]
l Derdens is dit nie sonder meer sonde om ryk te wees nie. Omgekeerd is die arme nie sonder meer salig nie. Rykdom wat met harde werk verkry word, is goed en mooi. Armoede wat uit luiheid voortkom, is 'n gruwelike sonde. Lees in die Bybel hoe dikwels luiheid en leeglêery as 'n gruwel voor die HERE bestempel word. In die tweede brief aan die Thessalonicense verklaar die Heilige Gees deur Paulus se hand dat hy wat nie wil werk nie, ook nie moet eet nie. Vanself onthef hierdie opmerkings nie dié wat het van die verpligting tot die Christelike handreiking aan dié wat gebrek ly nie, maar laasgenoemdes is verplig tot dankbare nederigheid.
Ontwikkeling of vooruitgang het ten grondslag dat die menslike vermoëns die beskikbare hulpbronne óf in voller omvang óf doeltreffender en doel-matiger tot groter produksie aanwend. In elke geval vind ekonomiese groei plaas. Aangesien die mens uiteindelik bepaal hoever en hoedanig die hulp-bronne benut word, sal die ekonomiese groei die uitkoms wees van die ontwikkeling van die mens sélf. Daarom is die ekonomiese welvaartsvlak of gebrek daaraan 'n simptoom van die ingesteldheid van 'n volk eerder as die oorsaak daarvan. In die onderontwikkelde lande, ook dié waaroor dit by afsonderlike ontwikkeling gaan, vind onderbenutting van die beskikbare hulp-bronne en bepaaldelik die menslike inset plaas. Dit is deel van die beleid van Tuislandontwikkeling om hierin verbetering te bring, veral deur opleiding en voorligting, en 'n mate van sukses is behaal, hoewel dit miskien nog klein is. Aandag word op die menslike faktor toegespits wat terwille van die gerieflike woordgebruik arbeid genoem word. Die doeltreffende benutting van natuur-like hulpbronne is belangrik, maar die voortgesette ontwikkeling en groei van 'n land verg meer, naamlik verhoogde inset van die menslike bydrae en die ontwikkeling en groei daarvan.
3. ONTIDENTIFISERING – KOSTE EN HERSTEL
Daar is op die verskil tussen die binnelandse produk en die volksinkomste van 'n land gewys en dat die verskil tussen hulle normaalweg klein sal wees. In die geval van die Tuislande toon die statistiek vir 1973/74 egter dat die Binne-landse Produk binne die Tuislande R392-miljoen beloop het, slegs 25 persent van die Volksinkomste van R1,566-miljard. Dit beteken dat R1,174-miljard deur pendelwerkers (R318-miljoen) en trekarbeiders (R856-miljoen) buite die Tuislande in die RSA verdien is. Daarbenewens het Bantoe wat deurlo-pend in die RSA werk, nog R1,528-miljard aan inkomste verdien. As inkomste en produktiewe waarde aan mekaar gelykgestel word, het Tuislandburgers gesamentlik in 1973/74 sowat R2,75-miljard buite die Tuislande geproduseer en slegs 'n sewende daarvan binne hulle eie lande. Die RSA het dus in 1973/74 ongeveer sewe-agstes van die totale produksie van die volke van die Tuislande in sy eie Binnelandse Produk ontvang.
Hieruit blyk 'n ernstige graad van ontidentifisering tussen land en volk by die Bantoevolke. Met inagneming van die mens se kernrol by ekonomiese ont-wikkeling spreek dit vanself dat die Tuislande onderontwikkeld is. Bykomend geld dat ekonomiese afsonderlike ontwikkeling nie met die ontwikkeling op ander gebiede (veral staatkundig) tredgehou het nie. Op die rede hiervoor word nie hier ingegaan nie. Eerder word die koste van die bestaande toestand en die regstelling daarvan benadruk.
Die ontidentifisering tussen land en volk spruit daaruit dat daar binne bereik van die Tuislande, maar buite hulle grense, werkgeleentheid vir hulle inwo-ners ontstaan het. Gevolglik het daar skeiding tussen woonplek en werkplek gekom. Die regstelling kan eenvoudig gestel word. Verskuif die werkge-leentheid tot binne die herkomsgebiede van die arbeidsmag, of ten minste tot binne bereik van sy normale woonplek. Dit beteken dat die ekonomiese suig-krag van die Tuislande verhoog moet word sodat nie nóg van hulle werkers na die RSA wegvloei nie, asook die moontlikheid geskep word vir dié wat reeds weg is om hulle produksiekrag in hulle eie lande te gaan aanwend. Daartoe moet terselfdertyd die RSA se suigkrag verminder word.
Saamgevat beteken dit dat volk en land weer met mekaar geïdentifiseer moet word deur die werkplek na die woonplek te bring. Rondom hierdie eenvoudige antwoord draai die sukses al dan nie van afsonderlike ontwik-keling in sy volle wese. Dit is die enigste wyse waarop die energie van die Bantoevolke tot die voordeel van hulle eie lande en volke aangewend kan word. Dit is ook die enigste wyse waarop die dreiging afgeweer kan word (as dit nie reeds te laat is nie) dat Suid-Afrika in dieselfde toestand as Duitsland en ander Europese lande met betrekking tot hulle gasarbeiders beland. In hierdie lande is dit reeds etlike jare so dat die bykomende bydrae van die gasarbeiders tot die Binnelandse Produk nie meer vir die regstreekse en onregstreekse koste verbonde aan die gasarbeiders vergoed nie. Politiek-maatskaplike probleme maak dit egter vir die Europese gasheerlande onmoontlik om van die gasarbeiders ontslae te raak. Selfs ten spyte van die grootskaalse werkloosheid in die heersende depressie is daar nog miljoene van hulle in die gasheerlande.[3]
Die koste van ontidentifisering deur trekarbeid beteken vir die tuisland van die trekarbeider verlies van produktiewe krag. Dit word vererger deurdat juis die beste mense daarin slaag om vaste werk in die gasheerland te bekom en lank daar bly. Vir die gasheerland is daar aansienlike koste wat toenemend opwaarts neig. Die gasheerland aanvaar per veronderstelling die koste van opleiding en huisvesting en maatskaplike versorging soos mediese dienste en onderwys. Namate die werker se produktiwiteit toeneem, neem sy inkomste en behoeftes toe. Hoe langer hy bly, hoe meer gebeur dit dat hy sy gesin met hom saambring of na hom toe laat kom, met nuwe maatskaplike koste vir die gasheerland. Hoe langer die verskynsel duur, hoe groter word die natuurlike aanwas, en terselfdertyd die getal oues, wat nog bykomende en ophopende koste meebring. Die gebruik van trekarbeid kan dus vir die gasheerland hoog-stens tydelike voordeel bring. Vir 'n gasheerland met betalingsbalans-probleme kan hierdie voordeel van baie kort duur wees.
In Suid-Afrika geld die unieke toedrag dat die RSA as gasheerland optree en tegelyk die enorme verantwoordelikheid van Tuislandontwikkeling op hom neem. Dit maak die wyse van aanpak makliker omdat daar nou eerder oor die plek as die aard van optrede besin moet word. As voorbeeld geld dat om 20 000 werkers met hulle gesinne te huisves, 'n gelyke getal huise gebou moet word, hetsy in die bestaande nywerheidsgebiede óf in 'n nuwe gebied in 'n tuisland.
Vir die RSA as een ekonomiese gebied is dit omhetewe waar die huise gebou word. Word dit by Johannesburg gedoen, is dit koste vir die RSA sonder reg-streekse voordeel en miskien selfs nadeel vir die tuislande. Word die huise by Butterworth in Transkei gebou, sal dit stellig minder koste vir die RSA inhou. Daarby, en belangriker, verteenwoordig dit kapitaalinvloei vir Transkei, skep dit regstreeks werkgeleentheid binne Transkei en gee dit gevestigdheid aan Transkeiers in hulle eie land, wat ontidentifisering teenwerk. Die skepping van werkgeleentheid te Butterworth kan aanvanklik duurder of minder winsge-wend as aan die Rand wees, maar die besparing op behuisings- en vervoer-koste sal minstens gedeeltelik hiervoor vergoed. Vestigingskoste neem vinnig af sodra 'n nuwe nywerheidsgebied op sy eie begin ontwikkel en die verme-nigvuldiger en versneller in werking kom. Die verskuiwing van ekonomiese bedrywigheid na die tuislande toe sal dus vir die RSA op die minste nie verliese beteken nie terwyl die tuislande self sal wen. Dit in teenstelling met voortgaande sametrekking in en by die bestaande nywerheidsgebiede in die RSA.
Die belangrike vraag doen hom voor waarom die huidige toedrag van sake onstaan het. Waarom is daar nie vir die Bantoe werkgeleentheid volgens moderne norme in sy eie lande nie? Die antwoord hierop geld vir elke onder-ontwikkelde land: Die gebrek aan ondernemerskap wat nodig is vir die toene-mend doeltreffender benutting van hulpbronne en die uitbaat van geleent-hede wat hulle voordoen en selfs aangebied word. Daar het oor die afgelope dekade of so 'n groot getal Bantoe as ondernemers na vore gekom van wie sommige sukses behaal het. Op hierdie mense rus die verantwoordelikheid as die voorlopers op 'n lang pad om die wese van hulle verwerfde verandering in denke na hulle volke uit te dra. Teenoor die groeiende getal suksesvolles is daar ook dié wat misluk het, terwyl die beginsels van ondernemingsin en inisiatief hoegenaamd nog nie die volke in breë opset beetgepak het nie. Voordat dit nie gebeur nie, sal hierdie volke stadig indien enigsins vooruit-gaan.
Naas die gebrek aan 'n algemene sin vir ondernemerskap ondervind alle onderontwikkelde lande 'n tekort aan kapitaal. Tot op groot hoogte gaan onderontwikkeldheid en kapitaaltekort hand aan hand. Kapitaal is nodig om vir die mens die hulpmiddele te bekom wat hy nodig het om die hulpbronne beter te benut. Dit gaan egter nie net om masjiene en fabrieksgeboue en mynskagte nie. Om goed te kan werk het mense onderwys en opleiding nodig, redelike huisvesting, redelike vervoer en dies meer, asook 'n geordende staats- en maatskaplike struktuur.
Die besteding van geld op al hierdie vlakke beteken kapitaalopbou. Waar kom die geld vandaan om kapitaalgoedere te verwerf? Uit spaargeld. As daar 'n algemene ondernemingsin by 'n volk bestaan, sal daar ook spaarsin wees. Daar kan net gespaar word nadat aan die daaglikse behoeftes voldoen is, dus uit die oorskotproduksie en -verdienste bo wat vir onmiddellike verbruik nodig is. Besparing vind by die Bantoe plaas, veral by diegene wat vir 'n geld-loon werk. Hierdie besparing is egter grotendeels van 'n oppottingsaard en op verdere verbruik gerig, soos die aankoop van 'n fiets, 'n radio of 'n motor. Dit bied nogtans die moontlikheid aan die ondernemende Bantoe om hierdie geld tot produktiewe kapitalisering te mobiliseer. Op die oomblik kom wesen-lik alle produksiekapitaal vir die Tuislande uit hulle buiteland, die leeue-aandeel uit die RSA in die vorm van owerheidsinvestering, regstreeks of deur ontwikkelingskorporasies. Dit is ontwikkelingshulp, wat wel ontwikkeling in 'n land meebring, maar nie ontwikkeling van die volk van daardie land nie. Eers wanneer die volk sélf die gegewe hulp met eie kundigheid en vaardig-heid begin aanwend, word dit deel van hulle lewenspatroon.
Om (afsonderlik) werklik te ontwikkel, sal die volke van die Tuislande die nodige ondernemerskap moet ontwikkel, sodat hulle die hulp wat deur die RSA aan hulle verleen word, kan oorneem. Dit is vir die RSA onmoontlik om in al die behoeftes van almal te voorsien. Die las word te groot, ten spyte van groot gewilligheid. Aan die ander kant is dit nie moontlik om dit wat benodig word op korttermyn of selfs binne 'n geslag voldoende te ontwikkel nie. Dit lei tot die wesensvraag of afsonderlike ontwikkeling ekonomies haalbaar is.
Hierdie vraag stel 'n vals probleem. Daar is op die staatkundige faset gewys wat sover gevorder het dat dit nie meer omgekeer kan word nie. Ten opsigte van die BLS-lande is die ou gee-en-ontvangverwantskap met die RSA deur 'n formele onderhandelingsverhouding vervang en dieselfde kan ten opsigte van Transkei en sy navolgers verwag word. Veral sal die formalisering baie gou aan beide kante in die denkwyse van mense gestalte kry. Dit sal beteken dat die verantwoordelikheid vir die eie ontwikkeling by die betrokke lande tuisge-bring word en nie meer regstreeks by die RSA berus nie. Omgekeerd sal die RSA sy gevoel van regstreekse betrokkenheid by die lot van Transkei sien en voel verander. Namate dit gebeur sal die vraag nie meer wees óf afsonder-like selfstandige ontwikkeling haalbaar is nie, maar hóé dit plaasvind. Hier-by geld méér as 'n tegniese aanpassing. Die krag van die nasionale ontplooiing van 'n volk moet nooit onderskat word nie, soos uit die geskiedenis van die Afrikaner blyk.
4. DESENTRALISERING EN AFSONDERLIKE ONTWIKKELING
Desentralising is 'n belangrike instrument om afsonderlike ekonomiese ontwikkeling te bevorder. Desentralisering is vandag beleid in alle ontwikkelde lande vanweë die oormatige sametrekking van ekonomiese bedrywigheid in sekere gebiede en die gepaardgaande ontvolking en ekonomiese veragtering van die platteland. In Suid-Afrika het hierdie saak 'n sterk, byna oorheersende volkekundige inslag, aangesien die ekonomiese bedrywigheid in die RSA in vier hoofgebiede saamgetrek is, ver van mekaar af en almal binne die RSA self. Die platteland sluit al die Tuislande in, met as gevolg 'n stroom werkers daarvandaan na die RSA se saamtrekgebiede toe. Die desentraliseringsbeleid in Suid-Afrika is daarom sterk op die ontwikkeling van die Tuislande gerig. As die ietwat versluierde interstaatlike gedagte hier beklemtoon word, bete-ken dit dat die RSA as beleid aanvaar dat ekonomiese bedrywigheid vanuit sy eie aantrekkingsgebiede vir Bantoewerkers na hulle herkomslande oorgeplaas word.
In ooreenstemming met die voorgaande bestaan die desentraliseringsbeleid uit twee hoofdele: Die ontwikkeling van grensnywerhede, en Tuisland- of hartlandontwikkeling. Terwyl die sukses van die grensnywerheidskema nie so groot was as waarop gehoop is nie, bly dit waar dat 'n groot getal werkge-leenthede vir pendelwerkers téén die Tuislandgrense geskep is en kan hon-derde duisende Bantoes binne hulle Tuislande bly in plaas van trekarbeiders te word. Die verwagte uitkring- en vermenigvuldigergevolg van hierdie beleid het nog nie sterk ontwikkel nie. Die pendelwerkers se inkomste is en word grotendeels steeds in nabygeleë Blanke dorpe bestee, sodat koopkragontwik-keling in die Tuislande skade ly. Hartlandontwikkeling is daarop gemik om hierdie toestand teen te werk.
Hartlandontwikkeling steun volledig op die optrede van die Staatsverbonde ontwikkelingskorporasies van die Tuislande met die doel om groeipunte binne dié lande te skep. Saamtrekpunte bestaan reeds by Butterworth in Transkei en in Kwa-Zulu en Bophuthatswana. Butterworth verdien uitsondering aange-sien dit die verste van die bestaande saamterkpunte af geleë is. Sy ontwik-keling was oor die laaste drie jaar of wat baie sterk en sy voortgang sal van-weë sy ligging die beste aantoon wat verwag kan word. Die agentskapstelsel het hartlandontwikkeling sterk aangemoedig en kapitaal kom tans die Tuis-lande in redelike omvang binne, selfs uit Europa. Al het die ontwikkeling pas begin en al moet die vermenigvuldiger nog sy werk doen, het etlike tien-duisende nuwe werkgeleenthede binne die Tuislande ontstaan. Dit verbeter die bestaande toestand deurdat 'n groot aantal nuwe toetreders tot die arbeidsmark nou binne die Tuislande werk kan vind, hetsy regstreeks, hetsy dat trekarbeiders uit die RSA die poste in die Tuislande vul.
By die beoordeling van die desentraliseringsbeleid en wat daardeur behaal is, moet nie uit die oog verloor word dat die beleid eers ná 1960 aan die gang gekom het nie en in kort tyd van die grond af opgebou moes word. Daarby moes dit in snelle opeenvolging deur verskillende fases gestuur word. Verder moes ervaring leer hoe sterk die aanmoediging tot desentralisering moes wees. Aansluitend moes alles met beperkte geldelike middele en mannekrag plaasvind, en in mededinging met en binne die raamwerk van die bestaande ekonomiese struktuur. Dit het meegebring dat die desentraliseringsbeleid hoofsaaklik marginaal aangepak is, dit wil sê slegs met betrekking tot nuwe ekonomiese bedrywigheid sonder om die herverspreiding van die bestaande bedrywigheid doelbewus aan te moedig. Suiwer met betrekking tot die ontwikkeling van die Tuislande, dus as intrument van afsonderlike ontwikke-ling, is hierdie die swakste punt van die huidige desentraliseringsbeleid. Die klem is en bly voorlopig op die skep van nuwe suigkrag binne die Tuislande sonder om die bestaande suigkrag van die saamtrekpunte binne die RSA te verminder, dus die aanmoediging van desentralisering eerder as die ontmoe-diging van saamtrekking. Die maatreëls wat bestaan om bykomende saam-trekking teen te werk is beperk en oor die afgelope tyd selfs verswak, soos die verlaging van die verhouding Blank-Bantoe in saamtrekgebiede.
Sowel met die oog op die versnelde ontwikkeling van die Tuislande as die sty-gende koste van verdere saamtrekking vir die RSA (en vir die hele Suid-Afrika) móét die ontmoediging van verdere saamtrekking meer aandag kry, veral met betrekking tot arbeidsaantrekking. Dit kan gedoen word deur die uitgebreide en streng toepassing van die maatreëls wat op sogenoemde geslote gebiede van toepassing is. Daarbenewens kan onregstreekse ontmoedigingsmaatreëls teen verdere saamtrekking ingestel word waar die saamtrekking die indiens-neming van Tuislandburgers behels of aanmoedig. Dit is moontlik om (voor-nemende) werkgewers 'n soort belasting op trekarbeid te laat betaal aan die Tuislande van herkoms van hulle werkers. Sodoende sal die toenemende koste van saamtrekking onregstreeks van die verantwoordelike ondernemers verhaal word, aangesien die voorgestelde belasting aan die Tuislande die gebruik van belastinggeld uit die RSA vir die ontwikkeling van die Tuislande gedeeltelik sal vervang. Die belasting kan op verskillende maniere ingestel word, byvoorbeeld deur die algemene loonpeil in die saamtrekkinggebiede drasties te verhoog en 'n deel van hierdie verhoging in die naam van die werknemer aan sy Tuisland oor te betaal, of 'n regstreekse belasting, of 'n vaste belegging deur die werkgewer in die Tuislande. Die doeltreffendste metode sal deur ondersoek bepaal moet word.
Die uitwerking van al hierdie maatreëls sal in wese dieselfde wees omdat almal daarop gemik sal wees om die arbeidskoste in die saamtrekgebiede in absolute én verhoudelike sin te laat toeneem. Hieruit sal volg dat die voorne-mende (en selfs bestaande) werkgewer weer na die desentraliseringsgebiede sal kyk met die oog op die vergroting in die loonverskil tussen dié gebiede en die saamtrekgebiede. Verder sal die Tuislande kort- en middeltermyngeld sien invloei wat vir die finansiering van ontwikkelingsprojekte aangewend kan word. As 'n deel van 'n loonsverhoging as spaarheffing in die naam van werk-nemers oorbetaal word, sal hulle by hulle terugkeer nie net deelgenote aan die ontwikkeling van hulle lande voel nie, maar ook sélf neseiers hê waarmee hulle iets kan begin.
Die sterkste en belangrikste gevolg van die verhoging in arbeidskoste in die saamtrekgebiede is dat dit ondernemers sal noop om al meer na kapitaal-intensiewe produksiemetodes oor te gaan. Die tegnologiese modernisering van produksiestruktuur sal dit moontlik maak om op nuwe maniere met min-der arbeid dieselfde totale produksievlak te behou. Dit beteken verhoogde produktiwiteit by dié deel van die werkers wat by die produksieproses gemoeid bly en terselfdertyd die vrystelling van die res om goedere in ander ondernemings te produseer, verkieslik in die Tuislande. Die RSA se ekono-miese groei sal nie aangetas word nie en slegs 'n aanpassingstydperk deur-loop. Dit is vir die RSA én vir die Tuislande lewensbelangrik dat die RSA se ekonomie sterk en gesond bly. Een land kan 'n ander slegs help as hy sélf welvarend is.
Let daarop dat die verhouding tussen die RSA en die Tuislande as doelwitte van sy desentraliseringsbeleid sodanig is dat dieselfde ekonomiese subjekte en objekte steeds betrokke is. Besonderlik gaan dit om die skepping van werkgeleentheid binne die Tuislande om werkgeleentheid in die RSA se saam-trekgebiede te vervang, op so 'n wyse dat die totale produksie van RSA en Tuislande nie alleen nie minder word nie, maar selfs toeneem.
Uit die voorgaande blyk duidelik dat soiets wel moontlik is. Die verloop behels die uitvoer van kapitaal en ondernemingsin vanuit die RSA na die Tuislande en hulle arbeid toe, eerder as om die arbeid na die ondernemer en sy kapitaal toe aan te voer. Aangesien kapitaal leweloos is en arbeid nie, voorkom dit die veronderstelde onmenslikheid van trekarbeid. Dit is opmer-kingswaardig dat die Internasionale Arbeidsorganisasie in ooreenstemming met die Verklaring van Menseregte as sy grondslag aan die een kant predik: Elke mens het die reg op werkgeleentheid op enige plek in die wêreld. Aan die ander kant trek dieselfde organisasie orals in die wêreld teen trekarbeid te velde. Hierdie teenstrydigheid spruit uit die humanisties-aardse grondslag van die IAO wat die grondliggende waarheid ontken dat elke mens 'n eie verantwoordelikheid het, en so ook elke gemeenskap en elke volk. Veeleer is dit waar dat elke mens die reg besit om in sy eie milieu vir hom en diegene rondom hom werk-geleentheid uit te werk met alle mag en krag waaroor hy beskik. Daarom kan daar geen beter hulp verleen word as om mense en volke hiertoe te bring nie. Dit is die ondergrond van afsonderlike ontwikkeling: Hulpverlening aan die Bantoevolke sodat hulle tot ekonomiese en algemene selfverwesenliking kan kom.
5. UITVOERBAARHEID EN DOELGERIGTHEID
Daar is aangetoon dat die Bantoevolke 'n aansienlike tekort aan die nodige ondernemingsin en kapitaal toon wat vir hulle ontwikkeling nodig is, en dat ontwikkeling wat in die Tuislande plaasvind deur die uitvoer van hierdie faktore uit die RSA na die Tuislande toe verwesenlik word. Dit word as gegewe aanvaar dat hierdie tekorte, veral van ondernemerskap, nie binnekort genoegsaam onder die Bantoe self opgelos kan word nie, Dit lei tot die vraag of hierdie tekort, wat volgens vele sterk in die geheelekonomie van Suider-Afrika gevoel word, nie die uitvoerbaarheid van afsonderlike ontwikkeling deur die desentraliseringsbeleid onmoontlik maak nie. Daar is op gewys dat desentralisering dieselfde ekonomiese subjekte en objekte betrek. Sal tekorte wat in die geheelekonomie bestaan, nie ook in die samestellende (ontluikende) deelekonomieë voorkom nie?
Onregstreeks en gedeeltelik is aangedui dat dit nie noodwendig so hoef te wees nie. Die voorgestelde loonsverhoging in die saamtrekkinggebiede sal tot die instelling van kapitaalintensiewer produksiemetodes lei, wat al oor 'n breë front aan die gang is, onder andere in die goudmyne. Dit behels meganisering en outomatisering. So word arbeid van 'n sekere ervarings- en skolingsgraad vir indiensneming elders vrygestel waar die arbeidskoste in verhouding tot kapitaalkoste laer sal wees. Maar outomatisering en meganisering stel ook arbeid op die laer en middelbestuursvlak vry, hetsy deurdat sekere mense nie meer nodig is nie, hetsy hulle tydgebruik verbeter. Hierdie arbeid kan met groot nut na die desentraliseringsgebiede, dus die Tuislande, teruggebring en daar tot die eie interne voordeel aangewend word. Let op: Dit gaan om die-selfde ekonomiese subjekte en objekte terwyl die plek van hulle aanwending verskil.
Dit laat steeds die algemene tekort aan ondernemerskap en hoëvlakbestuur wat nie so maklik deur tegniese hulpmiddele vervang kan word nie. In die moderne ekonomiese opset kom die eenmansondernemer nie meer so sterk as vroeër na vore nie en is daar vandag 'n skeiding van die ondernemers-funksies. Veral is die bestuursfunksie nie noodwendig meer die verantwoor-delikheid van die ondernemer nie, nóg is die bestuur van 'n onderneming die werk van een enkele persoon. Hedendaagse verbindingstegnologie maak dit moontlik om die bestuursfunksie oor groot afstande te deel of te verdeel, met een of twee ondernemings of takke van dieselfde onderneming onder een hoofbestuur en met laervlakbestuur by die plaaslike ondernemings. As 'n fabriek in Johannesburg byvoorbeeld wil uitbrei, kan hy sonder om sy hoë-vlakbestuur te verdubbel die uitbreiding ewe maklik in Pretoria, in Johannes-burg of op Butterworth uitvoer. In die laaste geval kan hy vir laervlakbestuurs-werk plaaslike mense (Transkeiers) betrek wat deur die kapitaalintensifiëring in die saamtrekgebiede nie meer werk daar vind nie. Logieserwys is dit makliker om geskikte mense vir laervlak- as vir hoërvlakbestuur te vind.
'n Bestuurservaringsmeganisme kom sodoende tot stand wat die deurstroming van mense vanuit die laer na die hoër vlakke sal vergemaklik. Die aangeduide weg bied aan Transkeiers die geleentheid om ongehinderd die volle weg boontoe te vind, sonder dat die onmoontlike onmiddellik van hulle verwag word. Die wyse waarop die ontwikkelingskorporasies werk, onder andere deur die agentskapstelsel, is daarop ingestel dat die buitelandse (Blanke) bestuursmense so gou moontlik deur geskikte Bantoe vervang word in alle ondernemings binne die Tuislande, terwyl honderde Bantoe-ondernemers regstreeks deur die bemiddeling van die korporasies eie ondernemings opgerig het en bestuur. Hierby geld dit nie noodwendig reuse-ondernemings soos dié in die saamtrekgebiede nie.
Dit is belangrik dat die klein onderneming, die eenman of gesinsaak, die beginpunt van ontwikkeling onder die volksmassa in 'n onderontwikkelde gebied sal uitmaak. Vir enige volk wat wil ontwikkel is dit allereers nodig dat die gees om te ontwikkel die volk in sy geheel beetpak en in die alledaagse lewe ten minste toonaangewend indien nie oorheersend nie sal wees. Dit is goed en nodig dat die groot ondernemings moet kom, maar die verspreiding van kennis, van tegnologiese vernuwing onder die volk, is grotendeels die taak van 'n groot getal plaaslike onderneminkies wat dwarsoor 'n land ver-sprei staan. Die voorgestelde heffing op lone wat in die RSA verdien en aan die Tuislande in naam van die werkers oorbetaal word, kan uitmuntend as neseiers vir sulke klein ondernemings dien.
Word daar op die pad van die RSA self teruggekyk, blyk dat sy eie ontwikkelingsgang wesenlik die patroon toon wat hierbo beskryf is. Trouens, selfs van-dag nog maak die RSA uitstekend van ingevoerde tegnologie gebruik, ook al voer hy dit ook self uit. Tydens die koloniale tydperk was die RSA gedwonge sterk op Engeland aangewys, maar deur harde werk en stryd het hy daarin geslaag om die ingevoerde tegnologiese kennis sy eie te maak en na eie behoefte aan te pas en te ontwikkel. So het hy daarin geslaag om die buitelandse houvas oor sy ekonomie af te gooi en tot selfstandigheid te ontwikkel. Die doel van afsonderlike ontwikkeling is om die ontluikende Bantoestate in Suider-Afrika hiertoe die volle geleentheid te gee. Die verskil met die RSA se ekonomiese geskiedenis is dat dit sonder stryd aan die Tuislande aangebied word. Harde werk bly egter steeds 'n vereiste. Dit behels die volle aanwen-ding van al die produktiewe kragte, en veral die menslike vermoëns wat natuurlikerwys aan hierdie lande behoort, en daarby die verdere uitbou van hierdie kragte. Daar is aangetoon dat dit wel haalbaar is. Dat dit lank sal neem is ook waar, ook dat dit verkeerd sal wees om die tempo te hoog te probeer opstoot. Dan val alles oormekaar en tuimel uiteindelik inmekaar.
Die belangrike is dat geen beletsel op die weg na hierdie ideaal geduld mag word nie. Hoewel die nuwe ondernemings in die Tuislande aanvanklik min-of-meer verlengstukke sal en mag wees van ondernemings in die RSA en elders, moet die pad vir hulle oop wees om hulle van die moederondernemings los te maak namate die bestuursfunksie meer en op hoër vlak deur plaaslike mense uitgevoer kan word. Die voorwaarde geld vanself dat dit deur 'n proses van natuurlike rypwording moet geskied.
Verder moet die RSA tot die erkenning kom dat hy geen aanspraak op die produksiefaktore en by name die arbeid van die ontluikende state het nie. In hierdie verband word na die RSA se verhouding met Lesotho en Mosambiek verwys, vanwaar hy deur ooreenkoms werkers trek sonder dat hy aan-spraak op hierdie mense het of wil hê. Dit geld veral die dun roomlagie, die geringe getal Bantoe wat reeds hulle vermoë in die uitvoering van sommige of al die funksies van 'n ondernemer getoon het. In die holistiese eenheids-benadering word die standpunt verkondig dat steeds meer Bantoe gebruik moet word om die tekort aan opgeleide Blankes aan te vul, vanselfsprekend in die saamtrekgebiede en onder voortgesette (Blanke) leierskap. Tot in die vyftigerjare het die Engelssprekendes in die RSA vrywel alle ondernemings- en bestuursmateriaal opgeëis totdat dit te moeilik geword het om die las alleen te dra. Daarna het hulle die Afrikaner per toelating tot die algemene bestuursvlak laat toetree nadat die Afrikaner tot toe die taak opgelê is om die openbare en dienstesektore te beman. Vandag bevind die Blanke, en bepaal-delik die Afrikaner as die enigste werklike endogene volk in Suid-Afrika hom in 'n soortgelyke posisie, naamlik dat hy onmoontlik nie kan voortgaan om sy eie ekonomie in stand te hou én nog die leidinggewende personeel vir vier- of vyf keer sy eie grootte te voorsien nie.
Die oplossing lê egter nie in die holistiese ekonomiese integrasiegedagte nie, aangesien dit tot 'n horisontale skeiding sal lei wat die bestaande toestand sal vererger. Deur elke volk sover te bring om op sy eie die beste gebruik van sy eie produksiefaktore te maak, sal volgens die riglyne wat aangedui is die oplossing van 'n ongewenste toestand nadergebring. Dit is die enigste regverdige manier om die totale produksie wat oor die hele Suid-Afrika opgelewer word onder die inwoners te verdeel. Want sodoende sal elke volk die alleenaanspraak op sy produksiefaktore werklik kan uitoefen, afsonderlik van die ander volke, en die wyse waarop hy dit doen en waarop hy die ontginning van sy hulpbronne uitvoer, sal dan sy welvaartspeil bepaal. Selfbeskikking gaan hand-aan-hand met eie verantwoordelikheid. Verder is dit ook die enigste manier waarop daar voorkom kan word dat die RSA se saamtrek-gebiede onbeperk voortgaan om die beste menslike kragte van die Tuislande aan te trek en vir eie vooruitgang te gebruik. Dit is onredelik en oneties. Nie-mand moet hoër probeer vlieg as wat sy vlerke lank is en andere daarvoor gebruik nie. Dit is roofbou, en soos in boerdery sal roofbou ook hier tot niemand se voordeel wees nie, nie die roofbouer s'n nie, en ook nie roof beboude s'n nie.
Waar voorgestel word dat die arbeid uit en van die Tuislande deur die RSA vir diens in eie lande vrygestel moet word, is gepoog om aan te toon dat dit sover moontlik deur die verplasing van arbeid deur kapitaal moet geskied, en wel op so 'n wyse dat die RSA se ekonomie nie geskaad word nie. Dit is nodig en geregverdig. Nodig, omdat die RSA self sterk móét bly ten einde sy selfopgelegde en selfaanvaarde verantwoordelikheid en roeping uit te voer om die Tuislande vanuit sy posisie van meerdere kennis en ervaring te help,. Geregverdig, omdat so 'n ontwikkeling nie ten koste van andere gaan nie, maar uit die eie werk en ondernemingsin van die Blanke voortkom. Afsonderlike ontwikkeling beteken nie net die ontwikkeling van die Tuislande nie; dit beteken óók die ontwikkeling van die Blanke se land, die RSA. Daarom mag die Blanke se verantwoordelikheid nie té ver gevoer word, selfs tot by gewaande valse gewetenswroeging nie.
Die RSA se verantwoordelikheid teenoor die Tuislande strek net sóver dat die Blanke die Bantoe tot selfontwikkeling moet help, maar sluit nie die totale versorging van die Bantoe in nie. Dit is 'n enorme taak om die nodige ontwikkelingskapitaal en ondernemingsin te verskaf. Dit is onmoontlik vir die Blanke om die volle lewensonderhoud te dra van vier of vyf keer sy eie getal sonder om te verarm. Saam met hom sal dan diegene wat hy wou help, ook verarm. Tereg word deurgaans gehandhaaf dat die RSA geen aanspraak op die produksiemiddele van die Tuislande het nie. Omgekeerd geld dat die Bantoe-volke geen aanspraak het op die welvaart wat die Blanke verwerf het nie. Hy het hierby die dienste van die Bantoe gebruik, maar teen betaling. Afsonderlike ontwikkeling beteken die skepping van die geleentheid tot selfontwikkeling van die Bantoevolke in hulle eie lande. Dit beteken óók die geleentheid tot selfontwikkeling van die Blanke in sý land. As hierdie wedersydse aanspraak erken word, maar alleen dan, kan daar in Suid-Afrika 'n blywende grondslag vir goeie buurskap en vreedsame naasbestaan geskep word.
-0-0-0-0-0-0-0-
[1] Intussen het die Europese Unie (EU) werklikheid geword en is en word hy reeds deeglik deur die wêrelddepressie sedert 2007 getoets, ook binne eie geledere deur die Griekse, Britse, Spaanse en Portugese krisisse en dreigende krisisse in Frankryk, Italië en elders.
[2] Dit bly merkwaardig dat hierdie toedrag van sake in 2010, meer as dertig jaar later, steeds voortduur. Dit beteken dat twee geslagte in die onderontwikkelde lande presies nog is waar hulle ouers was en nie 'n millimeter ingehaal het op die sogenaamde ryk lande nie ten spyte van die miljarde wat uit daardie lande na hulle toe gevloei het.
[3] Die koste van die gasarbeiderstelsel in Europa het nie net geldelik nie, maar ook geestelik en kultureel tot byna ondenkbare vlakke gestyg, sodanig dat Europa wat sedert die eerste eeu van Christendom die sentrum en draer daarvan geword het, na die roeping wat Paulus in Troas ontvang het (Handelinge 16).
