Media

ONDERWYS, TELKOM, MODISE EN DIE GRONDWET.........WAT ‘N GATSLAG NA ‘94!!

altUittreksels uit vier berigte wat in Volksblad verskyn het, plaas aksent op hoe die “Nuwe Suid Afrika” met sy reënboogkultuur, van die een slaggat na die ander beweeg. As die afgelope 19 jaar sedert 1994 met die sestigers vergelyk word, is die kontras so skokkend dat dit selfs vir sommige swartes duidelik is, sodat hulle nie skroom om ‘n duisend bestuurders af te dank en as verdere remedie ‘n bestuurskonsultantfirma aan te stel wat aanvanklik R91,1 miljoen gevra het vir agt maande se werk, uitgesluit 15% van sy uitgawes, belasting op toegevoegde waarde en internasionale vlugte. Dit is later met 12,2% tot R80 miljoen verminder. Wanneer die fiasko in die onderwys, die miljoene rande se nuwe motors ten spyte van Gordhan se opgelegde beperkings, die onsekerheid oor die grondwet en die Legio ander onbevoegde, selfverreikende, korrupte en onverantwoordelike staats-en-semi-staatspraktyke vergelyk word met die “euwele” apartheidsera, vertoon dit ‘n verval wat selfs ‘n werfbobbejaan na die berg sal laat verlang.

Dit was Oswald Spengler wat gesê het: ‘n Gesonde ekonomie kan nie in ‘n land bestaan sonder sterk leiding in buitelandse beleid nie”. In 1968 het die Financial Mail berig dat die sestiger jare, ten spyte van werkreservering, die dekade van ‘n ekonomiese wonderwerk in Suid Afrika was. “Die probleem is nie hoe om groei te stimuleer nie, maar hoe om groei te demp!”, het die berig gelui. In 1962 het ‘n besoekende Amerikaanse professor, Gilbert verklaar dat die prestasie van die Suid Afrikaanse ekonomie een van die wonderwerke van die moderne wetenskap was.

As daar in terugskouing na die de Klerkregering en sy twee voorgangers se beleidsveranderings gekyk word, kan daar in die lig van die gedokumenteerde voorspoed wat Suid Afrika beleef het, met die grootste stelligheid verklaar word dat hulle optrede moeilik verklaar sou kon word, behalwe indien hulle deur ‘n Sangoma adviseer was.

 

Telkom gaan tot 1 000 bestuurders aflê

Geen bottelwater, Kersetes - werkers is kwaad, sê uitvoerende hoof

Vrydag 10 Januarie 2014

Sipho Maseko, uitvoerende hoof van Telkom, sê die maatskappy gaan tot 1 000 bestuurders aflê en die arbeidsmag van sowat 21 000 mense met byna ’n derde besnoei oor die volgende vyf jaar. Telkom het ook sowat 3 000 kontrakwerkers.

Maseko het in ’n openhartige onderhoud met Bloomberg gesê sy plan om koste en poste te besnoei maak werknemers woedend.

Maseko is in April 2012 in die pos aangestel. Hy het binne dae die Amerikaanse bestuurskonsultantefirma Bain & Co. aangestel om ’n omkeerplan vir die vastelyn-maatskappy, die grootste in sy soort in Afrika, in werking te stel.

Die staat besit 40% van Telkom en die Openbare Beleggingskorporasie, wat staatsamptenare se pensioenfondsgeld bestuur, besit ’n belang van sowat 11%.

“Ek het al die bottelwater gekanselleer. Mense is nie gelukkig nie. Ek het Kersmiddagetes gekanselleer. Mense is nie gelukkig nie,” sê Maseko. “Hulle sê van die voorstelle oor kostebesnoeiing is te aggressief.”

 

Telkom het sedert 2007 al vyf uitvoerende hoofde gehad.

Maseko (44), wat ’n BA LLB aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal het, het hom in 1997 by BP aangesluit en gevorder tot hoof van die olie-en-gasmaatskappy se Suider-Afrikaanse bedrywighede in 2008. In 2011 is hy as bedryfshoof van Vodacom aangestel, maar hy het dié selfoonmaatskappy net ’n jaar later verlaat. Sy bedanking – waaroor hy hom nie wil uitlaat nie – het volgens mense met binnekennis gevolg op sy “gedrag” op ’n sakereis in Mei 2012 na die VSA wat as ’n beloning vir verkoopsagente gehou is. Hy het glo nie die afsprake met die verkoopsagente bygewoon nie. Die skeidingsooreenkoms tussen Maseko en Vodacom is vertroulik.

Tien maande later het Maseko hom by Telkom aangesluit – deels omdat hy onderhewig was aan handelsbeperkings ingevolge sy ooreenkoms met Vodacom.

Die Bain-herstruktureringsplan is binne weke saamgestel, wat kenners meen is besonder kort, gegewe dat dit gewoonlik maande duur. Maseko het reeds voor sy aanstelling met Bain, wat ’n kantoor in Johannesburg het, in gesprek getree. Volgens Bain se herstruktureringsplan sal die “uiters ingewikkelde transformasie” van Telkom tot 18 maande duur en sou dit op 2 April begin – net ’n dag nadat Maseko amptelik aangestel is. Vittoro Massone en Alex Bhak, visepresidente van Bain, is aangestel om die projek te lei. Bain het aanvanklike R91,1 miljoen gevra vir agt maande se werk, uitgesluit 15% van sy uitgawes, belasting op toegevoegde waarde en internasionale vlugte. Dit is later met 12,2% tot R80 miljoen verminder. Volgens Bain is daar ernstige wanprestasie by Telkom en moet sy breëband- en mobiele strategie en sy kapitaalbesteding hersien word.

 

Die groep se inkomste het nog elke jaar sedert 2009 gedaal.

Telkom se aandeelprys het die afgelope jaar meer as verdubbel, maar is nog twee-derdes minder as die hoogste vlak, wat in 2007 behaal is. Dit is ondanks die verlies van R11,6 miljard vir die jaar tot einde Maart 2013, die grootste voljaarverlies wat ’n Suid-Afrikaanse maatskappy nóg aangekondig het in ’n sektor buite die mynbou.

Die waarde van bates is verlede jaar met R12 miljard afgeskryf. Laat in die jaar Jacques Schindehütte, finansiële hoof, geskors, na verneem word weens ’n rentevrye lening. In die eerste helfte van die nuwe boekjaar, vir die ses maande tot einde September 2013, het Telkom se wins met 41% tot R774 miljoen gestyg, eenmalige items uitgesluit.

Telkom is in gesprekke met selfoonmaatskappye vir die deel van infrastruktuur vir sy mobiele afdeling, 8ta, wat die kleinste van die vier mobiele verskaffers in die land is (ná MTN, Vodacom en Cell C). Verbruikers maak al hoe meer op mobiele verbindings staat, vir stem en internet. Die koste van 8ta is enorm, sê Maseko. “As ek dit met ten minste 50% kan verminder, sal dit fantasties wees.” Telkom beoog om hoëspoed-breëband te verbeter. Volgens die dataverskaffer netindex.com is Suid-Afrika se internetspoed stadiger as dié van lande soos Kambodja en Tajikistan.

Maseko probeer ook Telkom se inkomste verhoog. Hy het al gesels met mediamaatskappy soos Comcast, Bertelsmann, Naspers and Netflix oor die gebruik van Telkom se vaste lyne om inhoud in Afrika te lewer. “Ek is toerekenbaar vir die ontwikkeling van die strategie,” sê Maseko. “As die strategie misluk, is ek die een wat geskiet gaan word. Dit is ék.”

 

MODISE ‘HET NÓG ‘N MOTOR GEKOOP’ – DA

Vrydag 10 Januarie 2014

Die Premier van Noordwes, Thandi Modise, het twee motors aangeskaf tydens haar ampstermyn, het die DA Vrydag gesê.

“Die LUR vir openbare werke, paaie en vervoer, Raymond Elisha, het aangedui Modise het ‘n ander motor gebruik buiten die BMW van R1,3 miljoen wat sy in November bestel het en die BMW van R1,1 miljoen wat sy oorgeneem het by haar voorganger, Maureen Modiselle,” het Chris Hattingh, woordvoerder van die DA in Noordwes, in ‘n verklaring gesê. Hy het gesê Elisha het nie verdere besonderhede oor die motor of waarom dit aangeskaf is, voorsien nie. Die wetgewer in Noordwes het ‘n subkomitee saamgestel om die verkryging van die nuwe motor te ondersoek. Mahlakeng Mahlakeng, voorsitter van die subkomitee, het bevestig ‘n tweede motor is in 2010 vir Modise gekoop. Die premier se woordvoerder, Lesiba Kgwele, het navrae oor die tweede motor na die departement van openbare werke en vervoer verwys.

Die debart kon nie onmiddellik kommentaar lewer nie. Die wetgewer se komitee oor openbare rekeninge het die bedrag wat op die BMW 750i spandeer is veroordeel en erken die ekonomie is onder druk, het die voorsitter, Hlomane Chauke, Donderdag in ‘n verklaring gesê.

 

PARTYE WIL WEET OOR ZUMA EN GRONDWET

Alicestine October

Vrydag 10 Januarie 2014

KAAPSTAD. – Opposisiepartye dring daarop aan dat pres. Jacob Zuma verduidelik wat hy in die Grondwet wil verander.

Dít kom nadat Zuma vandeesweek in Nelspruit inwoners gevra het om vir die ANC te stem sodat die party ’n groter meerderheid kan hê om goed te verander wat hy nie met ’n klein meerderheid kan doen nie.

Na berig word, het hy gesê die ANC wil ’n tweederde-meerderheid hê sodat hy die Grondwet kan verander.

Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, het egter gesê daar is niks wat die ANC aan die Grondwet wil verander nie. Dr. Mamphela Ramphele, AgangSA-leier, het gewaarsku dat die land sy swaarverdiende vryheid kwyt kan wees as die ANC te veel mag kry. “Ons het nie geveg in die struggle om agteruit te gaan nie. Die ANC sal sy mag misbruik en die openbare beskermer keer om wanbestuur en korrupsie in die regering te ondersoek.”

Lindiwe Mazibuko, parlementêre leier van die DA, het gesê Zuma se uitsprake oor die Grondwet skep baie vrae oor watter veranderinge die ANC in gedagte het. “In die lig van die president se aanslag op ons grondwetlike demokrasie en sy toenemende minagting van grondwetlike waardes, wek dit kommer dat hy algehele beheer oor wysigings aan die Grondwet wil hê.” Mazibuko het gesê die Grondwet kan gewysig word, maar dit is nie ’n besluit wat sommer ligtelik geneem kan word nie. “Veral nie as ’n verkiesingsfoefie nie.”

 

Ontleders, onder wie prof. Amanda Gouws, dosent in die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch, het vroeër voorspel dat die ANC in alle waarskynlikheid in die komende verkiesing eerder steun sal verloor. “Die politieke speelveld is tans geweldig vloeibaar, veral met die onsekerheid rondom Zuma in die ANC en die verdeeldheid binne die ANC oor hom as leier.”

(Beklemtonings is van die AVP)