Media

WAAR STAAN DIE AFRIKANERVOLK OP 16 DESEMBER 2013?

alt1.INLEIDING:

 By die herdenking van ‘n gebeurtenis 175 jaar gelede is dit beslis nie net die historiese betekenis daarvan wat gedenk moet word nie, maar veral die toekomstige oproep daarvan. Goddank die Afrikanervolk het ‘n dag soos Geloftedag. Dit is te betwyfel of die Afrikanervolk sonder Geloftedag vandag steeds as volk sou bestaan het. Geloftedag het in die verlede telkens die gewete van ons volk aangespreek. Maar wat beteken die dag vir ons toekoms en voortbestaan as volk? Om dié vraag te kan beantwoord moet die betekenis van die aanvangswoorde van die Gelofte van 9 Desember 1838: “Hier staan ons”, ontleed word. Hierdie drie woorde se diepere betekenis word dikwels oorgesien in die konteks waarin dit staan, naamlik: “Hier staan ons voor die Almagtige God van hemel en aarde”.

 

Wanneer die betekenis van hierdie woorde ontleed word, is drie vrae ter sake:

 

          Wie was die Voortrekkers van 1838?

          Waar staan die Afrikanervolk in 2013?

          Is daar enige hoop vir ons volk in hierdie offerland?

 

2.WIE WAS DIE VOORTREKKERS?

 

Ons volk se oorsprong strek veel verder terug as 6 April 1652. Jan van Riebeeck was nie maar net nóg ‘n Hollander wat toevallig na die Kaap gestuur is om ‘n verversingspos daar te vestig nie.

 

Van Riebeeck afgestam het van die Germane, ‘n volk wat bekend was vir hulle (Protestantse) geloof, hulle dapperheid en hulle onverskrokke deursettingsvermoë. Sy gebed van 24 Desember 1651 voor sy vertrek na die Kaap staan in die teken van hierdie herkoms. Op Oukersaand in 1651 voor sy vertrek na die onbekende Kaap van Storms bid hy:

Barmhartige, genadige God en hemelse Vader, volgens u goddelike wil is ons geroep.

 

Hy bid dat ware gereformeerde Christelike leer voortgeplant sal word en bring die Statebybel van 1637 saam; laasgenoemde met as oorsprong die Sinode van Dordt van 1618-1619. Hy bid tot die een waaragtige God en hy stel dat hulle geroep is. Twee jaar na sy aankoms maak hy ‘n gelofte:

Waar dit vandag die tweede verjaarsdag is van die dag waarop ons deur die Here gelei met die skepe Drommedaris, die Reyger en die Goede Hoop hier ter plaatse behoue aangeland het om hierdie vesting en kolonie na die bevel van ons here en meesters (Here XVII) te bou en te bestendig, en opgelet het dat God die Here alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wense laat verloop en laat slaag het, het ons besluit, en ook vir die eerste keer begin om hierdie dag, die 6e April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot 'n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die Here wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word.

Daarbenewens neem ons kennis dat in die Voortrekkers se are die bloed van die Hugenote (letterlik: “eedgenote”) bruis. In Frankryk in daardie tyd was Protestantisme ‘n misdaad teen die staat. Christene het op brandstapels gesterf. Maar hierdie Protestante van Frankryk het deur ‘n eed hulleself aan mekaar verbind om hulle geloof te verdedig. Op 24 Augustus 1572, vandag bekend as St Bartholomeusnag, word sowat 10 000 Protestante vermoor. In die jare wat volg word kerke vernietig, predikante verban, huisgodsdiens verbied en verlaat sowat 300 000 Frankryk. Net ongeveer 150 van hulle vind hulle weg na die Kaap.

 

Verder weet ons dat hierdie mense, die Voortrekkers, kontak met inboorlinge van Afrika gehad het wat hulle nie net baie leed sou aandoen nie, maar dat die Hottentotte en Xhosas, en later die Matebeles en Zoeloes, hulle sou brei en sou laat besef dat skeiding, eerder as vermenging, die voorwaarde vir oorlewing is in Afrika.

 

Laastens het hierdie gemeenskap ‘n verset teen vreemde oorheersing opgebou. Die Britse imperialisme met gepaardgaande Engelse besetting en die vrysinnigheid wat daarmee saamgegaan het, het hulle nie aangestaan nie.

 

Dit is teen hierdie agtergrond dat Piet Retief se manifes opgestel is. Hy skryf onder meer van die “uiters ergerlike en ernstige verliese” wat hulle aan die Oosgrens gely het en hoe moeilik dit is om die “heilige bande” te verbreek wat 'n Christen aan sy geboortegrond bind.

 

Dan vervolg hy:

1.         Ons gee moed op om die kolonie te red van daardie euwels wat dit bedreig weens die oproerige en oneerlike gedrag van leeglopers wat toegelaat word om die land oral te teister, ook het ons geen vooruitsig van vrede en geluk vir ons kinders in 'n land wat so deur interne toestande verwar is nie.

2.         Ons kla oor die swaar verliese wat ons gedwing is om te ly deur die vrystelling van ons slawe, en die ergerlike wette wat aangaande hulle verorden is.

3.         Ons kla oor die aanhoudende stelsel van plundering wat ons gedurig moes verduur van die Kaffers [Xhosas] en ander gekleurde klasse, veral tydens die laaste inval in die kolonie, waardeur die grensdistrikte verwoes is, en die meeste inwoners geruïneer is.

4.         Ons kla oor die onregverdige blaam wat op ons gewerp is deur betrokke en oneerlike persone, onder die mantel van godsdiens, wie se verklarings in Engeland geglo word met die uitsluiting van alle getuienis in ons guns; en ons kan as 'n gevolg van hierdie vooroordeel, niks anders as die algehele ondergang van die land voorsien nie.

5.         Ons is vasbeslote, waar ons ook al gaan, om die regverdige beginsels van vryheid te handhaaf, maar terwyl ons sal sorg dat niemand in 'n toestand van slawerny gehou word nie, is dit ons vaste voorneme om sodanige bepalings in stand te hou wat misdaad sal onderdruk en 'n gesonde verhouding tussen baas en kneg sal verseker.

6.         Ons verklaar plegtig dat ons hierdie land verlaat met 'n begeerte om 'n rustiger lewe te lei as tot nou toe. Ons sal niemand molesteer, nog hulle van die kleinste besitting beroof nie, maar, as ons aangeval word, sal ons onsself ten volle geregverdig ag om ons lewe en besittings te verdedig, na die beste van ons vermoë, teen elke vyand.

7.         Ons maak bekend, dat ons 'n stel wette vir ons toekomstige bestuur sal opstel, afskrifte sal vir algemene inligting na die kolonie gestuur word; maar ons maak van die geleentheid gebruik om te verklaar, dat dit ons vaste voorneme is om voorsiening te maak vir die summiere straf van enige verraaiers wat tussen ons gevind mag word.

8.         Ons is van voorneme, om gedurende ons reis, en by ons aankoms in die land waar ons permanent sal woon, die inboorlingstamme in te lig oor ons voornemens, en ons begeerte om in vrede en in 'n vriendskaplike verhouding met hulle te lewe.

9.         Ons verlaat hierdie kolonie in 'n vaste sekerheid dat die Engelse regering niks meer van ons moet verwag nie, en ons sal toelaat om onsself in die toekoms te regeer sonder inmenging.

10.       Ons verlaat nou die vrugbare land van ons geboorte, waar ons groot verliese en voortdurende ergernis moes ly, en betree 'n wilde en gevaarlike gebied; maar ons gaan met 'n vaste vertroue op 'n alsiende, regverdige en barmhartige Wese, wie ons sal strewe om te vrees en nederig te gehoorsaam.Op gesag van die Boere wat die Kolonie verlaat het.

Opsommend kan ons sê dat die Voortrekkers die volgende twaalf kenmerke gehad het:

*          ‘n Vaste geloof in die Almagtige God. ‘n Geloof wat spruit uit kennis van God en vertroue in God.

 

*          Die gesin as hoeksteen van hierdie gemeenskap. Dit is in hierdie vesting, die gesin, waar hierdie geloof geleer is.

 

*          ‘n Gemeenskap waar gesag gegeld het. Gesag wat gebondenheid verg en vestig, en wat met sy reëls, wette, voorskrifte en regulasies orde gevestig het.

 

*          Geskiedenis as onmisbare band tussen verlede, hede en toekoms.

 

*          Self-identiteit wat deur voorgaande vier kenmerke gevestig word.

 

*          Selfrespek wat voortspruit uit hierdie identiteit en wat aan die mens ‘n     staanplek in sy gemeenskap gee.

 

*          Selfbetuiging as noodwendige resultaat van selfrespek ten einde jouself uit te druk en te laat geld.

 

*          Selfbehoud deur selfhandhawing as uitvloeisel van die individu wat selfrespek het om sy identiteit te betuig.

 

*          Voortsetting van die individu, die gesin en die lewenswyse; dit wil sê kontinuïteit.

 

*          Die ontstaan van ‘n volk as gevolg van voornoemde kontinuïteit as synde die versameling van eensgesinde gesinne.

 

*          Die uitleef van daardie volkskap binne ‘n eie vaderland deur skeiding en die daarstel van grense.

 

*          Vryheid as hoogste ideal ten einde Afrikanerskap ten volle uit te leef.                   

Dit is met hierdie kenmerke/karaktertrekke wat ‘n epiese tog, die Groot Trek aangedurf is. En die wedervaringe op hierdie pad het hulle saamgebind hierdie bande versterk.

 

Dan breek 1838 aan wat seker een van die mees dramatiese jare in ons geskiedenis was. Op 6 Februarie word Retief en sy manne vermoor, op 17 Februarie word 352 mense by Bloukrans en Weenen vermoor, op 11 April vind die slag van Italeni plaas, en vanaf 13 tot 15 Augustus die slag by Veglaer. Voortrekkerleiers sterf en ander verlaat die laer. Wanneer Andries Pretorius op 22 November daar opdaag moes baie seker getwyfel het of selfs hierdie leier ‘n verskil sou maak. Die geskiedenis was aan die begin van Desember 1838 op ‘n mespunt gebalanseer.

 

Teen hierdie agtergrond gaan sowat 470 manne en hulle maak ‘n gelofte. En terwyl met reg baie aandag aan die godsdienstige betekenis van die Gelofte gegee word, is daar drie woorde van die Gelofte wat dikwels misgekyk word. Daardie drie woorde is:

HIER STAAN ONS!                 

Hierdie woorde getuig van ‘n geloofskrag en ‘n karakter wat nie sy gelyke in Afrika, en moontlik selfs in die res van die wêreld gehad het nie.

 

Die Godswonder van Bloedrivier kon net gebeur omdat ongeveer 470 man bereid en in staat was om tussen 15 000 en 30 000 Zoeloes aan te durf ten spyte van alles wat ontbeer is in 1838. Dit was nie die woorde van hulpelose, verwarde, uitgelewerde, gebreinspoelde mense nie. Nee. Die Gelofte is gemaak deur manne wat deurtrek was met geloof, moed en volharding en wat met daardie mondering alles wat menslik moontlik was gedoen het het en eers daarna, in hulle gereedheid, ‘n gelofte gemaak het.

 

God laat wonders met mense gebeur wat bereid en in staat is om vir Hom en hulle eie vlees en bloed in die bresse te tree. 16 Desember 1838 was ‘n keerpunt in ons geskiedenis en bly ‘n koersbepaler vir die nageslag. Die resultaat daarvan was ‘n volk, die Boer, en later die Afrikaner, wat sou vry word in sy eie land. ‘n Volk wat vry was van vreemde oorheersing. Die doel wat met die Groot Trek gestel was, is verwesenlik.

 

Dit is net só ‘n volk wat in sy Grondwet kan sê:

 

In nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God, die Skepper en die onderhouer van die lotgevalle van nasies.

 

3.WAAR STAAN ONS VOLK VANDAG?

 

Vandag moet ons in skaamte erken dat min van die karaktertrekke van die Voortrekkers nog vaardig is in ons volk. Die bande wat ons bind is aan repe. Ons mense het groter lojaliteit aan ‘n rugbyspan as aan hulle bloedvolk. Alles is gerig op pret, vermaak, ontspanning, geld en gerief. In sulke toestande is dit verbasend dat mense verwonderd staan waarom ons vermoor, vermink, verkrag en verguis word.

 

Feit is dat ‘n afvalligheid by ons ingetree wat grens aan goddeloosheid. Vryheid het losbandigheid geword. Durf is deur twyfel vervang. Moed deur lamsakkigheid. Vasberadenheid deur kruipagtigheid. Geloof het kleingeloof en bygeloof geword. Gesinne het enkelouers geword. Homoseksualisme ‘n edel eienskap om na te streef. Gesag word orals ondermyn. Geskiedenis is nie net ouderwets nie, maar iets om oor skaam te wees. Ons praat ‘n vyand klakkeloos agterna oor sy afgod wat die lewe gelaat het. Die Drie-enige God is deur die Madiba-god vervang. Ons val oor mekaar om lof aan ‘n vyand van ons volk te betuig. En die een probeer die ander in sy lofbetuiging oortref!

 

Ja, ons selfrespek is tot aan die wortels aangetas. Van selfbetuiging en selfbehoud is daar nie sprake nie. Van voortsetting as vrye volk in ‘n eie vaderland nog minder.

 

Waarom is dit so gesteld met ons volk?

 

Ja, dit is so dat die Gelofte vergeet is. Maar die Gelofte is vergeet omdat ons volk gebreinspoel is en tans in ‘n massa-hipnose verkeer. In hierdie hipnotiese toestand is dit bloot logies dat alles wat die vyand aan hom opdis, klakkeloos nagepraat sal word. In ‘n toestand van hipnose is dit onmoontlik om rasioneel te dink en te doen omdat jy bloot die pion van jou hanteerder is.

 

Toe Alfred Milner in 1902 gesê het dat die oorlog teen ons volk sal voortduur deur ander middele as die koeël uit ‘n oorlogswapen, het hy presies dít bedoel, naamlik dat ons volk geestelik gebreek sou word. En die aanslag op ons volk se siel deur die Anglo-Amerikaanse magte was genadeloos. Die kanker van liberalisme is deur die vyandelike magte se media op ons losgelaat wat ons geesteskrag getap, en meeste uiteindelik geknak het, sodat ons soos pionne in die hande van ons sielkundige meesters geword het. ‘n Gebreinspoelde volk word gekondisioneer om soos Pavlov se honde te blaf as hulle die woord “Madiba” hoor. Hulle kwyl as die klokke beier. Hulle kan nie anders nie.

 

Maar nou is Suid-Afrika se god dood en begrawe. Die klok wat die mense moes laat kwyl, proes en prewel, is stilgemaak. En u sal sien dat hierdie magte nou naarstiglik sal soek na ‘n plaasvervanger, ‘n nuwe god, ja, ‘n nuwe klok. Die waarheid is dat hulle daardie god nie sal vind nie. Want ons moes mos hoor: Daar was net één soos hy! Die afgodsmens, Mandela wat God in Suid-Afrika onttroon het, is van sy volgelinge weggeneem. Nou staan die mens van die nuwe Suid-Afrika nakens en uitgelewer. Dit is daardie mens wat uitbasuin in sy grondwet: “Ons die mense!” Hulle het egter niks meer om vir mekaar en vir u en my te bied nie. Die Afrikanervolk wat hierdie bestel met sy grondwet en sy god hoek, lyn en sinker gesluk het, en daardeur die ware God verwerp het, staan in al sy ellende en verderf uitgelewer, nie net aan die vyand nie, maar aan die oordeel van die God wat hy verlaat het.

 

Is dit dan ‘n hopelose toestand?

 

Op die oog af wil dit so voorkom ja. Maar gelowige Afrikaners weet dat God mense en volke ophef juis in toestande van absolute hopeloosheid.

 

In sy sterwensuur is die moordenaar aan die kruis verlos toe hy bely het dat Jesus die Seun van God is. Ware, onwrikbare geloof wat kleingeloof verdring, ongeloof oorweldig en afgode tot niet maak stel die basis daar van ‘n volk wat sal opstaan. Dit is die eerste vereiste.

 

In hierdie toestand waarin ons verkeer moet u uself geestelik afsonder van hierdie afvalligheid. Terwyl ons geen ander keuse het as om ín hierdie land te woon nie, hoef ons nie deel van hierdie nasie te word nie.

 

Tweedens moet ons weer die rots aanskou waaruit ons voorouers gekap is. Die volharding van die Voortrekker, die durf en die moed van die Germaan en die vertroue van die Hugenoot het nie oornag uit ons gene verdwyn nie. Ons moet besef dat ons steeds daardie eienskappe besit.

 

Derdens moet ons die skuldgevoel wat ons omgewerp is, afwerp en ons selfrespek herwin. God self het ons as volk gewil. Hy het as groot skeidingmaker (soos Totius dit gestel het), gediskrimineer teen ander toe hy die Afrikanersaad in Afrika laat ontkiem het. Daarom is skeiding, diskriminasie en apartheid nie sonde nie, maar uitlewing van ‘n Godgegewe roeping. Om dit te betuig, is alreeds ‘n daad van selfrespek.

 

Dit is egter bloot menslik dat ná alles ’n mens steeds onseker is oor die toekoms. So lees ons van Gideon in Rigters 6 wat, ten spyte van die feit dat hy deur die Here self geroep is om teen die Mideaniete op te trek, probeer wegkruip het en nie kans gesien het vir die taak wat voorgelê het nie. Selfs nadat die Here hom as ‘n “dapper man” aanspreek, is Gideon die twyfelaar en soek hy allerlei verskonings. Dis dan dat die Here vir hom sê “Gaan met die krag wat jy het”, bedoelende dat wat Gideon ookal tot sy beskikking het, hy moet aanwend en in die naam van die Here die vyand moet aandurf. Gideon kry dan ook opdrag om sy pa se altaar vir Baäl af te breek. Dit is eers wanneer die Gees van die Here besit neem van Gideon, dat Gideon kans gesien het om met slegs 300 man op te trek teen 135 000 Mideaniete.

 

Uit hierdie les is dit vir ons duidelik dat ondanks dit wat van hierdie volk geword en oorgebly het - sy verwording na afvallige individue wat oor niks anders gesteld is as sy eie ek en sy eie klein wêreldjie nie - daar steeds die Gelofte is wat sê dat daar ‘n God is wat die Afrikanerman en –vrou in hierdie land ken. Hy het sy hand nie weggetrek oor ons nie. Daar is ’n God wat sê dat hy ons dapper sal maak sodat ons weer kan sê: Hier staan ons!

 

Wat moet gebeur, is dat ons die twaalf eienskappe van Afrikanerwees weer ons eie moet maak. Slegs deur die volle uitlewing van hierdie eienskappe sal die Afrikaner weer in staat wees om te kan sê: Hier staan ons!

 

Met dit as agtergrond is daar twee vrae wat steeds by mense leef: Of die Afrikaner weer vry sal wees en, indien wel, watter tipe vryheid vir hom bestem is.

 

Die tweede vraag is die maklikste om te beantwoord, want dit beantwoord ook noodwendig die eerste vraag. Die aanskouingsles van Afrika met sy 3500 etniese groepe en 2110 tale is een wat leer dat die meerderheid die minderheid altyd domineer. Indien die minderheid nog boonop van die blanke ras is, is daar ‘n nydigheid wat noodwendig oorgaan in haat en wat, soos ons al gesien het in die geskiedenis, dikwels tot massamoorde lei.

 

Daar word gesê dat die Hutus in hulle stryd teen die Tutsis in Ruanda ‘n stryd gevoer het om hulle eie minderwaardigheid daarmee uit die weg te probeer ruim. Keith Richburg, ‘n Amerikaanse Neger skryf soos volg in sy boek Out of Africa:

 

When Hutus picked up machetes to slash to bits nearly a million of their Tutsi neighbours in the 1994 Rwandan genocide, they were, on a deeper level, slashing at their own perceived ugliness, as if destroying this thing of beauty, this thing they could never really attain, removing it from the earth forever.

 

Daar word gepraat van versoening wat bewerkstellig is in Suid-Afrika na 1994. Moorde op blankes alleen het reeds die 30 000-kerf in die afgelope 20 jaar verbygegaan. Net ‘n gekondisioneerde mens in ‘n toestand van hipnotisme kan sulke kaf kwytraak om daarmee die realitiete van Afrika opsy te skuif ter wille van die vermaak, pret, plesier en gerief wat die waarheid moet verdring.

 

Die waarheid is dat as jy ‘n land regeer en elke wet in plek het om ‘n volk weens sy getalle-minderheid te onderdruk en jouself deurentyd te bevoordeel en steeds voortgaan om daardie volk uit te moor, dan kan dit net gebeur omdat jy minderwaardig voel en omdat jou intelligensie te kort skiet en jou kultuur minderwaardig is.

 

Dr DF Malan het in sy baie bekende toespraak op Geloftedag gesê dat die Afrikaner in God moet glo, in sy volk moet glo en ook in homself moet glo. Hierdie drie kenmerke som die essensie van Geloftedag op. Geloof, soos hierbo uitgespel, wat oorgaan in moed en wat uitspruit in volharding. Dit is die drie kenmerke wat die Afrikaner gehad het. ‘n Geloof in God stel immers die basis daar van ‘n geloof in jou volk en in jou eie saak.

 

Die Afrikaner het hom nog nooit groot opgestel teenoor ander nie, maar klein teenoor die Godsplan van verskeidenheid, soos Eitemal dit gestel het. Wat nodig is, is dat die Afrikaner sy minderwaardigheidsgevoel sal afwerp en sal besef dat hierdie volk gebrei is deur honderde jare en tereg, te midde van al sy gebreke, kan sê: Aanskou die geskiedenis waaruit ons gekap is.

 

Laastens kan net dáárdie leierskap vertrou word wat ons volk op hierdie basis sal lei. Sonder ‘n leier soos Andries Pretorius sou die Slag van Bloedrivier te midde van al die gebeure waarvan mens kennis neem waarskynlik nie dieselfde verloop gehad het nie. So was dit telkens in ons geskiedenis die geval. Die Here roep dan ook vir Gideon as leier om die Mideaniete te verslaan. Daardie leier sal weer, soos Paul Kruger gesê het, die stem van God in die stem van sy volk moet hoor, want hy sal moet optrek in die naam van die Here. Daardie leier sal by uitnemendheid die twaalf kenmerke van Afrikanerskap moet besit.

 

Die Afrikaner is vandag kwalik in staat om die stryd teen die vyand aan te knoop, omdat die kenmerke van Afrikanerskap by hom grootliks ontbreek. Daardie kenmerke sal eers weer deel van die Afrikaner se wese moet word. Eers wanneer daardie kenmerke by die Afrikaner vaardig is, sal hy weer kan sê: “Hier staan ons”, en sal hy die vyand met vertroue tegemoet kan gaan.

 

Geloftedag roep die Afrikaner op om herbesit van sy wese te neem as voorwaarde vir die herbesit van sy vryheid!      

 

 

 

 

Dr SH Gregan