Media

IS SOLIDARITEIT EN AFRIFORUM SE FONDASIE DAN NOU LEUENS EN SINKRITISME?

altDie SoliForum-kabal bestaande uit Solidariteit en sy sogenaamde nie-regeringsorganisasie AfriForum steier gisteroggend onder nuus dat Radio Pretoria se hoofbestuurder Willie Spies vreemde luistersyfers bekend gestel, en dat AfriForum se Ernst Roets witvoetjie gaan soek het by 'n godsdiensgelykheidsforum van die Verenigde Nasies. Daar word baie stellig bespiegel dat Radio Pretoria in die proses van sy luistersyfers by adverteerders beter te laat lyk, ’n “nuwe metode vir die bepaling van luisteraartalle ontdek het”.  

Daar word verneem dat Solidariteit se “amptelike prokureur” en al vir 'n geruime tyd Radio Pretoria se “tydelike hoofbestuurder” Willie Spies, se kop kan rol ná berigte oor dié vreemde metode om Radio Pretoria se luistersyfers te bepaal. Die radiostasie se luistertalle het ingrypend gedaal sedert Spies daar aangekom het om die stasie namens die linkse vakbond, Solidariteit te bestuur. Ook die inkomste verskaf deur die luisteraars het weens die kansellasie van maandelikse bydraes en treurige vasbyt-inkomste op gevaarlike vlakke te staan gekom.

 

 

Ernst Roets, wat al van tevore weens vreemde uitsprake in die nuus was, moet dringend op die rooi tapyt verskyn weens 'n besoek aan 'n VN-forum wat sogenaamd godsdiensgelykheid bevorder. Daar word oor Roets se buiging in die VN-raadsaal verklaar: “Die hoop word...uitgespreek dat die drie minute bespreking van plaasaanvalle nie tussen die talle ander drie-minute-besprekings oor minderheidsgelowe oor twee vol dae heen, verlore raak nie, maar wel sekere priesters, dolosgooiers en monnike aan die krisis waarbinne ons volk verkeer, bekend sal stel.”

 

Oor Spies se vreemde en bevraagtekenbare metode om Radio Pretoria se luistertalle te bepaal word verklaar: In die algemeen word aanvaar dat “South African Audience Research Foundation” (SAARF) oor die enigste standaard metode beskik vir die bepaling van luistertalle vir alle radiostasies in Suid-Afrika. Dit staan bekend as die RAMS syfers wat deur SAARF gebruik word

 

Dit word aanvaar dat die RAMS syfers van SAARF die enigste aanvaarde, en erkende wyse van bepaling van luistertalle vir radiostasies soos Radio Pretoria is. Die Besturende Direkteur van Radio Pretoria, mnr. Willie Spies, gebruik self ook die RAMS syfers van SAARF sedert hy, danksy die ooreenkoms met Solidariteit, by die stasie aangestel is.

 

SAARF se syfers word blykbaar sedertdien nie meer as ’n getroue weergawe aanvaar deur die direksie van Radio Pretoria nie, en blyk dit nou dat Radio Pretoria inderdaad die enigste radiostasie in die land is wat oor ’n nuwe, (tans nog onbekende) metode het vir bepaling van luistertalle. Volgens Spies sou Radio Pretoria se luisteraars onlangs “op een stadium” met 170,000 gegroei het.

 

Spies gebruik ook grafiese voorstellings soos tydens Radio Pretoria se onlangse jaarvergadering om aan te dui dat die luisteraars nou op sowat 171,000 sou staan.

 

Volgens SAARF is dit egter onwaar en het Radio Pretoria geensins “op een stadium” met 170,000 luisteraars gegroei nie. SAARF gegewens dui daarop dat Radio Pretoria sowat 100,000 luisteraars minder het as wat deur Spies voorgehou word. Spies se syfers mag derhalwe vals wees, sou dit nie vir Radio Pretoria se nuwe, dog onbekende metode wees vir die bepaling van luisteraars getalle nie.

 

Dit is onbekend watter metode of bron deur Spies aangewend word om luisteraarsgetalle te bepaal, anders as die standaard metode wat tot dusvêr ook die enigste aanvaarbare metode is wat in die bedryf gebruik word.

 

Vrae in die verband bly onbeantwoord. Dit is ook onseker waarom Spies wel SAARF se syfers vir Radio Pretoria van ’n paar jaar gelede as korrek aanvaar het, maar nou ten gunste van sy nog onbekende metode is.

 

Spies se getalle vir luisteraars van Radio Pretoria verskil egter so drasties van die res van die bedryf dat sy nuwe metode vir die bepaling van luisteraars getalle ’n omwenteling in die bedryf kan veroorsaak.

 

Met Spies en Radio Pretoria se nuwe metode sal alle radiostasies oor die land heen maklik 100,000 tot selfs 1 miljoen meer luisteraars hê as wat tot op nog toe deur SAARF bepaal is, en mag daar selfs meer radioluisteraars in die land wees as wat daar werklik inwoners in die land is. (Dit laat ‘n mens onwillekeurig dink aan 1994 se verkiesing toe daar sowat een-en-‘n-kwart mijoen meer stemme uitgebring is as waarvoort daar stembriewe gedruk was. Regter Kriegler se bordeel, volgens sy eie oordeel)

 

Een kommentator het hom so oor Spies uitgelaat:

“Of Spies het ‘n nuwer slimmer manier om sy syfers so belaglik op te jaag, of hy is steeds ‘n leuenaar. So eenvoudig soos dit. En ek dink nie hy gaan kan verduidelik waarom hy nou juis nie hierdie SAARF syfers gebruik nie, maar eerder sy eie duimsuig-syfers.

“Ek het ook gaan kyk op SAARF se webwerf, ek sien dat Radio Pta. beslis MEER as 100 000 luisteraars minder het as wat Spies voorgee (68 000, soos maar altyd). Het Willie dalk gegaan en besef hy maak ‘n mislukking van die stasie waar hy so jaar na twee gelede nog vol van homself en sy beloftes was? Het Willie daarop gegaan en nou maar begin om syfers te kook sodat goedgelowige luisteraars werklik dink die getalle het gestyg? Dit is ‘n skreiende skande! En tragies. Tragies dat so mooi stasie nou met sulke leuens en bedrog regeer word.”

“...Spies se syfers is vals en ‘n bedrogspul (tensy hulle gou ander leuens uitdink om hierdie een te verbloem).” Nog 'n kommentator het verklaar: “Hierdie is ‘n lelike slagyster waarin Spies hom namens Radio Pretoria en Solidariteit bevind. Lelik!”

 

Hy gaan voort: Al verneem van sirkulasie (en nou skynbaar ook ‘n luistertal) -skandale! Dit breek ‘n nuusverskaffer. Die voormalige Die Transvaler, destyds gewikkel in ‘n doodstryd met Beeld, se lot is verseël deur die verstrek van vals oplaagsyfers, en al die groep se koerante (behalwe die destydse sogenaamde “staatskoerant” Citizen), het in die langer proses wat daaruit voortgekom het, tot niet gegaan. Die eienaars was Dagbreektrust en die Perskor-groep. Hierdie verleentheid het destyds onder die Naspersgroep bekend gestaan as Syferfontein (‘n sinspeling op die vernederende vrede waaraan die Boere op Vereeniging (1902) onderwerp is waarvan die onderhandelinge op Syferfontein begin het).

“Ironies genoeg het Naspers enkele jare gelede self in ‘n sirukalasiesyferskandaal gestaan toe die vrouetydskrif Sarie betrap is op die verstrek van fiktiewe oplaagsyfers, die tydskrif wat met die hoed in die hand voor sy Geldmag-adverteerders moes verskyn.

“Ek verstaan Flip Buys van Solidariteit is lid van die Dagbreektrust en sodoende ook lid van die Naspersgroep (waarin Dagbreek na die sirkulasieskandaal opgeneem is.) Ek sal Buys aanraai om onmiddellik met van die ouer direksielede van die trust ruggespraak te hou oor al die nare gevolge van vals oplaag- (en ook luister-) syfers. want hy is klaarblyklik self ‘n leek in sulke sake. En dan dringend in gesprek te tree met Willie Sizwe Spies. Dit lyk in elk geval na ‘n uitgemaakte saak dat as Solidariteit die vertroue tussen Radio Pretoria en sy adverteerders wil herstel, daar dadelik met Spies ‘n plan gemaak word. Daar is eenvoudig, soos sake nou lyk, geen ander uitweg as om Spies se diens by Radio Pretoria onmiddellik te beëindig nie. Die vraag (en dit word in die algemeen gestel), is dat as ‘n nuusverskaffer se hoofbestuurder nie die aanvoeling het om die verband tussen ‘n nuusverskaffer en sy nuuskliënte (luisteraars en hul getalle) te sien nie, hoe so ‘n mens in die eerste in so 'n pos aangestel is.”

 

 

Daarop antwoord nog 'n kommentator: “Daardie sirkulasieskandaal het Perskor gebreek en vir Naspers die geleentheid gegee om met ‘n middernagtelike strooptog Dagbreek Trust oor te neem. Die finale vernietiging van Perskor het gevolg nadat Naspers (dis nou nadat hulle die Trust oorgeneem het) ‘n skadevergoedingsbedrag van R6 miljoen van Perskor geëis het, vir sg. verlies vir wat hulle a.g.v. die bedrieglike syfers aan advertensie-inkomste gelei het. Die nuwe besturende direkteur van Perskor, uit die Naspersstal, het die bedrag in een slag oorbetaal.

“Dit was Die Transvaler en Die Vaderland wat die penarie veroorsaak het. Net vir interessantheid, Harald Pakendorf was die destydse redakteur van Die Vaderland. Dit sal interessant wees om te sien of Radio Pretoria deur die ander media tot orde geroep gaan word en aangekla gaan word bedrog. ‘n Bedrogklagte is wat die destydse voorsitter van Naspers, adv. Lang Dawid de Villiers, Perskor mee afgedreig het.

“Gaan hierdie hele storie verby sonder dat een haan daarna kraai, dan weet ons dat dit in ons vyande se belang is dat die Soliradio moet voortgaan. In die middel tagtigs sou mnr. Spies op die Prokureursorde se rooi tapyt geroep gewees omdat hy met syfers goël vir finansiële voordeel en sou daar verder kwaai optrede teen die hele direksie geneem word. Ten minste sou almal moes bedank.”

 

Roets was kwansuis by die VN “oor die krisis van plaasaanvalle”.

 

'n Berig lui dat die VN Komitee vir Minderheidsregte se afdeling bekend as Die beskerming van Minderheidsgelowe deur AfriForum genader is.

 

Die komitee het op 26 en 27 November die sesde sessie wat as “Verby vryheid van geloof: Die waarborg van minderheidsgelowe” bekend staan, te Genève in Switserland gehou.

 

… Die gelykstelling, wedersydse aanvaarding en versoening van alle gelowe en gode word deur die komitee van uiterste belang, voorop gestel.

 

Gedurende die bespreking oor sogenaamde minderheidsgelowe is daar na elke sessie aan belangstellendes drie minute gegun om insette te lewer. Talle verteenwoordigers het insette gelewer en kon AfriForum ook in ’n stadium die geleentheid kry om ’n drie minute voorlegging oor plaasaanvalle by die geloof-forum voor te hou.

 

Die Verenigde Nasies is egter ’n omvangryke instelling en het op 27 November reeds talle komitees en forums gehad wat vergader het.

 

Daarby het die Sekuriteitsraad onder voorsitterskap van China vergader en was alle prominente state direk daarby betrokke. Die komitee wat met minderheidsgelowe gehandel het, het derhalwe bloot verteenwoordigers van verskeie gelowe byeen gebring.

 

Dit is ook tegnies korrek om die komitee waarby AfriForum betrokke was eerder as ’n forum van ’n subkomitee van ’n verdere subkomitee van die komitee van Menseregte van die VN te beskryf.

 

Die hoop word egter deur sekeres uitgespreek dat die drie minute bespreking van plaasaanvalle nie tussen die talle ander drie minute besprekings insake minderheidsgelowe oor twee vol dae heen, verlore sou raak nie, maar wel sekere priesters, dolosgooiers en monnike aan die krisis waarbinne ons volk verkeer, bekend sal stel.

 

Daar heers onsekerheid of AfriForum enigsins teen die sinkretisme wat met die bespreking waaraan hul deelgeneem het, kapsie gemaak het. Verskeie Afrikaanse kerke weier al ’n geruime tyd om aan hierdie soort besprekings deel te neem, juis omrede hulle die oppergesag van die Drie-enige God daardeur misken.