Dit was 'n spannetjie professionele roubeklaers wat teen seker minder as 'n daalder bekom kon word om iemand se heengaan op te dollie met 'n
behoorlike geween.
Die geween het seker maar ook gedien as 'n tydige en luide waarskuwing om die mens in uitvaart of oorvaart wat 'n lewe tot die behae van ou Niek gely het se opwagting in die warmer oord deeglik bekend te maak, dan het ou Niek seker gemaak dat die nuwe aankomeling 'n behoorlike warm ontvangs te beurt val. Waar en wanneer die gebruik van tjankbalies, en of dit onder die wakende oog van die Gereformeerde geloof tot 'n einde gedwing is, in onguns verval het is seker deur een of ander oplettende in die geskiedenis aangeteken. Feit is egter dat die tjankbalie se dae getel was in die land, elke afgestorwene sou vir seker meer as 300 jaar self vir die nodige leedwese met sy heengaan sorg. Totdat Nelson Mandela op die politieke toneel, en uiteindelik ook iets in sy longe, gebars het... die tjankbalie is as't ware met 'n knal terug in die land.
Aan ywer by hulle ontbreek dit nie, as 'n ambulans net verby een van Mandela se vele statige verblyfplekke ry, dan trek die seine reg om die aarde en voor jy kan sê lang mes, is die tjankbalies in hul honderde voor daardie ongelukkige perseel waar die ikoon met sy laaste worstelinge om asem besig is, dis net kameras en joernaliste en straatskilders en smouse en ver- en nabylangse familie waar jy kyk en nie kyk nie.
Dan begin die nuus en berigte te trek, dis die nuwe tjankbalie aan die werk, die wêreld moet nie net op die dag of die week van die ikon se teraardebestelling ween nie, 'n voorlopige en/of denkbeeldige traan wat intussen weggepink word, sal ook gepas wees.
Aan die spits van die tjankbalies en so min of meer in daardie swart gat van die stralekransie wat bokant Mandela se kop dryf, vind die waarnemer dié tjankbalies. Hulle werk ook vir Naspers.
Hulle by Naspers kén die besonderhede van ween en meelewing met hul ware en enigste ikoon op die punte van die vingers, die voorfase, die tussenfase, die hooffase, die voorlaaste fase en nog nie helaas nie seker nog tien ander fases. Maar dat hul ikon met die nodige geween uitgeknikker gaan word, dis verseker en onderskryf deur Sanlam.
Soos almal teen hierdie tyd seker weet, bevind hulle ikon hom nou in die voorbereidende fase van ween in 'n hospitaal in Pretoria. Uit daardie vermeende oord van vertrek na 'n ander plek het daar in die afgelope maand vele stigtende tjankbalieklankies via hul drukkersink, elektroniese media en die eter die wêreld ingegaan.
Hoe groot moes die hedendaagse tjankbalieberoep in die algemeen se teleurstelling nie wees nie toe die nuus begin deursyfer hul ikon staan nog nie op vertrek nie, al die trane en denkbeeldige trane, die opgehoopte emosie verniet.
Toe, gister, vertel 'n besoeker, 'n Swart predikant, die ikon práát, hy reageer op vrae. Die waarnemer sou dink dié nuus sou die tjankbalie in een towerslag in 'n lagbalie verander, hulle sal die riem- en die bostelegrawe, ja elke telegraaf en nie 'n telegraaf nie wat nuus kan dra laat sing.
Nou ja, 'n waarnemer het seker nie 'n tjankbalie nodig vir die opwek van 'n bietjie meegevoel met Naspers en die ander tjankbalies se lot nie, hulle het immers, al was die vrywilliger-tjankbalies van die verlede wat jy veral onder die kerklui en sekere Afrikaner-glanspersoonlikhede gevind het vir steun in hul taak skaarser, hul bes probeer.
In een van hierdie besprobeerpogings het Naspers byvoorbeeld vir 'n ghoeroe in die tjankbaliebedryf, Tobie Wiese, gekry om in die vrouetydskrif Sarie 'n ellelange voorlopige lyksang op so 'n hoë noot in te sit, sy stembande sal nooit weer dieselfde wees nie.
En een van die geheimpies wat Wiese met die tydskrif deel is 'n baie vertroulike woord dat hul ikoon 'n Christen is.
Die niksvermoedende leser sal, in die aangeblaasde meegevoel vir Naspers se ikon, nie wonder, maar het hierdie nou enigste oorlewende ikon dalk ook nie in ewe groot vertroulikheid aan die Hindoes en die Judaïste en Boeddhiste soortgelyke waardering vir hulle geloof uitgespreek nie, hul ikon was immers daar in 1994 en met die New Age-beweging taamlik vars afgeskop 'n intergeloofspendelaar soos min.
Op ernstiger noot: Soos aan jou vriende word jy in die politiek aan jou simpatie geken.
Laat die Afrikanervolk nie vergeet hoe Naspers berig en geskryf het oor daardie brutale moord op mnr. Eugene Terre’Blanche nie en hoe selfs afgetrede Naspers-joernaliste opgeroep is om stink rympies oor mnr. Terre’Blanche op te rakel nie.
En dit dan vergelyk met die rooi tapyt, die geel hamer en sekel in een hoek onder 'n krans van Naspers verberg, wat hierdie nuuskartel vir Mandela se stoet uitgerol het. En hul krokodiltrane. Dit is beter om gehaat te word vir dit wat jy is as om ge-eer te word vir dit wat jy nie is nie!
