Media

Kennis en begrip van Afrikaners vir gebeure wat die Afrikaner polities ontmagtig het, is lotsbepalend vir die Afrikanervolk.

altMens kan nie in ʼn bordeel werk en kuis bly nie

 

Daar het baie water in die see geloop sedert die sluipmoord op dr. HF Verwoerd , 47 jaar gelede op die 6e September 1966. Dit was die einde van ʼn bloeitydperk vir die Afrikanervolk en die begin van die ellende wat ons vandag beleef. Die stryd wat die jong Afrikanervolk aangeknoop het om vry en onafhanklik oor homself te regeer het in die verlede nie gestuit op die meerdere getalle van swart volke of die magtigste wêreldryk wat telkens ons vryheid in gedrang gebring het nie. Dit het begin by die behandeling wat die Vryburgers onder die Engelse moes verduur nadat hulle die Kaap by die Hollanders afgeneem het in 1795 en wat aan en af geduur het tot vandag toe, na gelang die Britte telkens agter die Afrikaner wat uit die Kaapkolonie uitgetrek het om van hulle weg te kom, aangetrek, hulle grondgebied geannekseer en deur hulle Imperiale strewe die Afrikanervolk telkens probeer onderwerp het aan die Britse kroon.

Die politieke oorwinning oor die liberale Engelsgesinde Afrikaners onder leiding van Genls. Louis Botha en Jan Smuts in 1948 deur dr. D.F.Malan en adv. Hans Strydom, wat begin is deur genl. B.M. Hertzog, het die bloeitydperk waarna hierbo verwys is ingelui en wat beslag gevind het in die Republiek van Suid Afrika op 31 Mei 1961. Dit was ook waarskynlik die grootste nederlaag wat die Engelse teen die Afrikaner gelei het. Daarmee was hulle egter nie klaar met die Afrikaner nie en is ʼn koverte offensief teen die Afrikanervolk begin met Harold MacMillan se “Winds of Change” toespraak en die Sluipmoord op dr. Verwoerd, kort daarna.

Hierdie veragtelike Internasionaalbeplande sluipmoord op een van die mees begaafde en beginselvaste Afrikanerleiers in ons geskiedenis, was ook die begin van ʼn ingrypende verandering in benadering, nie net van die leiers wat hom opgevolg het nie, maar ook van die aanslag op die Afrikanervolk van buite, wat ʼn beeld van reg en geregtigheid, regverdigheid en Christelikheid voorgehou het terwyl die teenoorgestelde die dryfveer was!

Ten spyte van John Vorster, die opvolger van dr. Verwoerd se versekering dat hy in die voetspore van Verwoerd sou loop, was dit juis onder sy leierskap dat Maori’s toegelaat is om in Suid Afrika te kom rugby speel. Die toelating was nie openlik nie maar onderduims. Onder die aandrang van dr. Danie Craven het die regering sy plig en verantwoordelikheid ontduik deur toelating af te wentel na klubvlak sodat klubs self kon besluit of hulle nieblankes wou toelaat al dan nie. Die gevolg was onvermydelik. Dit was die dun punt van die wig wat afsonderlike ontwikkeling moes oop forseer tot rasseintegrasie.

Met geïntegreerde rugby en die gevolglike gemengde sosiale funksies wat daarop gevolg het, was dit die kerke wat op sluwe wyse deur die broederbond se invloed in kerkrade, ringe en sinodes, Afrikaanse kerke links begin krink het tot by Kerk-en-Samelewing van die NG-Kerk in 1986, toe apartheid as sonde verklaar is en die kerk vir alle rasse oopgestel is. In ʼn geheime werksdokument van die Broederbond wat in 1986 sirkuleer is, is daar uiteengesit hoe Suid Afrika onder ʼn Swart meerderheidsregering en onder ʼn Swart president gebring moet word. Heeltemal teenstrydig met die NP beleid van afsonderlike ontwikkeling, het Nasionaleparty kabinetslede en ministers agter die Afrikanervolk se rug, beplan om Suid Afrika eerloos aan ons vyande te oorhandig. Op daardie stadium was nagenoeg 80% van die Nasionale Party parlementslede, en feitlik die hele kabinet lede van die Broederbond. Met feitlik elke predikant wat ook lid van die Broederbond was, is dit gemeensaak dat die aanslag uit die kerk op die Afrikanerdom sou saamval met die regering se verraad teen die Afrikanervolk. Met dr. Verwoerd uit die pad was dit afdraande na rassegelykstelling waarheen die Afrikanervolk geleidelik, subtiel maar meedoënloos gesleep is deur leuens, bedrog, ondermyning en verraderlike onderhandeling agter sy rug met die vyande van die Afrikanervolk met die oog op uitlewering! John Vorster, P.W. Botha en FW. De Klerk wat al drie verkies is met ʼn mandaat van Blanke Afrikaners wat deur hulle verteenwoordig moes word, het bewustelik en doelgerig die rug op hulle volk gedraai. Die mandaat van Afsonderlike Ontwikkeling wat reeds ver gevorderd was om die swart volke van Suid Afrika sowel as die kleurlinge na onafhanklikheid te lei waar elkeen oor homself volgens eie aard en behoefte sou kon regeer, binne sy eie grondgebied, was hulle opdrag en taak.

Daardie mandaat is op diaboliese wyse omseil toe de Klerk in die 1992 Referendum van 17 Maart met ʼn kunstig bewoorde vraag, ʼn meerderheidstem in die referendum verkry het. Die bewoording het só gelui: “Ondersteun u voortsetting van die proses van hervorming wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat gerig is op ʼn nuwe grondwet deur onderhandeling?” Daarop moes Afrikaners net ja of nee stem! Daardie meerderheid het egter nie aan die NP die mandaat verleen wat hulle hul aangematig het nie, omdat dit bloot ʼn antwoord op ʼn vraag was wat toestemming sou verleen tot die onderhandeling vir ʼn nuwe grondwet en voortsetting van die hervormingsproses, sonder om die ingrypende betekenis daarvan aan die kiesers te verduidelik. Na dié onderhandeling, het de Klerk soos in Hansard opgeteken, onderneem om die grondwet wat onderhandel is weer aan ʼn referendum deur die Blanke kieser te onderwerp met die implikasie dat dit goed of afgekeur kon word. Met die uitslae van verskeie tussenverkiesings was dit egter duidelik dat hy nie sou slaag nie en is die belofte van ʼn tweede referendum in die doofpot gestop!

Terwyl al hierdie geknoei agter die skerms aan die gang was, is van elke moontlike Afrikanerorganisasie wat met Vrymesselaars en Broederbonders in hulle geledere gesit het, gebruik gemaak om Afrikaners wys te maak dat Apartheid moreel onverdedigbaar is en in stryd is met die Bybel. Die Afrikanervolk moes ten alle koste in die beskuldigde bank geplaas en daar gehou word. Daar is verder valse versekerings deur die NP op skrif uitgegee om Afrikanerkiesers te oortuig dat ons skole, kerke en eiendom, asook ons blanke woongebiede behoue sou bly.

ʼn Een-mens-een-stem verkiesing is sonder mandaat in 1994 gehou waarin die meeste blankes buite stemming gebly het. Dit was in hierdie verkiesing waar op ʼn vraag van wyle mnr. Jaap Marais aan regter Johan Kriegler hoe dit moontlik is dat hy die 1994 verkiesing vry en regverdig kan verklaar as daar een-en-‘n-halfmiljoen meer stemme getel is as waarvoor daar stembriewe gedruk is, wat sy antwoord was dat daar maar altyd hier en daar ongerymdhede in ʼn verkiesing voorkom. “ ʼn Mens kan nie in ʼn bordeel werk en kuis bly nie” het hy gesê. Dit is hierdie gesindheid van Kriegler wat die ingrypende verandering aangedui het in benadering, nie net van die leiers wat dr. Verwoerd opgevolg het nie, maar ook van die aanslag op die Afrikanervolk van buite soos hierbo gestel is.

Goedgelowige Afrikaners wat werklik begin glo het dat Apartheid euwel was soos wat Willie Jonker van die NG-Kerk, horisontaal namens ons hele volk teenoor swartes bely het, het nie besef dat hulle nou in die linies van ons vyande, in slagorde teenoor hulleself en hulle volksgenote opgestel is nie! Na gelang die Afrikaner se magsposisie in Suid Afrika al swakker word en dit wat ons as ʼn volk deur God se genade oor eeue opgebou en tot stand gebring is, siender oë verteer word deur die Swart Kommunistiese Meerderheid regime wat deur onreg en bedrog in beheer gekom het van Afrikanerland, is die aansprake en deelname aan die verraad om guns by die “veroweraars” te wen, al meer openlik en blatant. Maar so kom ook die onderduimsheid, bedrog en verraderlikheid, al meer na die oppervlak.

Terwyl die mure van beskaafdheid, moraliteit, sedelikheid, orde en welvoeglikheid rondom die kerke in Suid Afrika val soos die mure van Jerigo, swyg hulle in al elf tale! Die kerke se aandeel aan die vernietiging van ʼn Christelike beskawing in die twintigste eeu, sal in geskiedenisboeke opgeteken word as veel erger as die bloedige vervolging van Christene in Marie Antoinette se tyd, al is dit bloedloos in ʼn sin.

As die Afrikanervolk na al die onthullings en ander openlike erkennings van geheime betrokkenheid by die onderwerping van die Afrikaner aan die onheiligheid waaraan ons vandag blootgestel word, steeds verdeeld bly, steeds die onsinnigheid van Boer of Afrikaner te wees voorhou as versperring tot eensgesindheid, steeds sport en geld en goed bo God stel in die sin van meer tyd aan sy en haar tydelike aardse bestaan as aan hulle ewigheidsbestemming, sal dit lotsbepalend wees vir ons voortbestaan as ʼn volk. Dit is noodsaaklik dat ons die onreg en onderduimsheid soos wat tydig in die verlede deur dr. Albert Hertzog, mnre. Jaap en Willie Marais, , van naderby ondersoek en vergelyk met gebeure soos wat dit ontplooi en wie almal daarby betrokke is.

Adv. Piet Pretorius het in sy boek Volksverraad, Gunter Shicklegruber in Dokument X en nou onlangs die verklarings oor hoe ons behoudende Afrikaners deur die polisie ingelok word in die sogenaamde “Boeremag” saak deur kapt. Deon Loots het bekend gemaak hoe daar van korrupsie, leuens en misleiding gebruik gemaak is om die Afrikanervolk te ontmagtig. As dit saamgelees word met Gen. Erle Cocke wat aan die hoof van Nugan Hand Bank se Washington kantoor in April 2000 ‘n verklaring van 67 bladsye afgelê het waarin hy sy betrokkenheid in Projek Hammer geopenbaar het en tien dae later dood is aan kanker van die pankreas, kan ons volk sy selfrespek herwin deur gesamentlike optrede in sake van gemeenskaplike belang, op pad na ons vryheid in hierdie pragtige land wat ons uit ons versaakte God se hand ontvang het.

U sal my miskien verkwalik omdat ek sê, versaakte God. In die handleiding Persone en Familiereg van J.D. van der Vywer en Joubert, is daar op bladsy 40 ʼn bespreking van die bepaling van Artikel 2 van die grondwet van die Republiek van Suid Afrika 110 van 1983. Maar wat het u en ek gedoen toe die Drie-Enige-God van die Christendom waarin ons Afrikaners geglo en dit so bely het in die 1961 Grondwet van Suid Afrika vervang is met die Almagtige God van die bevolking van Suid Afrika in 1983? Ons ongeërgdheid oor sake van uiterste belang het reeds toe al duidelik geblyk!

Lees nou en sien die verskil in benadering van dr. Verwoerd wat beloftes eer teenoor de Klerk wat dit koelbloedig ignoreer soos wat die Britte dit ten opsigte van die Sandrivier Konvensie gedoen het met die anneksasie van Transvaal deur Shepstone!

 

Toesprake in die volksraad in verband met die republikeinse grondwet. Die Eerste Minister het die Republikeinse Grondwet persoonlik deur die Parlement geloods. Die historiese debat het op 30 Januarie 1961 begin.

Verlede jaar het hierdie Parlement, ter voorbereiding vir die toets van die volk van Suid-Afrika, die Volkstemmingswet aangeneem, en in ooreenstemming daarmee is op 5 Oktober verlede jaar die volkstemming gehou. As gevolg van die uitslag van daardie volkstemming is, ooreenkomstig ʼn belofte, op 9 Desember 1960 in die Staatskoerant 'n ontwerpgrondwet gepubliseer wat gebaseer was op die Suid-Afrikawet, ook soos beloof. Op 23 Januarie van hierdie jaar is die wetsontwerp hier ingedien. So het ons gevorder vanaf die ideaal tot by die aankoms van die werklikheid.

As ons Afrikanervolk hierdie ooglopende bedrogvolle optrede steeds gelate oor ons laat spoel terwyl daar tog duidelik identifiseerbare gemeenskaplike sake is waar ons gesamentlik in verset behoort op te tree ten spyte van ander verskille, is ons lot reeds verseël! Dit geagte volksgenote, behoort nie so te wees nie en is verseker nie in belang van ons vryheidstrewe nie. Sonder om te haat en selfs sonder veroordeling van persone en ook selfs sonder geweld, bly dit elkeen van ons se verantwoordelikhied om dit wat so sigbaar verkeerd is effektief teë te gaan deur gesamentlik daarteen op te tree! Neem by voorbeeld verhoogde belastings terwyl dienste en infrastruktuur agteruitgaan. Skoolfondse en uitgawes terwyl die kwaliteit daarvan nêrens meer erken word nie. Die moord en verkragtings op ons volk terwyl wet en orde niks daaraan afdoen nie, om maar enkeles te noem. Raak dit nie elkeen van ons nie?

Die AVP beplan ‘n gesamentlike byeenkoms van almal wat hierdeur geraak word, ongeag of u met ons oor ander sake verskil en sal u mettertyd daaroor verder inlig. Laat ons ons dus voorberei om nie met mekaar op daardie byeenkoms te praat oor die sake waaroor ons met mekaar verskil nie, maar slegs oor die sake van gemeenskaplike belang sodat ons gesamentlik kan optree. Daar is al verskeie kere gese: As ons dan in Suid Afrika tot niet moet gaan, laat dit dan ons lot wees en nie ons skuld nie!