Media

DIE AANSLAG OP ONS AFRIKANERSKAP

Professor Danie Goosen se beteuterde getuienis in die Malema-saak oor wie dan nou kwansuis as Afrikaners beskou moet word, laat ‘n mens opnuut besef hoe skaam die Afrikaner geword het vir homself. Daarteenoor staan die uitspraak van ds Piet van der Merwe van die Hervormde Kerk wat openlik verklaar dat ‘n ‘n rassis is, bedoelende dat hy ‘n voorkeur het vir Blanke mense en dat hy  nie skaam is daaroor nie. Dit laat mens opnuut besef dat definiëring van begrippe noodsaaklik is en daarby dat ‘n suiwering in volks geledere noodsaaklik is.

Die Afrikanervolk is ontvang en gebore in nasionalisme. Nasionalisme kan nie gedefinieer word as “Christelik” of “rasgebonde” nie, want dit is per definisie Christelik en rasgebonde. In sy volle dimensie sluit Afrikanernasionalisme Christenskap en Blankeskap in. Patriotisme, kulturele verankering en historiese gerigtheid is uiteraard deel hiervan. Hierdie nasionalisme is ‘n onstuitbare mag as dit vertroetel en versterk sal word deur die voortdurende beroep op volkskap, vryheid, vaderland en heldedom – iets wat vandag kennelik ontbreek.

 

Die beleid van apartheid (skeiding) en nasionalisme is onafskeidelik. Want apartheid gee gestalte aan nasionalisme. Apartheid beteken dat die reg op voorkeur praktiese beslag kry. En wanneer met apartheid gediskrimineer word is dit omdat ‘n keuse veronderstel word, en nie in die eerste plek om ‘n ander te benadeel nie. Dit word gedoen om die onderskeid wat deur die Skeppingsorde daargestel is, te bestendig en te verhoed dat jou eie volk deur volksvreemdes en volksvyandiges benadeel en uiteindelik vernietig word in ‘n proses van vermenging en verswelging. Nou is daar slegs enkele mense oor wat nie bereid is om weg te hardloop van die beleid van apartheid nie. As jy van apartheid en gevolglik Blankeskap wegskram, het jy reeds die Afrikaner versaak.

 

Elke Afrikanernasionalis het daarom die taak om, al is dit met ‘n enkele uitlating, as die volk se geheue op te tree. En omdat jy dit doen, sal daar altyd magte opgestel wees wat jou en jou saak wil vernietig; ja, veral vanuit “eie” kringe. Hierdie “gematigdes” soos Solidariteit en prof Goosen doen meer skade aan die Afrikaner as wat Malema ooit kan doen. Waarom hierdie aanslag uit “eie”, of dan “gematigde” geledere? Omdat die vyand weet dat ‘n mens wat hom skaam oor sy identiteit, soos prof Goosen, die ideale persoon is om die Afrikaner van binne te rysmier. Afrikaners kan hulle staal teen Malema as “buitestaander”, maar sien die “professor” as ‘n “spreekbuis” vir die Afrikaner. Hy is “slim” en daarom is hy seker reg!.

 

Onder die geklank van die towerwoord “versoening” moet ons oortuig word dat “dialoog” beter is as konfrontasie. “Vergeet ook van ras”, lui die argument, “ons weet wie ons is”. Hierdie persone se bedoelings is allermins suiwer. Hulle sal met die vyand praat totdat die perde horings kry. Al wat glo van belang is, is dat “iets positiefs” gedoen moet word om hierdie identiteitslose Afrikaner uit sy ellendige posisie te “red”. Dit is, verwyder van al die emosie wat met hierdie standpunt saamgaan, die argument vanuit omstandighede. Om in hierdie tyd vanuit beginsel te argumenteer is, aldus die “versoeners”, eenvoudig uit die bose. Soos een “vooraanstaande” persoon in “konserwatiewe” geledere dit al gestel het: “Wat help dit om heeltyd by die beginsel te staan. Later is dit net jy en die beginsel wat oorbly!”

 

Richard Weaver skryf in sy werk The Ethics of Rhetoric dat:

“the argument from circumstance is the argument philosophically appropriate to the liberal. Indeed, one can go much further and say that it is the argument fatal to conservatism”.

Die argument vanuit omstandighede, is, soos die naam aandui, die naaste van alle argumente “to purest expediency”. ‘n Tydelike omstandigheid (“realiteit”) word op sigwaarde beskou, en as bindend en bepalend gesien. Die tipiese uitdrukking van hierdie persoon is: “Ons het nie ‘n ander keuse nie”. Of soos John Vorster dit gestel het: “Die alternatief is te aaklig om te bedink”. Dr Verwoerd, wat gestel het dat die ideaal sterker as die werklikheid is, het as idealis (en beginselvaste Afrikaner) geglo dat die beginsel van apartheid, ondanks die feitelike “realiteit” van getalle, steeds die koers moet aandui. Na dr Verwoerd se dood het die omstandighede eerder as die beginsel die weg aangedui. Dit was immers Harold MacMillan wat van mening was dat ‘n mens maar moet gaan waar die stroom jou vat!

 

Dit is die tydsgees wat prof Goosen laat weghardloop van sy Afrikanerskap; ja die eis van die omstandighede. Dit is die beginsel wat ds van der Merwe laat verklaar dat hy ‘n rassis is. Vir die een is sy aansien op die spel, vir die ander sy Afrikanerskap.

 

Ons het meer Afrikaners soos ds Piet van der Merwe nodig wat, alhoewel dalk in skerpe teenreaksie teen die hewige aanslag op ons volk homself as “rassis” beskou, eerder as nasionalis, wat hy eintlik is, tog nie skaam is om homself voor ander te betuig nie. Saam met mense soos ds van der Merwe kan mens oorlog toe gaan; saam met prof Goosen na die aanloklike drink- en eet bakke van die vyand – waar Afrikanerskap sneuwel. Maak vandag nog die keuse waar jy graag wil wees!