1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
6123286

Besoekers aanlyn

Ons het 56 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Media

WAAR STAAN ONS KINDERS?

By baie Afrikaners is daar vandag twyfel in hulle gemoed oor die toekoms van die Afrikaner. Talle het moed opgegee oor die nut van die stryd hier in Suid-Afrika en dink dalk daaraan om hulle lewe elders in te rig, weg van die misdaad en diskriminasie wat hulle hier beleef. Wanneer dit bloot om persoonlike veiligheid en -redes gaan, kan daar natuurlik nouliks fout gevind word met so ‘n redenasie. Dit is tog bloot menslik om veiliger woonplek te soek. So sal mens bloot om veiligheidsredes eerder in ‘n klein dorpie of rustiger woonbuurt wil bly as in Hillbrow. Daarom is dit in hierdie opsig verstaanbaar dat plekke elders in die wêreld bo Suid-Afrika gekies word om in te leef. Veral as kinders ter sprake is…

Die saak gaan egter om meer as net persoonlike veiligheid. Wanneer ons vir mekaar sê dat ons in Suid-Afrika wil bly doen ons dit om verskeie redes. Die eerste rede is natuurlik dat ons glo dat ons ‘n roeping in hierdie land het. Daardie roeping behels dat die Drie-enige God dit gewil het dat daar ‘n Christelike Blanke volk wat Afrikaans praat aan die suidpunt van Afrika tot stand gekom het met ‘n eie kultuur en tradisie. Indien daardie uitgangspunt aanvaar word en werklik daarin geglo word, is die antwoord op die vraag of geëmigreer moet word, baie maklik. Die antwoord is eenvoudig nee. ‘n Roeping bring dan ook die verantwoordelikheid mee dat dit wat vir jou nagelaat is, deur jou bewaar en in stand gehou moet word ten einde dit weer vir jou kinders na te laat. Dit is wel so dat dit wat vir ons nagelaat is nie meer dieselfde lyk nie en vervorm is tot ‘n samelewing wat geheel en al vreemd is aan dit wat die Afrikaner gewoond was. Dit is beslis nie die erfenis wat aan ons nagelaat is nie en wat ons vir ons kinders wil nalaat nie. Maar dit maak ons taak soveel groter. Ons moet ons immers nou beywer om daardie erfenis te herwin sodat dit weer vir ons kinders nagelaat kan word. Ons kinders sal nie eendag na ons wil verwys as lafaards wat nie bereid was om te stry vir die behoud van dit wat oor eeue in hierdie land gevestig is nie. Of gaan hulle?

 

 Om enige erfenis van betekenis na te laat impliseer die strewe na vryheid in ons eie vaderland. Alleen in ‘n eie land kan ‘n eie erfenis bewaar word. Dit gaan baie offers van ons vra. Vryheid is iets wat deur die hart en die verstand aanvaar moet word en wat nie net aan “ander” oorgelaat kan word nie. Elke lid van hierdie volk wat hierdie roeping aanvaar, sal hierdie saak vir homself moet toeëien. Indien ons nie meer glo aan hierdie roeping nie, sal ons kinders ook nie meer glo aan hierdie roeping nie, en sal hierdie volk verdwyn.

 

Die kind is immers die persoon wat aan die geslagte sin en inhoud gee en die aansporing verleen vir alle werk wat deur ons verrig word. Sonder kinders sou hierdie land en hierdie volk se toekoms sonder hoop en sonder vooruitstrewendheid op elke terein van die lewe wees. Ons sou ‘n volk wees sonder inisiatief. Daar sou geen rede hoegenaamd wees tot enige inspanning nie en daar sou geen behoefte wees aan navorsing om meer kennis op te diep nie en ook geen rede tot skepping nie. Daar sou vir ons geen nut in ons bestaan hier wees nie. Wat sou dit ons baat om hier te lewe as daar niemand is om iets aan n ate laat of wat kan opvolg nie. Die “erfenis” wat ons tans het kan ons nie aan ons kinders nalaat nie. Daarom moet ons strewe om die erfenis wat ons wel ontvang het, te herwin sodat dit aan die kinders nagelaat kan word. En dit moet aan kinders vertel word. Daarom moet ons ook aan ons kinders vertel dat ons bedrieg is uit ons erfenis deur FW de Klerk, die Broederbond en die NG Kerk. En elkeen wat vandag in ‘n soort vertraagde reaksie ook stotter “apartheid is ‘n onreg” is mede-aandadig aan die ontneming en vernietiging van ons volk se erfenis. 

 

In ‘n toespraak wat dr HF Verwoerd gehou het op 1 Oktober 1959 tydens ‘n kongres van die NG Kerk in Bloemfontein het hy hom oor die saak van die kinders van ons volk pragtig uitgelaat. So het hy gestel dat:

 

“... die skeppingsdrang in ons, die vooruitgang van die mensdom oor die tientalle eeue wat verby is, gegrond [was] op die feit dat daar kinders is. As ‘n volk geen kinders het nie, watter prikkel is daar vir die edelste drange om uitgeleef te word, watter prikkel is daar tot liefde van mens tot mens? Watter aanleiding is daar tot vaderlandsliefde as jy dit aan niemand kan nalaat nie? Waarom sou jy waarde heg aan moraliteit as die volk verbygaan wanneer jy sterf...? Waarom sou ‘n mens waarde heg aan ‘n kleurskeidslyn en waarom sou ‘n mens strewe vir die voortbestaan vir jou volk of vir jou blanke beskawing? Niks wat in ons huidige lewens betekenis het of wat dryfkrag is vir ons van dag tot dag, hetsy dryfkrag in die private lewe van die gewone man, of die dryfkrag wat die volksleier besiel, het waarde as daar nie ‘n geslag is wat moet volg nie. Letterlik alles wat ontstaan of wat gereël word, bestaan net omdat die mens vorentoe kyk. Dwarsdeur die eeue is die mense besig om aan die wêreld van die toekoms te bou. Hy is selde besig met die hede. Die mens is ‘n  denkende en skeppende wese, omdat hy vorentoe kyk.”

 

Daarom, soos dr Verwoerd dit gestel het, is die kind vir elke ouer die prikkel tot hoogste inspanning en ‘n bron van inspirasie. Daarbenewens is daar ook die gevoel faktor by kinders wat aan mense dryfkrag gee. Die kind is, deur die liefde wat met hom verbonde is, by ouers en by volk en by kerk die agtergrond vir die offervaardigheid van die mensdom. Die liefde vir die kind vernietig die selfsug en gee weerstandsvermoë teen pyn en teen vermoeiing. So sal elke ouer hom afsloof ter wille van sy kind. Soos dr Verwoerd tereg gestel het, is ons kinders ons volk se kosbaarste juweel is en kan ons ons kinders nie wegbêre nie, maar moet ons hulle dra.

 

Belangriker egter is dat ons hierdie kinders nie van ons moet laat afsteel nie. Wanneer vertrek word na ‘n verre land, word ‘n kind van ons afgesteel. Ons moet hierdie kinders in hierdie land behou, want hulle is ons toekoms en hierdie kinders kan nie verlore laat gaan word nie. Wanneer Afrikaners weer opnuut besef dat kinders die voortsetting is van die volk sal hy weer opnuut al sy denke en sy krag wy aan hulle wat sal volg.

 

Ter wille van ons kinders is daar reeds baie gedoen op skole vlak deur onder andere volkseie onderwys wat ons kinders in ‘n Christelike en volkseie milieu onderrig. Hierdie kinders sal en moet, waar hulle hulle ook al bevind, die kern van die leierskap moet wees in die toekoms om hierdie volk behoue te laat bly. Maar meer sal gedoen moet word; in hierdie skole en ook op elke terrein waar dit moontlik is. Waar al die universiteite nou in die hande van die Kommunis en Antichris val, sal Afrikaners ook moet besef dat dit uiters noodsaaklik is om tersiêre onderwys aan ons kinders te gee by ‘n instelling wat hierdie saak ten doel stel. ‘n Groter poging sal aangewend moet word wat dit, wat alreeds tot stand gebring is, nou drasties uit te brei. Daar is waarskynlik baie wat sal argumenteer dat tersiêre onderwys oorsee verkry kan word. Die feit is egter dat alle Afrikaners dit sal kan bekostig nie. Maar meer as dit: Glo ons ook aan die ontwikkeling van kinders op hierdie vlak in ‘n Christelik-volkseie milieu? Waarom was daar universiteite soos Stellenbosch, Potchefstroom, RAU en Pretoria? Watter van ons ouer mense is nie steeds trots op dit wat hulle beleef het in hulle tyd by hierdie instellings nie? Wil ons nie vir ons kinders dieselfde voorreg gun nie? Moet hulle skielik vir die wolwe gegooi word? Of Engels of Duits begin praat? Tog sekerlik nie.

 

Alles wat ons doen in hierdie land, moet gerig wees op ons kinders. Ons kinders wil graag sien dat ons ouers weer soos helde sal optree. Dat ons ‘n bres sal slaan vir die behoud van ‘n Christelike Blanke beskawing in hierdie land. En al is ons pogings dalk nie altyd suksesvol nie, dit is die probeerslag wat tel. Volharding en moed en durf – dit is wat kinders gaan inspireer, nie ‘n gekruip by die regime vir ‘n gunsie of ‘n stukkie grond nie. Van hierdie moed is tans baie min waar te neem. Ons kinders sal staan waar ons staan as ons die moed het om hierdie regime die rug te keer, ons Afrikanerskap uit te leef en ons selfrespek herwin. En mense wat ons land verlaat het gaan terugkom as hulle weer ‘n begeesterde volk in aksie sien!

 

Dus: As u somtyds dalk wonder waarom u ‘n stryd moet stry vir die behoud en herwinning van dit wat aan u nagelaat is, moet die antwoord soos ‘n refrein weerklink: Ter wille van ons kinders!   

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie