Media

MANUEL SE SKYNHEILIGHEID … EN MEDIA SE GEKWYL

Trevor Manuel, die held van Media 24 het Jimmy Manyi van rassisme beskuldig oor laasgenoemde se gewraakte uitlatings oor die Kleurlinge. Wat Media 24 egter vergeet is dat Manuel self nie ernstig opgeneem kan word nie; veral ook waar hy na dr Verwoerd as ‘n rassis verwys.

In ‘n uitstekende kommentaar oor Manuel se “hoogheilige drek” skryf Anton Barnard op Praag se webwerf dat Manuel nie ‘n enkele woord sal uiter as Blankes geteiken word nie en hoog en droog in die ANC bly sit ten spyte van sy kritiek teenoor die organisasie.

Manuel kan kwalik ‘n piepgeluid maak of die Afrikaanse media, die NG Kerk en die Broederbond juig hom in al elf amptelike tale toe. Maar het Manuel ooit sy stem verhef oor plaasmoorde op Blanke boere? Of kon insien dat slegs een van sy vorige begrotingsredes die Blankes verarm en verontreg het? Nee. Maar steeds sal daardie rioolkoerant Beeld sy handjies af klap as Manuel iets kwytraak.

Manuel beskryf dr Verwoerd as ‘n rassis. En het hy die vermetelheid om Manyi met dr Verwoerd te vergelyk. Maar waar het dr Verwoerd ooit in sulke kwetsende terme soos Manyi na die Kleurlinge of enige ander volk verwys? Waar het dr Verwoerd hom ooit uitgespreek ten gunste van die verontregting van ander volke? Die antwoord is nêrens te vinde behalwe miskien in die misplaaste klein wêreldjie van Manuel nie. Maar steeds klap Naspers hande vir hulle super afgod Trevor Manuel. Maak nou nie saak watter onsin hy kwytraak nie. Die waarheid is mos nie ter sake nie, of hoe?

Terwyl Naspers dink en hoop dat die “gematigdes” in die ANC sal seëvier en Helen Zille (Zuma se dansmaat) droom van ‘n DA-oorwinning by die stembus na hierdie episode, weet die Afrikaner-nasionalis dat dit maar alles praatjies vir die vaak en skyngevegte vir die gepeupel is. Die waarheid is dat ANC-regime nie eers omgee vir sy eie (Swart) mense se stemme nie, laat staan nog Kleurling, Indiër, of Blanke steun. En as die stembus uitslag dalk vir hulle ongunstig lyk, sal die ANC-regime (ala Mugabe) nie huiwer om die nodige aanpassings te maak nie.