2025 lê op sy rug! Vir sommige van ons is die nuwe jaar wat voorlê nie beskore nie en die AVP betuig ons meegevoel met elk van u wat moes agterbly om sonder ‘n lewensmaat, oupa of ouma en selfs’n kind of kleinkind 2026 tegemoet te gaan. In ‘n sin is so ‘n gebeurtenis wat behalwe dat dit traumaties is, ook ‘n aanduiding vir elkeen van ons wat daaraan blootgestel was, dat ons aandag moet skenk aan die weg waarop ons onsself bevind, op pad na ons eie ewigheidsbestemming. Omdat dit onvermydelik en ook onbepaalbaar is in terme van waar en wanneer die einde van dié pad ons eie reis gaan be-eindig, is onmiddellike aandag onontbeerlik by die voorbereiding en betreding van die nuwe jaar wat vir ons voorlê!
Dit is tog verstommend hoe sekere noodsaaklike gebruike van ons voorgeslagte in onbruik verval het. Die redes daarvoor is legio. Dit is egter die gevolge daarvan wat ‘n mens moet bekommer! Die afhanklikheid van ons hemelse Vader deur die stelling: so die Here wil”, die gebed voordat jy op reis gaan en die dankgebed by veilige aankoms.
Dan is daar nog die swak bywoning van geloftefeeste, paasfeeste en die bedenklike internasionaalgevierde valse geboortedag van Jesus, die eniggebore Seun van God.
Hoeveel van ons Afrikanervolksgenote het grootgeword met Kersfees? ‘n Dag wat ons oor honderde jare gevier het as die geboortedag van Jesus Christus, die eniggebore Seun van God ons hemelse Vader. Wat ‘n wonderlike dag was dit nie vir ons as kinders wat met groot verwagting uitgesien het na die geskenke wat ons sou ontvang het!
Daar was elke jaar ‘n “kersboom” opgerig en behang met die oulikste sterretjies, klokkies, kersvadertjies, “engelkies” blink linte, liggies, ensovoort. Om aan dié dag regverdiging te gee, is dit met ‘n erediens in al drie die gereformeerde kerke ingerig met die klem op die geboorte van Jesus. Wat aanvanklik wonderlik was veral vir kinders, was die kersliedere wat geruime tyd voor die 25ste van elke Desembermaand, in elke winkel en deurlopend oor die radiosenders gespeel en gesing is en so tussen die opgewondenheid van vakansie, geskenke, familiebyeenkomste, ‘n gewyde atmosfeer moes skep.’n Benadering wat gedeeltelik daarin geslaag het om die ganse gelowige gemeenskap die feesgedoente te laat aanvaar het.
Deurentyd was daar egter altyd die onbeantwoorde vraag van die dag en die maand by die ware bybelstudente wat nie die klou by die oor kon kry as die Bybelverhaal se omstandigheid in aanmerking geneem is nie. Tot vandag toe is daar geen sekerheid van dag en datum en ook geen aanduiding uit die Woord van God dat daardie gebeurtenis met ‘n feesdag gevier moet word nie. Die sekulêre wyse van inkomsteverdienste, vakansiegees en alles wat daarmee gepaard gaan het gaandeweg by gelowiges ‘n steurnis geword wat nie gepas het by die onmeetbare betekenis van Jesus se geboorte en die geestelike inpak wat dit op die mens se geestelike samestelling behoort te hê nie.
In alle billikheid moet egter erken word dat daar by baie gelowiges ’n erns was met die viering van kersdag omdat dit aanvanklik werklik geglo is dat dit die geboortedag van Jesus was. Vir baie gelowiges was dit dan as ‘n sabatdag gereken en só eerbiedig. Namate die kerke egter ook homoseksualisme, selfdegeslag huwelike, apartheid as sonde, Desmond Tutu se kommunistiese inslag en die dienooreenkomstige sienings van die Beyers Naude’s, Willie Jonker’s en Wêreldraad van kerke in die kerk toegelaat het, het dit duidelik geword dat die kerk vals en waarheidvreemd geword het.
Dit is dan ook in hierdie tyd van ons Afrikanervolk se geskiedenis wat oud President Paul Kruger se stelling dat; as die leerkragte nie instaat is om ook die leerders tot belydenis van geloof te bring nie, maar hulle bloot net akademies opgevoed word, eendag van hulle gesê sal kan word,”hoe groter geest, hoe groter beest!” Dit is duidelik dat die CNO beginsel gesneuwel het voor die internasionale sekulêre aanslag.
Nou lê 2025 op sy rug! In terugskouing op die afgelope 31 jaar sedert 1994, nadat ook die bewese en suksesvolle beginselbeleid van afsonderlike Ontwikkeling versaak is, wat sien ons rondom ons anders as agteruitgang en chaos?
Gaan ons 2026 tegemoet met dieselfde afvallige benaderings en dan hoop op beterskap? Nee my liewe Afrikanervolksgenote, die bewys van die gevolge daarvan is mos darem onomstootlik duidelik! Wil ons op hierdie pad volhou kan ons die verval, agteruitgang en chaos verdubbel teenoor wat ons vandag beleef.
IS DAAR DAN WEINIGHOOP OP HERSTEL?
Vir die God wat ons dien is daar niks onmoontlik nie! Dit behoort egter vir elkeen van ons duidelik te wees dat ons ‘n lewende God dien wat regverdig is in Sy oordeel en veroordeling van sonde en ongeregtigheid! Dat daar volkome verlossing vir ons volk beskikbaar is indien ons Hom dien met opregte hart en gesindheid, is net so seker as wat die verval en agteruitgang rondom ons nou sigbaar is! Ons heil setel nie by ander volke, leiers en “nuwe beleidsrigtings” nie! ‘n Totale en opregte volksverootmoediging is broodnodig indien ons as ‘n volk weer vry en onafhanklik in ons eie land wil wees.
MIGA 6
1HOOR tog wat die Here sê: Staan op, twis in teenwoordigheid van die berge, en laat die heuwels na jou stem luister!
2Hoor, berge, die twis van die Here! En onwankelbares, grondslae van die aarde! Want die Here het 'n twis met sy volk en sal met Israel 'n regsgeding hou.
3My volk, wat het Ek jou aangedoen, en waarmee het Ek jou vermoei? Antwoord My!
4Ja, Ek het jou uit Egipteland laat optrek en jou uit die slawehuis losgekoop, en Ek het voor jou uit gestuur Moses, Aäron en Mirjam.
5My volk, dink tog aan wat Balak, die koning van Moab, beraadslaag het, en wat Bíleam, die seun van Beor, hom geantwoord het, en wat gebeur het van Sittim af tot by Gilgal, sodat jy kennis kan dra van die regverdige dade van die Here.
6Waarmee sal ek die Here tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers?
7Sal die Here 'n welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?
8Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?
9Die stem van die Here roep tot die stad — dit is heilsaam om u Naam te vrees —: Hoor die roede, en wie dit bestel het.
10Is daar nog altyd in die huis van die goddelose skatte van onreg en 'n skrale efa wat vervloek is?
11Sal Ek rein kan wees by 'n valse weegskaal en by 'n sak vol bedrieglike gewigte?
Aan elke Afrikaner/Boer wat hier lees, wens die AVP opregte bekering en gehoorsaamheid aan ons Hemelse Vader toe en lê ons die seën wat die Here Aaron opgelê het, volgens Sy belofte op u:
24Die Here sal jou seën en jou behoed;
25die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
26die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
27So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle seën.
Voorspoed vir 2026 met ‘n nuwe gees van verset teen onreg in samehorigheid met elke ander Afrikaner wat uit innerlike oortuiging bymekaar wil wees as geskape kind van God in hierdie erfland wat ons uit Sy hand as ons erfdeel ontvang het.
DANIE VARKEVISSER
LEIER VAN DIE AFRIKANER VOLKSPARTY
