Afrikaner

ONS MOET HOM IN WAARHEID AANBID

BybelJos. 24:1-33

“Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE.” (:14). As daar nou ‘n tyd was waar dit nodig was vir die mens om hierdie woorde te hoor, was dit in ons tyd. ‘n Tyd waarin godsdiens deur mense ingespan word om bekendheid te verwerf, hulself te verryk en hul eie eer te soek. Die Here Jesus Christus het ons hierteen gewaarsku, geliefdes. “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.” (Matt. 7:15). “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.” (Mark. 13:22).

Ek wonder of u ook die ironie raaksien, geliefdes? Daar is in ons tyd geen tekort aan mense wat hulself as profete en geestelike mense voordoen nie. En tog is die verwarring en geestelike verdwaaldheid van mense in ons tyd kommerwekkend groot. As hierdie mense dan waarlik arbeiders was wat aan die oes van die Here gewerk het, sou die geestelike welstand van ons mense bewonderingswaardig gewees het. Ja, met so ‘n oorvloed arbeiders sou die oes op die lande mos geweldig groot gewees het. Maar helaas, soveel van die hedendaagse “profete” tree na vore omdat hulle ook graag deur mense gesien wil wees. Hulle wil ook graag deur mense bewonder word. Hulle wil ook graag deur mense geëer word. Ja, hierdie mense dien nie die Here nie, maar hul eie ideale.

Hulle vra nie na die wil van die Here uit die Woord van die Here nie, maar misbruik en verdraai eerder die Woord van die Here na hul wil. Ja, hierdie optrede word pragtig in 2 Petrus 2:1-3 verwoord. “MAAR daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. ...”. Die Here Jesus Christus spreek Homself só sterk uit in Matt. 23 teen die skrifgeleerdes en Fariseërs se onopregte en skynheilige godsdiens. Hy verag hierdie godsdiens waarin godsdienstigheid voorgehou word terwyl die mens se hart ver van die HERE af is. “En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.” (Jes. 29:13&14).

Ja, die Here waarsku ook die gemeente van Laodicéa teen hierdie godsdiens van hulle wat nie in waarheid voor Hom is nie. “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.” (Open. 3:15&16). Geliefdes, die Here leer vir ons in Johannes 4:23&24 dat Hy verwag dat ons Hom in waarheid, ja in opregtheid, moet aanbid. “Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Ja, koning Dawid lewer dieselfde getuienis in Ps. 145:18:”...Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.” En hierdie is juis waarom God vir Dawid as koning uitverkies het, nie omdat hy vlekkeloos en sondeloos was nie, maar omdat God sy opregte hart raakgesien het. God het geweet dat Dawid Hom met ‘n opregte hart, ja in waarheid, aanbid. “Maar die Here sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.” (1 Sam. 16:7).

Ja, geliefdes, voordat die sondvloed oor die aarde gekom het, het God ook ‘n man gesien wat Hom in waarheid aanbid. En hierdie man het genade in God se oë gevind. “Maar Noag het genade gevind in die oë van die Here. Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ' 'n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.” (Gén. 6:8&9). En God het ook aan Abraham, Sy vriend, geleer dat dit vir God belangrik is om opreg met Hom te wees. “...Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.” (Gén. 17:1). En eeue later word hierdie selfde gebod aan hierdie man, Abraham, se nageslag weereens deur God as ‘n insetting gegee.

“Opreg moet jy wees met die Here jou God.” (Deut. 18:13). Hoe sterk moet die belangrikheid hiervan vir ons beklemtoon word, geliefdes? Ondersoek vandag u hart of u opreg is met die Here, geliefdes! Moenie die Here vertoorn met ‘n onopregte, godsdienstige vertoon nie, geliefdes. Ons mag Hom nie op so ‘n wyse beledig nie! Laat ons God die eer gee wat Hom toekom deur Hom in opregtheid en waarheid te aanbid en te dien.

Amen.