Afrikaner

ONS MOET HOM IN ERKENTENIS HOU

BybelRom. 1:18-32

“En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God

hulle oorgee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:” (:28).

Besef ons die verskriklikheid van hierdie teksgedeelte? Hoe verskriklik moet dit nie wees

om deur God aan die ongeregtigheid oorgegee te word nie! Maar sal God werklik so iets

doen? Dit klink soveel anders, so in teenstelling, met die hedendaagse teologie dat God niks

anders as goed aan mense doen nie.

Geliefdes, dit is waar dat God die mens as Sy skepsels liefhet. En dit is waar dit Hy graag wil

hê dat alle mense tot kennis van die waarheid moet kom en eindelik gered moet word.

“Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered

word en tot kennis van die waarheid kom.” (1 Tim. 2:3&4). Hierdie begeerte in God se hart

oorskadu egter nie Sy karakter van heiligheid en regverdigheid nie. Hierdie begeerte in God

se hart maak nie dat Hy aan Homself ontrou raak nie.

Die liefde van God asook Sy heiligheid, regverdigheid en trou word vir ons só volmaak in

Jesus Christus geïllustreer. So diep is God se liefde vir die mens en Sy begeerte dat die mens

gered moet word dat Hy bereid is om Sy enige, geliefde Seun in ons plek te offer. “Want so

lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in

Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh. 3:16). Eweneens sien

ons God se regverdigheid daarin dat die sonde nie ongestraf gelaat word nie.

God eis dat die sonde gestraf moet word. Ons sal nêrens in die Woord leer dat God die mens so

liefgehad het dat Hy maar net gemaak het asof Hy nie sien dat hulle sonde doen nie. Hy het

nie gemaak asof Hy nie Adam en Eva se ongehoorsaamheid gesien het nie. Hy het nie

gemaak asof Hy nie Dawid se owerspel en moord raakgesien het nie. En op dieselfde wyse

is ons sondes ook nie vir Hom verborge nie. Dit is die rede waarom onse Here Jesus Christus

aan die vloekhout moes hang. God het die straf wat ek en u verdien in antwoord op ons

ongeregtighede op Hom laat neerkom! “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor,

ter wille van ons ongeregtighede is hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring,

was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5).

In antwoord op onse Here Jesus Christus se gehoorsaamheid om Homself aan God te offer,

het God Hom verhef om aan Sy Regterhand te sit. Hy het aan Hom ‘n Naam bo elke naam

gegee. God eis van elke skepsel om aan Hom die erkenning te gee wat God aan Hom

toegestaan het. God eis van elke skepsel om voor Hom neer te val en te erken dat Hy alleen ons tot heiligheid kan lei! God eis dat ons Hom in erkentenis moet hou. Maar die mens van ons tyd het dwaas geword. Die talle teologiese dwalinge verblind mense. Daar word verkondig dat God jou liefhet en aanvaar net soos jy is. Indirek word daar geïmpliseer dat jy nie Christus se genade en bloed nodig het nie! Dit gee daartoe aanleiding dat mense nie meer streef na ‘n lewe van heiligmaking voor God nie en dit lei weer op sy beurt daartoe dat God nie meer in erkentenis gehou word nie. Dit maak vir my nie saak wat God van my wil hê nie is eintlik die antwoord wat van die mens uitgaan.

 

God waarsku die mens teen wat oor hom sal kom wanneer hy God nie meer in erkentenis hou nie. Wanneer die mens nie meer omgee oor wat vir God belangrik is nie. God waarsku dat Hy diesulkes aan hul eie begeerlikhede sal oorgee. In menslike terme – “Jy is mos jou eie god – dien jou eie begeertes na hartelus!” O, geliefdes – getuig die eienskappe van vandag se mens nie tot watter groot mate God die mensdom aan sy eie slegte gesindheid oorgegee het nie! Is daar ‘n tekort in ons dae aan manne wat met manne skandelikheid bedrywe en aan mense wat doen wat nie betaam nie? Het ons ‘n tekort aan hoerery, boosheid, hebsug, nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid, kwaadsprekers en

haters van God?

Geliefdes, God waarsku diegene wat weier om Hom in erkentenis te hou dat hulle die dood verdien. En geliefdes, God praat hier van die ewige dood – ‘n lewe in verlatenheid van God. Dit is die deel van hulle wat die dood van Christus Jesus tot versoening van sondes nie in erkentenis hou nie, maar met minagting behandel! “As iemand die wet van Moses verwerp

het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:28&29). Ek en u sal moet besluit of ons aan God die nodige erkenning in ons lewens sal gee en of ons eerder daarna smag om deur hierdie wêreld wat God nie in erkentenis hou nie erken en geëer wil word, geliefdes. Ek wil u egter daaraan herinner dat die prys wat elke mens gaan betaal wanneer hy/sy God nie in erkentenis hou nie in menslike terme onberekenbaar is.

Daar is niks, absoluut niks – geen hoeveelheid rykdom, roem, eer of gemak – wat hierdie wêreld u kan bied wat daarvoor sal kan vergoed nie! Luister na hierdie vermaning van God uit Markus 8:36&37 en hou God in u lewe in erkentenis! “Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?”

Amen.