Afrikaner

DIE HNP NA 50 JAAR

Die HNP is in 1969 gestig toe dit duidelik geword het dat die Nasionale Party, onder leiding van John Vorster besig was om af te wyk van die beleid van afsonderlikePieter vd Spuy ontwikkeling. Die direkte causa causans was die afwyking van die tradisionele sportbeleid toe die NP-regering in beginsel besluit het om gemengde buitelandse sportspanne in Suid-Afrika te ontvang. Sodoende is die buiteland toegelaat om in te meng met ons binnelandse beleid.

Vroeg reeds het HNP-leiers voorspel dat hierdie oёnskynlike klein afwyking van die beleid van afsonderlike ontwikkeling, sal lei tot groter toegewings aan buitelandse druk en uiteindelik tot swart meerderheidsregering in Suid-Afrika. Dit het binne 25 jaar gerealiseer.

Volle soewereiniteit

In 1969 het die HNP die rol oorgeneem van draer van Afrikaner-nasionalisme. Wesenlik hiertoe was die erkenning dat die Afrikanervolk, soos enige ander volk, die reg tot volkome

soewereiniteit binne sy eie grondgebied het. Daardie reg het tot wasdom gekom in 1961 met die vestiging van die Republiek van Suid-Afrika op ons eie grondgebied wat toe bekend gestaan het as Blank Suid-Afrika. ‘n Soewereine staat het tot stand gekom wat wêreldwyd de facto en de jure as sodanig erken is.

Nadat die NP in 1994 geabdikeer het en die politieke mag in Blank Suid-Afrika deur bedrog en knoeiery op ‘n skinkbord aan die ANC/SAKP oorhandig is, het die HNP nie daarin berus nie. Mnr Jaap Marais en sy opvolger, mnr Willie Marais was beslis: Die Afrikanervolk is onregmatig van sy vryheid in sy vaderland beroof en sal nie daarin berus nie. Die grondwet van die eenheidstaat is illegitiem, ons is in verset teen die onwettige bedeling en stel ons ten doel om uiteindelik weer ons vryheid in ons vaderland, naamlik Blank Suid-Afrika, te herstel. Die HNP onder die Marais-leiding was ondubbelsinnig: Ons onderhandel nie met die Kommunistiese ANC-regime nie, ons neem nie deel aan hulle verkiesings nie en verleen geen geloofwaardigheid aan die illegitieme grondwetlike bedeling nie.

Volkstaat verwerp

Voorts is die gedagte van ‘n volkstaatjie êrens vir die Afrikaner met beslistheid verwerp. Geen afstand word gedoen van ons historiese aanspraak op ons vaderland nie. Wanneer die onwettige bestel in duie stort, sal ons ons vryheid terugneem en sal die grense tussen volke weer langs etniese grense getrek word. Die HNP het ook in 1996 in ‘n omvattende mediaverklaring duidelik uitgewys dat die ANC se grondwet hoegenaamd nie ‘n reg verleen vir selfbeskikking vir die Afrikanervolk nie - wat nog te praat van soewereiniteit.

HNP koers byster

Sedert 2008 het ons gesien hoe die HNP stelselmatig van bogemelde beginsels en beleid afstand gedoen het. As gevolg daarvan het die AVP tot stand gekom.

Die HNP onder leiding van Andries Breytenbach en die Volksraadverkiesingskommissie (VVK) het vorendag gekom met ‘n “vryheidsplan vir die Afrikaner”. In ‘n “Boere-Afrikaner-verkiesing” in 2011 wat weinig aftrek gekry het, is ‘n “Volksraad” staan gemaak. Die hoofdoel van hierdie “Volksraad”, onder leiding van die HNP-leier, Andries Breytenbach, was om met die korrupte ANC-regering onder leiding van die Kommunis, Jacob Zuma en sy luitenant, Ramaphosa, te probeer onderhandel vir ‘n volkstaatjie. Onder andere is gesteun op artikel 235 van die Grondwet – direk in stryd met die duidelik korrekte 1996-standpunt van die HNP, waaraan Breytenbach hom klaarblyklik afgesmeer het. Sonder enige bedingingsmag, is hierdie naїewe pleidooi van Breytenbach en sy trawante met minagting deur die kommuniste van die tafel afgevee. Boonop het die ANC en SAKP al keer op keer in die verlede ondubbelsinnig gesê hulle sal nooit ‘n Afrikanervolkstaat toelaat nie.

Die halfhartige poging daarna van die “Volksraad’ en die HNP om deur “buitelandse bemiddeling” ‘n volkstaat te probeer bewerkstellig, was net so ‘n mislukking as wat dit lagwekkend was.

Nou was Breytenbach en die HNP (wat intussen besluit het dit is voortaan ‘n “bevrydingsbeweging” en nie ‘n politieke party nie) in die hoek. Die onderhandelinge met die Kommuniste het misluk, die absurde poging om buitelandse magte te betrek het geen reaksie uitgelok nie en die Boere-Afrikaner Volksraad het tot stilstand geknars.  Hulle groot plan vir die “vryheid van die Afrikaner” het in die sand geloop. En vir ‘n tweede “volksraadverkiesing” of vir nie-vreedsame optrede, het Breytenbach duidelik nie ‘n aptyt nie.

Nuutste foefie

In die jaar van sy “vryheidsbeweging” se 50ste verjaarsdag, kom Breytenbach nou met sy jongste foefie. “Volksgenote”, word deur hom vanuit Orania opgeroep om hulle volle gewig agter die volkstaatmodel van Orania en Kleinfontein in te gooi! (Die Afrikaner 16 Augustus 2019). Orania en Kleinfontein wat tandloos ondergeskik is aan hulle plaaslike swart munisipaliteite, wat die bewerasie kry as ras as identiteitsfaktor ter sprake kom en wie se leiers nie ‘n probleem het om as verteenwoordigers van die VFPlus deel te neem aan die ANC/SAKP se provinsiale en nasionale parlementêre partypolitiek nie! Indirek word Breytenbach en die HNP nou ook bedmaats van die VFPlus, wat vandag ‘n volledige veelrassige party is. Dίt is die vryheid wat Breytenbach vandag vir HNP-lede en Afrikaners voorhou!

HNP-begrafnis

Andries en HenkHiermee trek Breytenbach ‘n streep teen die fundamentele dinge wat mnre Jaap Marais en Willie Marais en die HNP van ouds verteenwoordig het. ‘n Mens sou verwag dat Breytenbach as HNP-leier intern tot orde geroep word. Die verbluffende aspek is dat die dag- en hoofbestuur van die HNP blykbaar sonder slag of stoot hierin berus! Die HNP se 50ste verjaarsdag op 25 Oktober behoort eerder die vorm van ‘n begrafnis aan te neem.

AVP in verset

Die rol van die AVP is vandag belangriker as ooit tevore. Met die HNP-“beweging” wat onherroeplik die spoor byster geraak het, eggo die AVP steeds die gees en wekroep van mnr Jaap Marais: Wie wil voortgaan met ‘n volkstaatplan, is nie in staat om gelyktydig die politieke stryd teen die ANC/SAKP voort te sit nie. Dan skakel jy die gees van weerstand uit wat noodsaaklik is om die kanse te benut wat die onvermydelike ineenstorting van die huidige bestel sal oplewer. Die Afrikaner het die volste reg om met vreedsame middele terug te neem wat met bedrog van hom weggeneem is. (Vgl J Marais Stryd teen Vreemde Oorheersing 77). In hierdie stryd is die AVP, wat in verset is teen die illegitieme ANC/SAKP-bestel, se morele basis onaantasbaar