1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
5904120

Besoekers aanlyn

Ons het 59 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Afrikaner

JAAP MARAIS – MAN VAN BEGINSELS (Deel 2)

Ons plaas hiermee die tweede aflewering van ‘n huldeblyk aan mnr Marais, wat op die Jaap Marais FotoJaarkongres van die Afrikaner Volksparty in Oktober 2013 gelewer is. In hierdie aflewering kyk ons na die praktiese manifestasies van die Afrikaner volksnasionalisme en mnr. Jaap Marais se suiwer aanvoeling daarvan.

• Die aard van die Nasionalisme

In hierdie verband sê mnr. Marais die volgende:
“Die nasionalisme is die ongeskrewe maar onbreekbare kontrak tussen die geslagte wat verby is, die wat tans leef, en die wat sal kom."

T.B. Floyd sê in sy boek Afrikaner-nasionalisme dat die nasionalisme spruit uit sekere Godgegewe beginsels, een waarvan is dat God verskillende nasies geskep het. Hieruit spruit sekere beginsels waaronder dat elke nasie dieselfde bestaansreg het op aarde. Wanneer een nasie die bestaansreg van ‘n ander bedreig deur oorlog, imperialisme of op watter ander wyse ookal, sê Floyd, dat dit ‘n vernietiging van ‘n skepping van God is en daarom ‘n misdaad. Hy trek ook hierdie beginsel deur na die individue binne ‘n nasie:

“As dit verkeerd is vir een nasie om 'n ander aan te val, dan is dit ook verkeerd om so iets te help of aan te moedig. Dus, as 'n lid van die verowerde nasie dan die veroweraar enigsins help in sy kwaad, doen hy ook kwaad as medepligtige en pleeg verraad teen sy eie. As hy neutraal staan en toekyk, is hy ook 'n medepligtige. Die enigste regte houding is een van verset. Selfs al is 'n nasie vol swakkelinge en die groot meerder¬heid in die nasie instem met die verowering of vernietiging van die nasie, het so 'n meerderheid geen reg om dit te doen nie, en bind enige traktaat of ooreenkoms wat hul mag aangaan nie die nasie of sy lede nie, want selfs 'n meerderheid van 'n nasie het geen reg om die Godgegewe regte en pligte prys te gee nie. Die verpligting om weerstand te bied, is nie deur tyd bepaal nie maar is vir ewig. Hier bots die fundamentele beginsels van nasionalisme met demokratiese gedagtes dat die besluit van die meerderheid die minderheid bind.
Weer is nasionalisme reg want Godgegewe regte duur vir ewig en kan nie deur 'n meerderheid van een of twee geslagte ongedaan gemaak word nie. Hoe durf een geslag toekomstige ongebore geslagte bind ? Net so min as 'n veroweraar die reg het om 'n skepping van God te vernietig, net so min het lede van 'n nasie so 'n reg. Dit sou neerkom op selfmoord wat 'n groot misdaad is.”

Die onwettige onderwerping van die Afrikanervolk aan ‘n wêreldbeheerde en gemanipuleerde imperialistiese mag onder leiding van die kommunistiese ANC is ‘n skending van hierdie Godgeskepte volk en moet ons dus met alle mag tot ons beskikking daarteen weerstand bied. Mnr Marais stel dit as volg:

“Die wortel van die nasionalisme is volksgebonden-heid, volkstrots, geskiedenis. En die trompetwoorde wat sy wil en gees aanwakker, is vaderland, vryheid, heldedom.”
“Die geskiedenis van ons tyd leer weer dat nasionalisme 'n onstuitbare mag is. Daarom is dit 'n lewensvoorwaarde vir die Afrikanervolk om dit te vertroetel en te versterk deur die beroep op volkskap, vryheid, vaderland, heldedom.”
“Vaderland, vryheid, heldedom is die trompetwoorde van die nasionalisme. Dit roep geeskrag op en maak 'n volk meer as die totaal van sy getalle, soos die Engelse Oorlog die Britte geleer het en soos die Afrikaner-oorwinning van Mei 1948 bewys het.”

Uit die voorafgaande behoort dit duidelik te wees dat hy ‘n besondere insig en begrip gehad het van dit wat die nasionalisme behels.

• Ons volkskap (nasieskap).

Daar is dikwels pogings deur die liberaliste om twyfel by Afrikaners te skep oor wiè tot die Afrikanervolk behoort. Ongelukkig is daar ook onder ons eie behoudende volksgenote hierdie verwarrende debat wat handel oor of ons Afrikaners is en of ons Boere-afrikaners of Boere is. Mnr Marais het met sy skerp intellek en vermoë om moeilike begrippe duidelik te verwoord deur hierdie onlogiese redenasies gesny. Hy stel dit as volg:

“'n Volk is 'n verbluffende verskynsel: jy behoort daaraan of jy behoort nie daaraan nie. Net jy weet of jy daaraan behoort. Elkeen in Suid-Afri¬ka, Blanke, Kleurlinge, Indiër of Swarte, weet hy behoort nie aan dieself¬de volk of groep waaraan die ander behoort nie. Elkeen het sy eie sentrum van invloed en mag en begeestering.”

Sy besondere onderskeidingsvermoë het hom in staat gestel om te kan identifiseer dat ras en volk onlosmaakbaar gebonde is en nie van mekaar losgemaak kan word nie. In hierdie verband stel hy dit as volg:

Die Afrikanervolk is bo alles 'n volk wat stam uit die Blanke ras van Wes-Europa, die ras wat in sy plus en surplus die wêreld fisiek oopgemaak, tegnologies ontwikkel en 'n hoë mate geestelik oorspoel het. Die Afrikanervolk se kultuur is 'n rasgebonde kultuur, net soos die Zoeloe-volk se kultuur 'n rasgebonde kultuur is. Anderrassiges kan die kultuur ten dele aanvaar, maar hulle kan die diep verbondenheid aan die rasse-herkoms wat daarmee saamgaan, nie deel nie.

Daar is nie so iets soos 'n veelrassige volk nie, al sou mense van verskillende rasse een taal praat. Taal alleen bepaal nie 'n persoon se volksverwantskap nie. Ras en kleur word nie as onderskeiding uitgewis deur deelgenootskap aan taal nie.

Die kaapse liberaliste en Nasionale pers probeer al vir etlike jare om die grense van Afrikanervolk af te breek deur dit uit te brei om ook die kleurling bevolking in te sluit. Dit doen hulle hoofsaaklik deur die gemeenskaplike gebruik van die Afrikaanse taal deur die twee bevolkingsgroepe te gebruik as ‘n sogenaamde kriterium vir die vervanging van die Afrikaner se unieke identiteit. Vandaar ook die skepping van die term Afrikaanses. Mnr Marias verwerp dit in beginsel ondubbelsinnig wanneer hy sê:

“Waar daar gepoog word om Afrikanerskap hoofsaaklik, indien nie uitsluitlik nie, te definieer in terme van taalgebruik, is dit onwetenskaplik, dra dit nie by tot verheldering van die strydvraag nie en vertroebel dit die saak waarom dit gaan.

Wat wel ter sake is, is dat binne 'n volk daar te alle tye die is wat hulle volkskap meer intens aanvoel as ander, wat 'n sterker historiese bewustheid het as ander en wat nader aan die sentrum van 'n volk leef as ander. Soos enige organiese wese het 'n volk ook 'n kern waaromheen daar 'n wyer begrensing is, 'n verskynsel wat die beste beskryf kan word deur die beeld van 'n boom se stam. Binne is die harde pit, en daaromheen omhulsels wat in graad al sagter word in die uitkringing na buite. Die buitenste rand, die bas, is die sagste en mees verweerbare en vervangbare deel van die stam.

So is dit ook by 'n volk. Aan sy buitenste rand is daar die wat afskilfer in hulle blootstelling aan die vreemde, maar hulle vervul 'n integrerende funksie in die geheel. Dit is as hulle die rol van die sentrum wil oorneem dat hulle teruggedruk moet word tot hulle beskore rol.
Dit is vanuit die sentrum dat die lyne vloei wat insluit en uitsluit. Laat dit maar hardop en duidelik gesê word: volkskap is eksklusief. Om sy aard te behou moet dit diskrimineer. Selfbehoud, soos by alle lewende wesens, is by 'n volk ook 'n hoë wet. 'n Volk kan bekostig om die wat nie tot hom behoort nie, te vervreem, maar hy word vermoor as sy kern uitgestoot word ter wille van ander wat van buite kom.”

• Ons kultuur.

Die aanslag om die Afrikanervolk se kulturele identiteit te vernietig is ‘n bewese deel van die aanslag vanuit liberale geledere. Vir baie lank is die aanslag gevoer met die afskuwelike metode om die Afrikaner, sy leiers en sy kultuur te ettiketeer as agterlik. In sy navorsing getiteld, How They Hate Us hieroor, gee H.M.Moolman die volgende voorbeelde van die dinge wat in die Engelse pers oor ons gesê is:

Hendrik Verwoerd: "A Torquemada-like fanatic. When his policy is criticised he weeps with rage and rants."
Johannes Strijdom: "Black Prince of Afrikaner Nationalism - the unsmiling 'skiet-en-donder' political leader of the Government Nationalist Party - a rabble rouser."
Daniel Malan: "The modern Boer Moses - an anachronism in the Twentieth Century - the keeper of the South African Bastille - Cassandra of South African politics."
Paul Kruger: "Calvinistic, Bible-thumping - dour, heavily religious, isolationist Britain-hater whose gab was as humourless as the people he ruled."
The Afrikaners: "Backveldters, rabidly racist, grim and humourless isolationists - spiritually isolated -backwoodsmen - still bow to Kruger's memory - go down on their gnarled knees to Malan - typical giant, hamhanded, often potbellied Boers."
Their Church: "Peculiarly bigoted."
Their language: "Self-made, compiled in the Eighteen Nineties and still lacks a complete dictionary - rudimentary, not well adapted to the finer nuances of meaning."

Wanneer ‘n bevolkingsgroep skaam en minder-waardig voel oor sy kultuur ontstaan ‘n impuls om hom daarvan te distansieer en homself by ‘n vreemde kultuur te laat assimileer. ‘n Volk wat ontdaan is van sy kultuur word ook ontdaan van sy Volksverband want hierdie twee aspekte van sy bestaan is onlosmaakbaar ineengevleg. Die vyande van die Afrikaner probeer reeds baie lank om by hom ‘n skuldgevoel te wek oor die ekslusiwiteit van sy kultuur, asof dit eie slegs aan die Afrikaner kultuur is en nie waar is vir elke ander kultuurgroep op aarde nie. Die doel daarvan is om die Afrikaner te oorreed om sy kultuur oop te stel vir ander kulturele invloede en daardeur by te dra tot die vernietiging daarvan en gevolglik ook die vernietiging van die Afrikaner se volksidentiteit.

Mnr Marais stel dit so:

“’n Kultuur kan bekostig om vreemde etniese groepe aan sy rand uit te sluit. Die verlies van hulle verbondenheid is nie onontbeerlik vir 'n gesonde kultuur nie. Hulle het dit nie geskep nie en hulle het dit nie in stand gehou nie. Hulle kan niks bydra wat noodsaaklik is vir die voortbestaan van daardie kultuur nie. Daarteenoor kan 'n kultuur nie bekostig om die trou, verbondenheid en aktiewe deelname van sy kern - die oorspronklike skeppende etniese groep te verloor nie. Dan gaan hy ten gronde.”
“'n Kultuur is te onderskei van ander, omdat dit eksklusief, en juis nie omvattend, is nie. Veral in 'n samelewing van uiteenlopende kulture en subkulture is dit van die hoogste belang dat 'n kultuur sy integriteit behou, om te kan oorleef. En om sy integriteit te behou, moet geskied op die beginsel van eksklusiwiteit. 'n Kultuur integreer deur sy lede en die vorme van sy aktiwiteit te segregeer van die wat nie daaraan behoort nie. Die reg op selfbehoud deur selfsegregasie is 'n onontbeerlike wesenstrek van kultuur. As die reg op insluiting en uitsluiting verbeur word, vergaan 'n kultuur; dit kan nie meer as 'n sekere mate verduur van wat vreemd of anders is nie.”
“Die stelling dat die Afrikaanse kultuur ander kulture moet betrek, is 'n volstrekte anomalie. 'n Kultuur moet homself begrens om voort te bestaan, en om ander kulture te betrek, beteken om 'n vervaging en verwarring van grense te veroorsaak en die identiteit van die kultuur te vernietig.”

• Ons geskiedenis.

‘n Volk sonder ‘n geskiedenis is geen volk nie. ‘n Volk sonder ‘n geskiedenis is ‘n anomalie. ‘n Volk sonder ‘n geskiedenis bestaan nie. Geen volk verskyn eensklaps vanuit die niet nie. Die ontstaan en vorming van ‘n volk is ‘n langdurige proses. Daarom dat dr. H.F. Verwoerd die volgende kon sê:

“In die lewe van elke volk loop daar 'n goue draad wat aandui waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan. Dit is 'n goue draad wat ons in ons volkslewe ook kan sien. Dit strek van baie vroeg in ons geskiedenis af, net toe ons begin het om 'n nasie te word. Vandaar af is dit voortgedra deur 'n idee van wat hier aan die suidpunt van Afrika tot stand moet kom: 'n eie blanke volk, 'n Christelike volk wat miskien die voorpunt moet wees en moet bly selfs in die swaarste van alle tye van die blankedom met sy sending in die wêreld. So 'n goue draad wat die nasionale gedagte van 'n volk verteenwoordig, ryg deur die lewe veral van die manne wat geroep is om leiding te gee.”

Mnr. Jaap Marais was ook een van die manne uit die verlede deur wie se lewe en optrede die goue draad van die Volks-nasionalisme geryg is. Hy het baie goed begryp dat ‘n volk nie los kan staan van sy verlede nie. Hy het diep bewustelik geweet dat die goue draad na die toekoms vanuit die verlede, deur die hede geryg moet word.

Hy praat regdeur sy openbare loopbaan met oortuiging van die draad van die geskiedenis en sê:

“Ons is die verlengstuk van ons verlede. En die geskiedenis is die geheue van 'n volk. As gevolg van die geskiedenis weet ons waarvandaan ons kom en kan die geskiedenis gebruik word as 'n kompas vir die pad vorentoe. Maar die geskiedenis lewer ook 'n volk se heldedom wat in tye van krisis 'n bron van begeestering is.”

“Die geskiedenis is die skakel en binding tussen opeenvolgende geslagte van 'n volk, waardeur aan die lewende geslag 'n sin vir perspektief, identiteit en grootheid gegee word, wat hulle in staat stel om hul eie posisie teenoor ander te evalueer. Geskiedenis gee krag; dit is die leermeester van eer en waardigheid; dit is die bron van 'n heldedom, wie se hoë voorbeeld dien as 'n model en standaard.”

“'n Volk se geskiedenis is by sy identiteits-bewustheid net so belangrik as enige fisieke of geestelike eienskap. Want die geskiedenis is 'n volk se geheue, en net soos geheue by 'n persoon hom in staat stel om te weet wie hy is en wat sy status is, hou die geskiedenis 'n volk bewus wat hy is en watter plek hy beklee. Uit die geskiedenis kom 'n volk se heldedom, en dit is vir die wat buite 'n bepaalde volk staan, onmoontlik om dieselfde sentiment vir die volk se helde te hê.”

“Daar is al gesê dat ons dwerge is wat op die skouers van reuse staan. Ons sien vêr, net omdat ons verhef word deur die prestasies van voorgeslagte. As ons wegbreek van voorvaderlike wysheid, beland ons opeens in die poel van onkunde.”

“Wanneer 'n volk hom losmaak van sy geskiedenis, het hy geen toekoms nie.”

“Die geskiedenis is 'n volk se geheue. Dit vertel aan hom wie hy is en vanwaar hy kom. Sonder 'n sterk historiese sin is 'n volk soos 'n mens wat aan geheueverlies ly: hy weet nie wie hy is, vanwaar hy kom en waarheen hy op pad is nie.”

Dr. Verwoerd praat van die leiers van die verlede waardeur die goue draad van die Volks-nasionalisme loop, maar ook van diè leiers wat ontrou daaraan is. Hy sê:
"Nou sien ons die goue draad voortgesit in die lewe van 'n Paul Kruger en 'n president Steyn en 'n generaal De Wet en 'n generaal Hertzog en 'n dr. Malan en 'n adv. Strijdom, en andere wat u kan byvoeg in u eie hart. Dit is nie net die staatsmanne wat met die goue draad deurryg is nie; dit is die geloofsmanne, die opvoeders, die navorsers en al die bouers van die nasie. Maar ek het die name genoem om daarmee ook te sê dat daar leiers is, soms van groot formaat, wat nie mededraers van daardie volksgedagte kan of wil wees nie. Hulle is soos die los berge - los-staande van die bergreeks. Hulle is persone deur wie se lewens die goue draad nie ryg nie. Hulle raak vergete in die volkslewe omdat in die volksgedagte alleen bly vaskleef dit wat van nature aan hom diep gebonde was. So moet ons ons eie volkslewe en eie volksgeskiedenis ook sien. Dit moet ons help om te weet hoe om ons in die toekoms te gedra. Ons moet ons meet aan die maatstaf van daardie manne met wie ons geskaar en gesnaar wil wees in die tye wat kom".

Mnr. Jaap Marais deel hierdie gedagte van dr. Verwoerd wanneer hy hom as volg uitlaat:
“Laat ons onthou, die geskiedenis is nie gemaak deur die paaiers en verraaiers en die swigters en die vlugters nie. Die geskiedenis is gemaak deur die wat geweier het om te skik, deur die wat die kompromie weggewys het in die vaste oortuiging en geloof aan die reg van hulle saak .As ons in hierdie tyd terugdeins daarvan om die brandende strydvrae onder die oë te sien met moed, met beginsels, met vasberadenheid, met krag, sal ons slinger van krisis tot krisis, sal ons dienstighede uitdink om skikkings te tref, sal ons oplossings soek wat niemand aanstoot gee nie, sal ons ons volk bedwelm deur 'n waan van sekuriteit wat nie bestaan nie.”

• Ons vaderland.

T.B.Floyd beweer ten opsigte van die nasionalisme dat wanneer ‘n nasie ‘n bepaalde grondgebied het dit hom in staat stel om homself daarin uit te leef. Hy stel dit dat as ‘n nasie vryheid in sy eie land het hy in staat is om sy roeping te vervul en sodoende tot eer van God te lewe en sy kultuurtaak te vervul soos wat God dit bedoel het toe Hy afsonderlike nasies geskep het.

Gedurende die laaste 4 dekades was daar ‘n geweldige propaganda aanslag teen die Afrikaner se morele en wettige besitreg van sy land. Hierdie aanslag is gevoer deur die wêreld imperialiste, deur gebruik te maak van veral die westerse regerings, die media en die kommunisties geïnspireerde terroriste bewegings. Een van die kernpunte van hierdie aanslag is die uitgangspunt dat die Afrikaner nooit ‘n eie unieke grondgebied gehad het nie en dat hy die grondgebied van die verskeie swart etniese groepe in Suidelike Afrika gesteel het of onregmatig beset het. Hierdie leuen word ondanks die onwettige oorname van die politieke mag in die land steeds met gereelde reëlmaat herhaal. Dit is waarskynlik omdat die blanke steeds grootliks oor die eiendomsreg van die grond (die kaart en transport) beskik.

Hieroor praat mnr Jaap Marais soos volg:

“Die Afrikaner het hierdie land in pag ontvang as die erfgoed wat aan sy kinders behoort. Die land het hy van geen Swarte gesteel nie: met al die erkende norme van besitreg het hy hierdie land syne gemaak. Die land is gekoop, verower, aan die verwoesting ontworstel, met sweet en inisiatief ontwikkel en opgebou as sy vaderland. Die standpunt van die Staatspresident en sy regering, dat aanvaar word die Afrika¬ner sal nooit die voorreg van 'n eie vaderland hê nie, verdoem die Afrika¬ner tot ewige bywoner. Dit is meer as net 'n onreg wat hom aangedoen word. Dit is 'n skreiende skande wat geen weerga in die geskiedenis van die wereld het nie.”
“Die Afrikanervolk se standpunt is: die land is ons land. Ons voorouers het deur die aanlê van plase die land ontworstel aan die wildernis. Die dorpe en stede van Suid-Afrika is die kenmerk van Blanke beskawing. Die nywerhede, die spoorweë, die hawens, die geldstelsel is die produkte van die Blanke vernuf en ondernemendheid. Daardeur is Suid-Afrika opgebou tot die sterkste staat in Afrika.

Die tersaaklike geskiedenis is pittig saamgevat deur dr. HF Verwoerd in 'n toespraak nadat hy Suid-Afrika aan die Britse Statebond onttrek het.
‘Meer as 300 jaar gelede het twee bevolkingsgroepe, wat ewe vreemd aan Suid Afrika was, in ietwat klein getalle uit verskillende rigtings 'n land binnegekom wat toe feitlik onbewoon was. Geen een van hulle het 'n ander man se land gekoloniseer of hom deur inval en onderdrukking beroof nie. Elkeen het hom gevestig en langsamerhand sy nedersettings uitgebrei en in hoofsaak elkeen 'n ander deel sy eie probeer maak. Daar was botsings en grensoorloë, en grensgebiede is verower, maar sedertdien het die Witman meer grond aan die Bantoegebiede toegevoeg, en voeg hy steeds daaraan toe, uit wat hyself beset en bedoel het om sy eie te wees. Daar was dus geen kolonialisme nie, net afsonderlike besetting deur elkeen byna gelyktydig. En elkeen het meer as 300 jaar die geleentheid gehad om sy land te ontwikkel... Die Witman het dit gedoen, die Swartman nie... Die Swartman het na horn gekom vir werk, voedsel en die goeie dinge van die lewe en nie vir politieke verowering nie. Die Witman het dus nie net 'n ontwyfelbare belang in en reg op die land wat hy uit ontblote veld en leë valleie en afgesonderde berge in 'n moderne nywerheidstaat ontwikkel het nie, maar volgens alle sedelike beginsels was dit syne, is dit syne en moet dit syne bly.’

Mnr Marais sluit as volg hierby aan: “Wanneer ons sê: die land is ons land, is dit die historiese feite waarop dit rus. Ons het die land van niemand gesteel nie. Ons voorouers het in 1881 die Britse mag by Amajuba verslaan om hulle vryheid te herwin, en in 1899-1902 'n vryheidsoorlog teen die barbaarse Britse metodes geveg, omdat hulle vry van oorheersing wou wees. Daarna het Afrikanerleiers 60 jaar lank met politieke middels suksesvol geveg om weer vry te wees om Christen en Witmens en Afrikaner in hulle vaderland te wees. Ons is nie bereid om hierdie geskiedenis van heldhaftige stryd te laat uitwis deur 'n bloedlose verowering weens verraad wat agter 'n "demokratiese verkiesing" verberg word nie.”

“Die Afrikaner het hierdie land in pag ontvang as die erfgoed wat aan sy kinders behoort. Die land het hy van geen Swarte gesteel nie: met al die erkende norme van besitreg het hy hierdie land syne gemaak. Die land is gekoop, verower, aan die verwoesting ontworstel, met sweet en inisiatief ontwikkel en opgebou as sy vaderland.”

Indien mens die bloedlose en lafhartige oorgawe van ons land deur F.W. de Klerk, sy meelopers en ‘n groot deel van die Afrikanervolk gade slaan dan is die volgende gedagtes van Floyd baie belangrik wanneer hy skryf:
“Net so min as wat lede of leiers van 'n nasie die vryheid kan prysgee net so min mag hulle dele van die land afstaan. As so iets deur veroweraars op leiers afgedwing word, het dit geen bindende krag op enige ander leier wat opvolg of op die lede van die betrokke nasie nie. Inteendeel. Dit is hul plig om die onreg te herstel.”

Mnr Marais het bogemelde beginsel baie goed begryp en het hom by verskeie geleenthede daaroor uitgespreek:
“Op die langtermyn moet daar een onverbiddelike strategiese doelwit wees: Die land is ons land. Ons sal weer ons vryheid verwerf, kom wat wil. Ons sal weer die onomkeerbare omkeer. As ons nie vir mekaar dit sê nie, is ons as Afrikanernasionaliste nie eerlik in hierdie stryd nie. En watter opoffering dit ookal sal meebring, al sal daar bloed moet vloei, ons sal daartoe bereid moet wees. Dis die uitdaging wat deur die geskiedenis aan ons gestel word. Die een groot feit van die Afrikaner-geskiedenis is dat die Engelse mag nog nooit daarin kon slaag om die Afrikanervolk permanent onder te kry nie. Telkens het ons weer oorwin.

Stryd stel 'n groot toets aan mense se geloof, want soos in die Bybel gesê is: geloof is 'n oortuiging aangaande die dinge wat die mens nie sien nie, en 'n bewuste verwagting van wat die mens hoop. Dit is geloof wat ons volk se leiers gedra het. In tye van krisis moet geloof, trou en volharding die volk uit sy beknelling lei. En dit is altyd die minderheid in 'n volk wat die geskiedenis maak, wat die boodskap van die geskiedenis hoor en die verwagtings vir die toekoms aanvoel.
Moenie vir u laat vertel dat as ons 'n minderheid is, ons magteloos is nie. Wanneer sy saak reg is, is 'n minderheid 'n mag. Die toekoms behoort altyd aan die wat bereid is om te ly en te stry vir iets groters as hulleself; wat hulle blik rig op die hoe spitse; en wat marsjeer op die tromme van hulle volk se heldedom.”

“Die draers van die gees van die Bittereinders sê: Die land is ons land: die geskiedenis sê dit luid. Vir die wat dit betwis, of betwyfel, is die vraag: As dit nie ons land is nie, wie s'n is dit dan? Wie, behalwe die Afrikaners, het om hierdie land oorloë geveg teen buitelandse uitbuiters? En as beweer word dit is nie ons land nie, het ons dan nooit 'n land gehad nie? En as ons nie 'n land gehad het nie, waarom het ons oorloë geveg teen magte wat die land van ons wou afneem?”

“Ons skuld hom aan niemand nie, behalwe ons kinders en hulle kinders se kinders.”

Dit behoort ook ons onverbiddelike standpunt te wees. Dit behoort die standpunt en strewe te wees van elkeen wat hom vereenselwig met die Afrikanervolk. Hierdie land is en was nooit F.W. de Klerk en sy geesgenote se land om op ‘n eerlose en oneerlike wyse weg te gee nie.

Ons, die huidige geslag Afrikaners, moet die bindkrag wees tussen ons voorsate wat hierdie land met bloed en sweet verwerf en beskaaf het en die komende geslagte. Op ons rus die dure plig om hierdie land wat deur ‘n klomp leuenaars, bedrieërs en papbroeke vir ‘n pot lensiesop (van omkoopgeld en internasionale eer) verpand is aan ‘n Marxsistiese bende, terug te wen. Terug te wen vir die nageslagte aan wie dit behoort volgens die God van Bloedrivier se beskikking.

• Ons het die reg om ons af te sluit (Apartheid)

Enige nasie wat homself oopstel vir assimilasie met ‘n ander nasie of groep stel homself oop vir die vernietiging van sy identiteit. Daar is talle voorbeelde hiervan in die geskiedenis van die wêreld. Ons hoef egter nie na die wêreld te gaan kyk om die waarheid hiervan te sien nie. Ons kan die waarheid daarvan in die vorming en onstaan van ons eie volk as voorbeeld sien. Omdat die Nederlandse vryburgers, die Franse Hugenote en die Duitse immigrante hulle self nie afgesonder het nie maar met mekaar geassimileer het, het elkeen se taal, kultuur en identiteit mettertyd opgegaan in ‘n nuwe identiteit waaruit die Afrikanervolk ontwikkel het.

As die bestaan van nasies en rasse ‘n Godgewe werklikheid en eis is dan lê daar ‘n duur verpligting op alle nasies om hulleself af te sluit van ander nasies en rasse op so ‘n wyse dat die eie identiteit behoue bly.

Mnr Marais verwoord dit as volg:

“'n Volk het die reg om die grense van sy rasse-identiteit te bepaal en te beskerm. Dit is 'n daad van selfverweer wat geen lewende organisme, soos ook 'n volk, misgun mag word nie.”

“Die reg op voorkeur vir die eie is ook die grondslag van nasionalisme. Dit veronderstel nie dat die eie beter as ander is nie, net soos 'n man se voorkeur vir sy gesin nie veronderstel dat hulle beter as ander is nie. Die voorkeur behoef geen verklaring of verduideliking of verskoning nie.”

“Nasionalisme se geldigheid rus op 'n volk se reg op voorkeur vir die eie; en elke voorkeur impliseer diskriminasie. Dit is twee kante van dieselfde munt, wetmatig en onafskeidelik verbonde aan mekaar.”

“Die Afrikaner moet hom nie laat wysmaak dat skeiding om identiteit te handhaaf, verkeerd is nie - dit is sy reg.”
“Die reg op selfbehoud deur selfsegregasie is 'n onontbeerlike wesenstrek van kultuur. As die reg op insluiting en uitsluiting verbeur word, vergaan 'n kultuur; dit kan nie meer as 'n sekere mate verduur van wat vreemd of anders is nie.”

• Apartheid is ‘n moreel regverdige stelsel.

Die aanslag en daadwerklike optrede van die wêreld imperialiste om die Afrikaner as ‘n volk te vernietig duur reeds etlike dekades lank onverpoos voort. Een van die metodes wat hulle aanwend is om deur middel van die massamedia die valse boodskap uit te dra dat die Afrikanervolk immoreel opgetree het deur homself af te skei van die swart nasies in Suidelike Afrika deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling of Apartheid. Hulle het selfs sover gegaan om die beleid van Apartheid as ‘n sogenaamde “misdaad teen die mensdom” te verklaar. Hierdie propaganda word aangebied as die waarheid sonder enige verdere beredenering en verklaring van wat onder misdaad teen die mensdom verstaan word.

Ongelukkig het ‘n beduidende getal Afrikaners hierdie vals propaganda as die waarheid aanvaar. Daar het gevolglik ‘n nasionale skuldgevoel onder Afrikaners ontstaan wat sekerlik in omvang vergelykbaar is met die skuldgevoel wat onder die Duitse bevolking gewek is deur die vals Britse en Amerikaanse propaganda na afloop van die tweede wêreldoorlog.

Mnr Jaap Marais het hom beywer om hierdie valsheid teen te staan en hy het dit dan ook reg gekry om die waarheid in hierdie verband op ‘n baie skerpsinnige wyse te verwoord:
“Ras en rasverskille is nie 'n saak van moraliteit en sedepreek nie, en teologiese bespiegeling nie, Wanneer volke wat sigbaar van mekaar verskil, met mekaar in aanraking kom, ontstaan daar 'n natuurlike drang tot afsondering en uitsluiting. Dit is ingebou deur die skeppingsorde en om daaraan uiting te gee, is om respek teenoor die Skepper te bewys.”

Die beleid van apartheid is nie gekonsipieer of bedoel om ander rasse-groepe te benadeel nie, maar om te verhoed dat hulle ons benadeel en uiteindelik vernietig in 'n proses van vermenging en verswelging.”

“Voorkeurige assosiasie is 'n kenmerk van alle sosiale wesens, en terwyl mense hulle voorkeur kan grond op nasionaliteit, kultuur, klas, taal, godsdiens, intellektuele belangstelling of ras, is ras die mees standhoudende maatstaf, bewus of onbewus, by voorkeurige assosiasie, omdat die sigbare kenmerke van ras blywend, bestendig en op 'n berekenbare wyse oordraagbaar is”.

In die volgende aflewering kyk ons na die praktiese raad wat mnr. Marais gehad het oor hoe om die krisis waarin ons, ons bevind te hanteer.

 

Lees Deel 1 van hierdie huldigingsreeks aan mnr. Jaap Marais by:

http://www.afrikanervolksparty.org/index.php/afrikaner/7107-jaap-marais-man-van-beginsels-deel-1.html

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie