1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
5905448

Besoekers aanlyn

Ons het 105 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

 

jacob zuma sing shoot the boer

 

Teken aan

Afrikaner

JAAP MARAIS – MAN VAN BEGINSELS (Deel 1)

 

Mnr Jaap Albertus Marais (1922 – 2000) was die toonbeeld van ‘n politieke figuur wat met onwrikbare beginsels die stryd in belang van die behoud van sy volk gestry het, gedurende die Jaap Marais Fototydperk vanaf die sluipmoord op dr. Hendrik Verwoerd in 1966, tot en met sy dood in 2000. In die huidige tyd wat die Afrikanervolk hom in die grootste krisis van sy bestaan bevind is dit gepas om die stryd wat hy oor ‘n tydperk van 32 jaar sonder skroom of eiebelang gevoer het, weereens in oënskou te neem en krag en motivering daaruit te put met die oog op die herwinning van ons vryheid. Ons plaas hiermee die eerste aflewering van ‘n huldeblyk aan mnr Marais, wat op die Jaarkongres van die Afrikaner Volksparty in Oktober 2013 gelewer is.

Jaap Marais Man van Beginsels – ‘n Huldeblyk deur Johan Theunissen

  1. 1.Inleiding

Toe ek gevra is om hierdie lesing aan te bied het ek dit aanvaar omdat ek groot respek koester vir die beginselvastheid waarmee Mnr Jaap Marais oor baie jare die politieke stryd vir die behoud van die Afrikanervolk geveg het.

Ek het dit egter ook met groot huiwering aangepak omdat ek hom nie persoonlik geken het en maar slegs enkele openbare vergaderings bygewoon het waar hy die spreker was. Hoe praat ‘n mens oor iemand wat jy nie geken het nie? Dit is slegs moontlik om dit te doen deur dit wat so ‘n persoon gesê en geskryf het en ook deur dit wat hy gedoen het en wat deur die geskiedenis behoue gebly het. Gelukkig was Jaap Marais ‘n vrugbare en ywerige skrywer en het baie van sy werke behoue gebly, alhoewel ‘n sentrale en maklik bekombare versameling daarvan ongelukkig nie beskikbaar is nie.

Die mens is in sy wese verganklik en sy omgaan in hierdie wêreld is vlietend en in tyd en ruimte maar ‘n kortstondige briesie. Die gedagtes en dade van hulle wat uit vaste beginsels spruit en wat handel oor die sake en ideale wat groter as hulleself is, word egter deur die geskiedenis telkens opnuut verfris in die geheues van die nageslagte wat op hulle volg. Dit is in die besonder waar in die geskiedenis van ‘n volk. Om hierdie rede word mense soos byvoorbeeld Hendrik Potgieter, Andries Pretorius, Pres. Paul Kruger, Genls. De Wet, de la Rey, JBM Hertzog, Pres. Steyn, Dr. D.F Malan, J.G. Strydom en Dr. H.F. Verwoerd vandag, na ‘n vergange tydperk van 60 tot 180 jaar, steeds gehuldig vir dit waarvoor Jaap Marais Sketshulle gestaan het en dit wat hulle gedoen het vir die Afrikanervolk. Wanneer oor die toekoms van die Afrikaner gepraat word kan dit daarom onmoontlik gedoen word sonder om die standpunte en dade van hierdie persone uit ons volk se geskiedenis in herrinering te roep nie.

Mnr. Jaap Marais was onteenseglik ook so ‘n leiersfiguur wat deur die geskiedenis, as gevolg van sy beginselvaste woorde en dade, by hierdie gallery van leiers uit die verlede gevoeg is. Al sal die komende geslagte hom nie persoonlik ken nie sal hulle hom steeds kan huldig omdat hy by uitstek ‘n onverskrokke beginselman was.

Vir die doeleindes van hierdie besinning oor mnr. Jaap Marais as man van beginsels gaan ek nie alleen stilstaan by die beginsels waarop hy gestaan en uitgeleef het nie maar wil ek dit ook deurtrek na die situasie waarin ons onself as ‘n volk vandag bevind. Dit wil ek doen omdat dit ‘n sinnelose oefening van slegs akademiese belang sou wees om Jaap Marais as beginselman in herrinering te roep, as ons daaruit nie ook krag, moed en ‘n visie vir die toekoms kan put nie.

  1. 2. Definisie

Om die man Jaap Marais by die begrip beginselman uit te bring is dit eerstens belangrik om duidelikheid te kry oor wat ‘n mens bedoel met gedagtes soos beginsel(s) en beginselman. Verder is dit ook belangrik om vas te stel of die beginsels wat hy gehuldig het in ooreenstemming was met die beginsels wat die leiersfigure uit die verlede van die Afrikanervolk in geglo het en wat die Afrikanervolk gehelp vorm en lei het tot ‘n trotse, gerespekteerde en onafhanklike volk.

Wat is ‘n beginsel? Die woordeboek sê dit is: “ ‘n fundamentele waarheid of proposisie wat dien as die riglyn van ‘n mens se gedagtes, beredenering en optrede”. ‘n Ander definisie sê dat dit " ‘n basiese, onveranderlike kernwaarheid of aanname is".

Dit behoort uit voorgaande duidelik te wees dat beginsels wyd uiteenlopende teenpole sou kon behels en dat dit, dit inderdaad behels. Die liberale humanis huldig tog ook beginsels al sou dit lynreg indruis teen die beginsels wat ons as Afrikaner nasionaliste as basis het.

Beginsels kan uit die aard van die saak van toepassing wees op baie uiteenlopende lewensterreine soos bv. die teologie, kuns, wetenskap, politiek ens. Daar is onteenseglik ook groot oorvleueling in beginsels tussen hierdie verskillende terreine. Vir die doeleindes van hierdie lesing sal ek hoofsaaklik op beginsels soos wat dit op die politieke terrein van toepassing is konsentreer.

  1. 3.Die beginsels waarop Jaap Marais gestaan het.

Ter inleiding sou dit gepas wees om die volgende vraag te stel: Watter grondliggende oorhoofse politieke beginsel het mnr. Jaap Marais gehuldig?

Tydens ‘n TV debat met dr. Wimpie de Klerk in November 1985 stel hy dit as volg:

"Daar is net twee beginselbasisse in die Suid Afrikaanse politiek; 'n nasionale beginselbasis of 'n liberale beginselbasis. Ons stel ons op die nasionale beginselbasis. Die liberale beginselbasis het oral in Afrika misluk en is besig om nou sigbaar in Suid-Afrika te misluk."

Op ‘n ander geleentheid skryf hy:

“Tye verander, ja, omstandighede verander, ja. Maar daar is beginsels wat nie saam of teen die horlosie loop nie. Afrikanernasionalisme se beginsels is tydloos: vaderland, volkskap, vryheid, heldedom.”

Mnr. Marais het deur sy lang en soms eensame politieke loopbaan onwrikbaar bly staan by die beginsels van die volksnasionalisme en dan in die besondere konteks van die volk waaraan hy behoort het, naamlik die volksnasionalisme van die Afrikaner. Die Afrikanervolk is histories sover terug as sy volksplanting in 1652 en deur die verloop van sy 361 jarige geskiedenis bekend as ‘n Christelike volk. Omdat die nasionalisme inderwaarheid in beginsel vanuit die Bybel gegrondves word en omdat ‘n Christelike lewens en wêreld beskouing alle vlakke van ‘n mens se denke en idees deurdring, kan daar ook met stelligheid gesê word dat mnr. Marais se oorhoofse politieke beginsel as Christelik nasionaal getipeer kan word. Daarom dan ook dat hy by geleentheid homself as volg uitspreek:

“’n Mens kan beweeg word om 'n ander godsdiens en taal en tradisies te aanvaar, maar hy kan nie van 'n ander ras word nie. Hy bly ingebind deur sy afkoms en voorkoms. Die begrensing is deur God se skeppingsorde getrek; daaruit kan niemand loskom nie”.

Vanuit hierdie breë oorhoofse beginsel van die Afrikaner volksnasionalisme ontstaan daar ander beginsels wat deur eersgenoemde gefundeer en gesteun word en wat dan ook sy uiteinde vind in praktiese standpunt inname en optrede. Dit kan ook praktiese politiek genoem word en manifesteer homself in reaksie tot daaglikse gebeure en omstandighede. Hieroor kan letterlik boeke vol geskryf word. Vir die doeleindes van hierdie voordrag sal slegs enkeles aangeraak word.

 

In die volgende aflewering in hierdie reeks word die praktiese manifestasies van die Afrikaner volksnasionalisme bespreek.

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie