Afrikaner

DIE AVP BETREUR DIE SUSTERSKERKE SE HUMANISTIESE DWALING EN VERWELKOM DIE INSIG VAN SOMMIGE GEESTELIKE LEIERS IN DIE BE-OORDELING VAN DIE GRONDWET VAN SUID AFRIKA.

Susterskerke In die Seisoen van Menswaardigheid verbind dievier susterskerke hulself omIn die vorige artikel op ons webblad waarin ons ‘n mediaverklaring van 2009 herhaal oor die gesamentlike verklaring wat die drie susterkerke uitgereik het, word daar verwys na die” Grondwet as een van die belangrikste instrumente in Suid Afrika om regverdigheid aan almal te verseker”.

In die AVP se verwerping van die Grondwet sedert sy onwettige aanvaarding en ons deurlopende oproep tot mede Afrikaners om nie deel te neem aan die bestel onder die beheer van hierdie godlose “hoogste gesagsliggaam” in Suid Afrika nie, kom die ontleding van Eben Swart, wat aan die hoof staan van ‘n geestelike bediening, asof dit gestuur is.

Hoewel Eben en die AVP polities waarskynlik nie sal saamstem nie, is hierdie ontleding van hom van die godlose Grondwet van Suid Afrika en die betekenis daarvan, waardevol.

Wee dié wat kwaad goed en goed kwaad noem, wat die duisternis lig en die lig duisternis noem, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee dié wat wys is in hul eie oë en in hulle eie oordeel verstandig is. Jesaja 5: 20-21

Sedert 1996 het Suid-Afrika 'n Nuwe Grondwet - onderhandel te Kempton Park - gegrond op die Handves van Menseregte . Sedert 1996 is hierdie Grondwet die hoogste gesag van Nelson Mandela se "Reënboognasie".

Verder, in 'n land waar 70%+ van sy burgers hulself as Christene beskou, het Suid-Afrika se politieke leiers destyds gekies om Suid-Afrika as 'n "sekulêre staat" te konstitueer - waar die gesag van God Almagtig nie eers in die aanhef tot hierdie selferkende goddelose Grondwet erken word nie.

Die Nuwe Suid-Afrikaanse Grondwet is aan die publiek bekendgestel deur middel van 2 sakgrootte boekies - met die internasionaal erkende simbole van Vrymesselary op hul voorblaaie. In die buiteland het Suid-Afrika se politici gespog met ons "mees moderne Grondwet in die hele wêreld". Sodoende het ons politici en burgers Suid-Afrikaners as "wys in ons eie oë" en "verstandig in ons eie oordeel" geag.

By datum van hierdie skrywe is ons sedertdien nog net 25 jaar onder die gesag van hierdie Grondwet. En Suid-Afrika is tans besig om ernstig uitmekaar te val:

Korrupte politici het die staatskas straffeloos geplunder tot by 'n fiskale krisis. Beurtkrag strem ons ekonomie. Suid-Afrika se monetêre reputasie huiwer op die rand van “Rommelstatus”.

Ons oorvol gevangenisse bars uit hul nate. Die meeste Suid-Afrikaners was al slagoffers van misdaad. Die kloof tussen ryk en arm word steeds groter.

Plattelandse dorpe val uitmekaar as gevolg van lui, korrupte en onbevoegde munisipale amptenare. Rou riool loop in die strate af en besoedel ons riviere.

Ons gesondheids- en onderwysstelsels is in 'n gemors. Slaggate vermink ons padnetwerk en wettelose taxibestuurders vermoor honderde passasiers.

Ons vermoor ons nageslag by die tienduisende deur wettige aborsie. Ons verklaar sekswerk, selfdegeslag-huwelike en die privaatgebruik van dagga wettig, maar kriminaliseer ouers en onderwysers wat rebelse kinders tug en diegene wat hulself teen homoseksuele praktyke uitspreek of amptenare wat weier om selfdegeslag-paartjies te trou.

Die lys gaan aan en aan en aan.

As Suid-Afrika 'n huishouding was, sou sy huis 'n gemors wees. Wie is verantwoordelik?

Die hoogste gesag - die "ouer". Wie is dit? Die godlose Suid-Afrikaanse Grondwet!

Dit het die Suid-Afrikaanse Grondwet ‘n skamele 25 jaar geneem om - ondanks vele goeie bedoelings - die ganse land in ‘n groot gemors te dompel.

So hoe sal Suid-Afrika lyk ná 50 jaar onder sy regering? Of ná 100 jaar?

Die Vader se goddelike, wyse wet sê: Jy mag nie ... Jy mag nie ... Jy mag nie ...

Suid-Afrika se Grondwet - gegrond op die Handves van Menseregte sê: Jy het die reg om ... Jy het die reg om ... Jy het die reg om ...

Onder hierdie grondwet se leierskap skiet Suid-Afrika homself keer op keer in die voet. Ons het selfs die reg om dít te doen! En die menslike natuur sál presies dít doen. Daarom het God gesê: Jy mag NIE ...

Wat is die historiese oorsprong van die Handves van Menseregte?

Hoewel hierdie denkrigting baie verder teruggespoor kan word, was die Handves van Menseregte hoofsaaklik die produk van die Franse Rewolusie - as gevolg van die opkoms van humanisme en sekulêre humanistiese denke. Op sý beurt was dít grotendeels die breinkind van twee goddelose, katolieke vrymesselaar-filosowe: Jean-Jacques Rousseau en Voltaire.

Jean-Jacques Rousseau                                                   Voltaire

Ná die Franse Revolusie (1789) is die eerste konsep-Handves van Menseregte aan die publiek bekendgestel op 'n prent met twee kliptafels – ‘n bra onsubtiele implikasie dat Menseregte van nou af God se Wet vervang.

Humanisme is afgodery. Dit plaas die mens bo God en bokant Jesus.

En so het die godlose Suid-Afrikaanse Grondwet homself bo God verhef. Dit noem dit wat kwaad is goed en wat goed is kwaad:

Via sy Grondwethof-regters leer dit Suid-Afrikaners:

Om hul onwelkome nasate te vermoor.

Om homoseksuele praktyke en selfdegeslag-huwelike te vergoeilik en te aanvaar.

Om sekswerkers en hul praktyke te vergoeilik en te aanvaar.

Om pornografie te aanvaar.

Om gay predikers wat ‘n homoseksuele lewenstyl lei op sy kansels toe te laat.

Dat afgodery 'n fundamentele mensereg is.

Via sy Grondwethof-regters straf die Suid-Afrikaanse Grondwet boonop:

Diegene wat hulle teen homoseksualiteit uitspreek.

Ouers wat hul opstandige kinders wiks.

Onderwysers wat ontwrigtende leerders wat nie wil leer nie wiks.

Mediese werkers wat weier om aborsies uit te voer.

Pastore wat weier om selfdegeslag-pare te trou.

Kerke wat gay pastore weier.

Sedert 1994 bly dit my verstom hoe Suid-Afrikaanse Christene hierdie godlose Grondwet nie teenstaan nie en sy leerstellings klakkeloos aanvaar het. Institusiekerke skitter in hul kruiperige swye. Die grootmond Suid-Afrikaanse pers het die grondwet-kameel ingesluk terwyl hulle geesdriftig muggies uitsif, met hul redakteurs die klakkelose napraters van sy goddeloosheid.

Dis tyd vir 'n duidelike, ondubbelsinnige profetiese boodskap:

As die breinkind van goddelose filosowe het die Mensereg-gebaseerde Suid-Afrikaanse Grondwet homself as goddeloos bewys: Deur kwaad goed, en goed kwaad te noem - en daardeur die vloek van God op homself en sy mense te haal. Dit kan nooit as 'n gids vir Godvresende mense dien nie.

Dit kan slegs gehoorsaam en gerespekteer word in soverre dit nie God se ewige, wyse wet oortree nie – dié wet wat geskryf is op die vleestafels van die harte van Christene wat as gelowiges deur onderdompeling gedoop is. Hierdie wet is ons gids vir die lewe - vertolk deur ons inwonende Rabbi, die Heilige Gees - wat ons in die volle waarheid lei.

Wanneer ookal die SA Grondwet goed kwaad noem, moet ons goed goed noem. En wanneer ookal die SA Grondwet kwaad goed noem, moet ons kwaad kwaad noem. Wanneer ookal hierdie grondwet ons straf wanneer ons goed doen, of wanneer ons kwaad kwaad noem, moet ons dit ten sterkste teenstaan.

Die Skrif leer ons dat 4 spesifieke soorte sonde 'n land besoedel:

1. Onregverdige bloedvergieting.

2. Afgodery.

3. Seksuele onsedelikheid.

4. Verbreekte Verbonde.

Vanuit hierdie 4 wettig die SA Grondwet die eerste 3 én moedig dit aan.

En die SA geskiedenis is deurspek van skuld ten opsigte van nr. 4.

Sodra 'n land só besoedel is, beteken dit dat dit vervloek is.

Dit maak nie saak vir wie jy in die komende verkiesing gaan stem nie - dit sal geen snars verander aan die SA Grondwet nie. Politieke partye en politici is nie ons probleem nie. Ons grondwet het ‘n vloek op hierdie nasie gehaal - want ons was wys en slim in ons eie oë toe ons dit in Kempton Park onderhandel het.

Daar is net een oplossing: BELY!

En bid dat God ons genadig sal wees.

In Christus

Eben Swart

Gebed:

Here Jesus

Ons, die mense van Suid-Afrika, het gesondig. Ons was wys in ons eie oë toe ons U en U wysheid verwerp en die hooghartige doktrines van sekulêre humanisme in ons hoogste gesag (ons Grondwet) ingenooi het:

Intussen het hierdie Grondwet met sy goddelose beginsels verander in 'n wreedaardige en ondraaglike tiran. Dit maak dat U U aangesig verberg vir ons bloedbevlekte, korrupte en gewelddadige nasie. Dit laat elke bose gees ons pynig. Ons erken dat ons hierdie kwaad op onsself gehaal het met ons trotse en gierige aard.

Vergewe asseblief ons nasie vir ons onregverdige bloedvergieting, afgodery, seksuele onsedelikheid en verbreekte verbonde. Vergewe asseblief ons minagting vir u wysheid en ons bewondering vir ons eie. Moet asseblief nie U toorn teen ons laat ontvlam nie, maar wees ons genadig.

Ons, U navolgers onder hierdie volk, aanbid U as ons Verlosser en Eienaar. Wees ons asseblief genadig.

Amen.