Afrikaner

‘n NUWE GEES. . . ...DIE GEES VAN HEILIGHEID

Eségiël 11:1:25

En Ek sal hulle een hart gee, en n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle n hart van vlees gee, sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen; en hulle sal vir my n volk wees, en Ek sal vir hulle n God wees. (:19&20).

Alhoewel die HERE in hierdie gedeelte verwys na n nuwe gees is die verwysing na die hart nie ook as n nuwe hart nie, maar as een hart. En dit is nie sonder rede dat Hy dit só stel nie. Één hart sou beteken n hart wat aan Hom getrou is. Dit is natuurlik die teenoorgestelde van dubbelhartigheid of n hunkering op twee gedagtes. Die Here het n behae daarin om met getrouheid en met n opregte hart gedien te word en dubbelhartigheid is in Sy oë verfoeilik. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie so n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë. (Jak. 1:7&8). Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! (Jak. 4:8). En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! ... (1 Kon. 18:21).

Dit is n hartseer stelling om te maak, maar dubbelhartigheid is ongelukkig nie n ongewone verskynsel in die lewens van baie Christene onder ons volk nie. Daar is soveel Christene wat die Here sal soek in tye van beproewing en hartseer, maar in tye van voorspoed word Hy in hul lewens op die agtergrond geplaas. In tye van voorspoed word Hy nie getrou gedien en gehoorsaam nie. Daar is soveel Christene onder ons wat gereeld kerk toe gaan, want dit is hoedat hulle grootgeword het. Dit is die regte ding om te doen. Ongelukkig is daar van Maandag tot Saterdag in hul woorde en lewens weinig te bespeur van dit wat hulle veronderstel was om Sondag by die kerk te gehoor het.

Daar is in ons tyd net soveel Christene wat die Here graag wil dien, maar nie bereid is of die begeerte het om sekere sondes in hul lewens te laat staan nie. Hierdie pasifistiese Godsdiens is aangehelp deur dwaalleraars wat verkondig dat Jesus jou liefhet en aanvaar nes jy is. En dat Hy jou nie wil verander nie selfs al is jy n homoseksueel, selfs al is jy verslaaf aan dwelms, pornografie of watter ander euwel ook al jy kan kwansuis so ongewas van jou sonde bly! As hierdie kettery waar is, waarom beloof God aan sy volk n nuwe gees? As Hy met die besoedelde en vuil gees tevrede is en dit nie wil verander nie waarom die belofte van n nuwe gees? Hy is só ontevrede met ons besoedelde en sondige gees dat Hy dit nie alleen wil verander nie. Nee, Hy verwag dat dit moet sterf en heeltemal tot niet gemaak moet word. Hy verwag dat ons dit moet doodmaak in die gees om sodoende deur Hom lewend gemaak te word in n nuwe Gees van heiligheid! ...Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in n nuwe lewe kan wandel.   (Rom. 6:2-4).

Die nuwe Gees wat God beloof aan Sy volk wat Hom wil dien en gehoorsaam, word vir ons mooi in Romeine 8 beskryf. Dit is die Gees van heiligheid die Gees van God self wat ons deel geword het deur Jesus Christus se gehoorsaamheid aan die Vader. Dit is hierdie Gees wat ons van sonde oortuig. En waarom sou die Gees ons maar net van sonde oortuig sodat ons maar net daarvan bewus kan wees? Wat op aarde sou die doel daarvan wees n alewige skuldgevoel, minderwaardigheid, ontoereikendheid en vrees vir moontlike straf? Dit klink nie vir my na God se handewerk nie! Ek weet nou van die sonde in my lewe, maar wat daarvan? Leer Jesus Christus ons dan nie om te bid om van die Bose verlos te word nie, m.a.w. vra ons nie vir God om ons van hierdie sonde vry te maak nie? Dit is hierdie selfde Gees van God wat met krag in ons lewens werk om die mag van sonde te weerstaan en te oorwin. Dit is hierdie Gees van krag, liefde en selfbeheersing wat ons moet koester en toelaat om in ons lewens te werk en heerskappy te voer sodat ons harte ook aan God getrou sal wees. Want God het ons nie n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. (2 Tim. 1:7).

Hierdie Gees van heiligheid is die Gees wat ons bystaan om al daardie verfoeisels en gruwels uit ons harte en lewens te verwyder. En hulle sal daarnatoe kom en al sy verfoeisels en al sy gruwels daaruit verwyder. (Eség. 11:19).   Hy oortuig ons nie om daarmee vrede te sluit nie Hy oortuig ons om dit uit ons lewens uit te verdelg omdat Hy, as n heilige God, die troon van ons harte nie met ons afgode sal deel nie.

Ek groet u met die heilwense uit Hebreërs 13:20&21: MAG die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.