Afrikaner

SOU ONS IN SY WET WANDEL?

BybelExodus 16:1-36

Toe sê die HERE vir Moses: Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën; dan kan die volk uitgaan en die dagmaat van elke dag insamel, sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie. (:4).

Toe sê die HERE vir Moses: Hoe lank weier julle om my gebooie en my wette te onderhou? (:28).

Wanneer ons lees van God wat sy volk beproef, blyk dit amper asof die Woord dubbelsinnig is. God leer vir ons dan dat Hy niemand sal versoek nie. Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. (Jak. 1:13). Ons moet egter weet dat daar bepaald n verskil tussen versoeking en beproewing bestaan.

God sal nooit n mens versoek om sonde te doen nie. Hy sal ons nooit verlok om aan Hom ongehoorsaam te wees en teen Hom te sondig nie. God sal egter menigmaal die egtheid van ons geloof op die proef stel. Dink maar gerus aan Abraham wat deur God beproef is om die egtheid van sy liefde vir God en die omvang van sy geloof te beproef. En Abraham se optrede getuig van sy standvastige geloofsvertroue. En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam van die brandoffer voorsien, ... (Gén. 22:8). Abraham tree op so n wyse op in hierdie beproewing dat sy dade in der waarheid van sy geloof getuig. Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon. (Jak. 2:18).

Ons lees in die gedeelte in Exodus 16 dat God aan Israel hierdie wonder van die kwartels en manna doen juis sodat Hy hulle kan beproef of hulle aan Hom gehoorsaam sal wees, al dan nie. Hy sê aan hulle dat Hy vir hulle hierdie voedsel sal voorsien en voorsien daarmee saam n voorskrif oor die insameling daarvan. Hierdie voorskrif rondom die insameling was ook die toets van hul gesindheid teenoor Hom. Sou hulle uit dankbaarheid aan Hom eer betoon? Nee, Israel misluk klaaglik in die nakoming van hierdie voorskrif van God.

 

God het dan ook etlike jare later die ware brood uit die hemel laat neerdaal. Christus het as mens op aarde ook die insettinge van God kom leer en hiermee die mensdom met die brood van die lewe gevoed. En was die Jode in Sy tyd op aarde eerbiedig aan Hom gehoorsaam of het hulle God weereens deur hul ongehoorsame optrede geminag?

Ons staan duisende jare later terug en dink dat as ons in die volk Israel se skoene was ons anders sou optree. As ons darem die wonderwerk kon ervaar van kwartels en manna wat vir soveel mense in hul honger voorsien, sou ons geglo het en God se voorskrif noukeurig nagekom het. Ons verag die Jode wat Christus aan n vloekhout opgehang het en dink maklik dat ons Hom sou eer en nagevolg het as ons in daardie tyd geleef het.

 

Maar tog is die neiging in ons dae maar eenders as in die geskiedenis. In plaas daarvan dat mense in nederige ootmoed aan God se insettinge onderdanig is, is daar allerhande verskonings waarom dit nie nagekom word nie.

Tye het dalk verander, maar Christus het nie. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. (Heb. 13:6). En ongelukkig het die mens ewe min verander, want soos in die dae van Israel in die woestyn, soos in die dae van die Jode wat Christus gekruisig het, is die mens van vandag heeltemal te mensgerig. Die Woord van God moet plek maak vir dit wat by die omstandigheid inskakel in plaas daarvan dat die omstandigheid aan die wil van God onderwerp word.

 

Die nakoming van God se insettinge en verordeninge is nie per sé wettisisme nie. Ja, om slaafs God se gebooie na te kom met n swaarmoedige hart en skynheiligheid is vir God nie aanneemlik nie. Maar ons moenie dink dat dit n sonde is om God se gebooie na te kom nie, want n mens kan nogal hierdie indruk kry uit sommige leringe van hedendaagse predikers. n Mens wat uit liefde, respek en eerbied vir God verlang om sy gebooie te onderhou en na te kom, sal ook deur God geëer word. Die Woord leer vir ons dat God eer diegene wat Hom eer.  ...want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees. (1 Sam. 2:30).

Die Afrikaner bevind homself vandag in n posisie waarin daar n onderskeid getref word tussen diegene wat Hom wil dien en diegene wat Hom nie wil dien nie. Die besluit berus ook vanoggend by my en by u of ons in die weë van die onveranderlike, ware, lewende God wil wandel of na die begeerte van ons eie hart.