Afrikaner

DIE AARDE BEHOORT AAN DIE HERE

Bybel1 Kor. 10:23-33

Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan. (:26).

Hierdie waarheid word in vers 28 weereens beklemtoon. En dit is ook Dawid wat in verse 1 en 2 van Psalm 24 dieselfde getuienis lewer. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want Hý het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.

Ons is geneig om maklik van hierdie kern waarheid te vergeet. En nog makliker gebeur dit in n mensgerigte wêreld waar die mens die hoofsaak geword het en God in sommige gevalle n bysaak geword het; óf in sommige gevalle sommer heeltemal in die agtergrond verdwyn het. Maar wat bedoel ek met laasgenoemde? Daar is dan nog baie kerke en mense praat gereeld oor Bybelse dinge. Dit mag dalk waar wees. Maar het u al opgelet waar die fokus lê? Is daar werklik n opregte en dringende soek na die wil van God? Of het die meeste godsdienste van ons tyd n oppervlakkige sprokiesverhaal godsdiens geword? Die god in my verhaal kan en sal alles op my bevel uitvoer ongeag hoe my verhouding met Hom lyk. Die god in my verhaal wat niks anders as n afgod is nie omdat dit my eie beeld van God is waarin ek eerder glo as die God wat Homself deur Sy Woord aan ons openbaar.

Hoe weinig hoor ons nog mense wat vra na die wil van God en wat selfs tot opoffering bereid sal wees om aan Sy Woord gehoorsaam te wees? Leef ons soos mense wat erken dat die aarde en die volheid daarvan en ook almal wat daarin woon aan God behoort? Dit behoort mos n lewe te wees waarin ek deurgaans tot diens bereid is eerder as om te probeer optree as iemand wat aan God bevele kan uitdeel of eise kan stel. Dink maar aan God se optrede teenoor Job wat homself as regverdig beskou het en God se regverdigheid in twyfel getrek het. Hy wat dit duidelik aan Job gestel het dat Hy wat God is die aarde gegrond het en sy afmetinge bepaal het. Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. Wie het sy afmetinge bepaal? jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? (Job 38:4-6).

God het vir Job daaraan herinner dat dit Hy is wat aan die see sy grens gestel het en dat selfs die groot watermassa aan Hom onderdanig is en gehoorsaam is aan Sy bevele. Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het; en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word n grens gestel vir jou trotse golwe. (Job 38:11&12). En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het n groot stilte gekom. En n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is! (Markus 4:39&41).

Daar was van meet af aan een wese in hierdie skepping wat homself nie aan God se gesag wou onderwerp nie die satan. En Hy is gevolglik uit die hemel neergewerp. Sedertdien is hy daarop ingestel om dit wat God goed geskape het en wat aan Hom behoort - te vernietig. Hy probeer deurgaan om te verwoes, te vernietig en te plunder. Hy weet dat die aarde nooit aan hom sal behoort nie, maar tog weet hy dat hy n al groter wordende heerskappy hier op aarde voer. En hy sal aanhou met sy vernietigingswerk tot die finale dag van oordeel aanbreek. Dan sal hy wat satan is in die poel van vuur gewerp word. Daardie dag waarop God sal opstaan omdat die aarde en die volheid daarvan deur sy ongehoorsaamheid aan God só verdorwe geraak het dat Hy dit totaal en al met vuur en swawel sal vernietig.

Maar wat staan my en u te doen? Moet ons in sak en as gaan sit en swartgallig ons lot beklae in hierdie bedorwe wêreld? Moet ons leef soos mense wat geen hoop het nie en alreeds die stryd verloor het en handdoek ingooi? Allermins! Ons moet leef as die sout van die aarde soos mense met n vaste oortuiging dat die aarde en die volheid daarvan aan God behoort. En hiervan oortuig, moet ons probeer om in ons optrede dit wat die satan breek, te herstel. Dit wat die satan vernietig, moet ons heelmaak. Die leuens wat die satan verkondig moet ons met die waarheid weerlê. Die onmin, twis en haat wat die satan aanblaas moet ons tot bedaring bring sodat ons as vredemakers die naam van God se kinders waardig kan wees.

Ons moet al hierdie dinge doen sonder om die eer van mense te soek. Ons moet hierdie dinge doen sonder om na die dank, erkenning en guns van mense te verlang. Ons moet hierdie dinge doen met n hoop en reikhalsende verwagting op die wederkoms van ons Heer en Meester wat aan elke dienskneg van Hom n regverdige en getroue loon vir sy arbeid sal gee. En meer as n regverdige loon sal Hy ontvang wat getrou bevind mag word hy sal ook sy deel ontvang in die nuwe hemel en die nuwe aarde wat van God uit die hemel sal neerdaal. Daardie nuwe hemel en nuwe aarde wat ook aan Hom sal behoort en waarin Sy heerskappy ewigdurend sal wees!